EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Die berghaan broei ’n wenverhaal…
Produksie: Woordfees-kortverhaalwedstryd
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Golda Simmers; verskaf
Die hoofprys van R30 000 in die Woordfees se jaarlikse kortverhaalwedstryd is Saterdagaand toegeken aan die kortverhaalskrywer en wynbemarker Emile Joubert (61) van Kaapstad vir sy magies-realistiese verhaal “oor ’n seuntjie en sy voël”.
Emile Joubert se kortverhaal “Die berghaan het sy seer laat val” verskyn saam met 21 ander in vanjaar se bundel, oudergewoonte met dieselfde titel as die feestema, Speel. Die skrywers van die ander verhale ontvang elkeen R5 000 danksy ’n ruim borgskap van EasyEquities.
Vanjaar se bundel, die negende, is saamgestel deur die beoordelaarspaneel, wat bestaan het uit die skrywer Valda Jansen, die akademikus en vertaler Marius Swart en die skryfmentor en redakteur Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert die begin van die projek in 2016 die sameroeper van die keurpaneel is.
Kotzé-Myburgh het in haar toespraak gesê altesame 368 inskrywings is ontvang en streng anoniem beoordeel. Sy het die subtiliteit, verrassende temas, goeie slotte en sosiale kommentaar van die inskrywings uitgesonder.
“Die EasyEquities Skrywersfees is steeds die hart van die Woordfees en die kortverhaalkompetisie die juweel in die Woordfeeskroon,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, wat die bundel beskryf as ’n “literêre en humanitêre tydsdokument”.
Joubert, wat in 2020 ook die kortlys gehaal het, het in ’n kort onderhoud met INK gesê hy is dankbaar vir die aansporing en platform waarsonder hy waarskynlik nie die storie sou skryf nie.
“ ’n Goeie vriend in die wynbedryf, Danie de Wet van De Wetshof, het chardonnay in Suid-Afrika gevestig en sy De Wetshof Bateleur Chardonnay tel onder die heel bestes. Die saadjie vir my storie is geplant toe BirdLife SA aankondig die berghaan (Terathopius ecaudatus) is gekies as voël van die jaar vir 2024, en ek besef het ek het nog nooit een van dié voëls met hulle kenmerkende swart en wit vere en bloedrooi gesig en snawel in lewende lywe gesien nie… net daar het ’n storie in my verbeelding ontstaan oor ’n arend en ’n seun wat albei smag na vryheid.
Al verkoop kortverhale nie wonderlik nie – nugter weet hoekom – was die kortverhaal nog altyd ’n sterk deel van die Afrikaanse letterkunde.
“Ek stel belang in die natuur en die onbekende, en die mitiese invloed van die natuur en diere. Daarom het ek begin oplees oor dié bedreigde spesie wat dikwels in elektrisiteitsdrade of die lemme van windplase tot hulle einde kom. Omdat hulle ook aasvoëls is, vrek hulle dikwels as hulle aan karkasse vreet wat vergiftig is.”
Joubert sê sy kortverhaalrolmodelle is Elsa Joubert, Abraham H. de Vries, Koos Prinsloo, Etienne van Heerden en Zirk van den Berg.
“Al verkoop kortverhale nie wonderlik nie – nugter weet hoekom – was die kortverhaal nog altyd ’n sterk deel van die Afrikaanse letterkunde. Ek dink nie ek het al ooit ’n Engelse kortverhaal gelees wat ek kan onthou nie,” sê hy.
Joubert, wat op laerskool begin skryf het, het reeds drie solokortverhaalbundels op sy kerfstok: Die aptyt van Anna Blow (2000), Kouefront (2007) en So byna blou (2020). En dan het hy ook ’n bundel visvangstories, Vir vis en vaderland (2005) onder die naam Tim Uys uitgegee.
Speel en van die vorige jare se bundels is gedurende die fees by by die Woordfees-kantoor én die ATKV-boekwinkel by die US-museum te koop teen R300; daarna by uitgesoekte takke van Exclusive Books.