TONEEL

Die duur prys van beloftes

Produksie: Gas
Skrywer: Jo-Ann Floris
Fotograaf: Pierre Rommelaere 

Beloftes. Beloftes wat skuld maak. Soms beloftes wat láát skuld maak. En soms… net leë beloftes. Dít is die dilemma van die verarmde gemeenskap van Alexanderbaai in die Richtersveld. 

Sommer vroeg in die toneelstuk Gas slaan die tekens deur van bedreig voel: Wanneer ’n mens min het, waak jy jaloers oor daai bietjie, en enigeen wat dit naby waag, bring bedreiging.

Maria is ’n kluisenaar, al maak sy haar bestaan uit die see. Sy het mense wat vir haar werk – die vis vang en skoonmaak. Sy self het jare lank nie ’n voet by die voordeur uitgesit nie en slaan in koue angs uit elke keer as sy die voordeur selfs op ’n skrefie moet oopmaak.

Sy kry al haar nuus uit die koerant en die draadloos. Al is sy vasgekeer tussen die mure van haar grootwordhuis, het dít wat buite die deur afspeel, ’n direkte uitwerking op haar en haar gemeenskap.

Die vissers is kwaad vir die zama-zamas – onwettige myners – wat hulle voel hulle bestaan bedreig. Kwaad vir die goewerment wat anderkant toe kyk, maar die gemeenskap aan hulle eie genade oorlaat ten spyte van beloftes van voorspoed.

Nou kom die regering wéér met vet beloftes: Teken net hier dan is al julle geldprobleme en swaarkry en werkloosheid verby. Weg, soos die vis en seelewe wanneer hulle gaan begin eksploreer en gas ontgin en die vissersgemeenskap se voortbestaan kortknip. Maar daai deel vertel die grondsakemense nie. Hulle swaai net die geldwortel voor die neus van ’n honger gemeenskap.

Maria se broer Dawid is die een wat die geldwortel kom swaai met beloftes van die haweontwikkeling. Hy is immers ’n kind van die gemeenskap, al is hy jare gelede al daar weg. En só begin die stryd tussen goed en kwaad, lig en donker en al die skakerings tussenin.

Soos die storie ontknoop, word dit duidelik niemand is net reg of verkeerd nie, maar die lewe maak dat daar soveel lae op mekaar loop en selfs die slegte ou ook goed doen.

Gas verwoord elke gemeenskap wat by hierdie kruispunt staan en wat in die eerste plek nooit in ’n situasie moes wees waar hulle moet kies tussen nou die maag volmaak of om te sorg dat ’n volgende geslag kan deel in die opbrengs van die land en see nie.

Dit is ongelukkig ’n wrede werklikheid, en ’n onmenslike keuse om aan desperate mense te stel.

Intussen woed daai stryd buite in die gemeenskap, maar ook binne die huis waar Dawid ná al die jare weer sy vervreemde suster in die oë moet kyk. Die ontmoeting swaai tussen vreugde en verwyt en agterdog.

Die see het hulle ouers en Maria se verloofde gevat, en toe het die lewe haar kom toesluit hier in haar ouerhuis terwyl haar broer Kimberley toe is. Hierdie dinamika beur-beur al tussen die ander groot kwessie van die haweontwikkeling in.

Hierdie dinamika beur-beur al tussen die ander groot kwessie van die hawe-ontwikkeling in

Maria het daar tussen haar vier mure die somme sit en maak terwyl haar broer op die draadloos vertel van die miljoene der miljoene wat mense betaal gaan word om hulle grond aan die goewerment te “verhuur”.

’n Lieflike bedrag, daardie miljoene, tot ’n mens begin deelsomme maak en besef dis maar sente wat uiteindelik na die gemeenskap toe kom. Waarheen gaan die regte miljoene? Nou ja, dis die regering en maatskappye wat die sakke kan volmaak.

Soos in Gas (’n enkele woord wat uiteindelik heel nuwe betekenis kry aan die einde van die stuk) word gemeenskappe uitmekaargeruk en families verdeel in die naam van vooruitgang. Niemand se hande is skoon nie.

Die stuk besluit nie vir jou wie is reg en verkeerd nie. Dit besluit nie vir jou wie is sleg of goed nie. Nog minder besluit dit vir jou wat mense moet kies.

Wat dit wel doen, is om jou ongemaklik te laat rondskuif, want waar dit aan die begin so maklik en duidelik was wie is reg, vervaag dit mettertyd. Dan bly net jy en jou eie kompas oor.

Jill Levenberg en Elton Landrew gee waarlik meesterlik gestalte aan die broer en suster wat so haaks is met mekaar, al stoei hulle ook albei eintlik met dieselfde demone. En die regisseur, Dean Balie, wat self erkenning geniet as uitstaande akteur, lei die storie met ’n sagte hand, sodat Maria en Dawid tot hulle reg kom. 

Elke mens wat al ooit moes kies tussen lig en donker, wat weet weet hoe kompleks daai besluit kan raak, sal aanklank vind by die stuk. Vir sommige is dit so groot soos die hawe-ontwikkeling; vir ander meer persoonlik maar op skaal ewe belangrik. Die stuk, geskryf deur Geralt Cloete, slaag daarin om al daardie dinge los te maak omdat dit kwessies aanraak wat geen gesin gespaar bly nie.

Dit breek daai einste mure af wat Maria gevange hou en skop daai deur wat die wêreld buite hou, wawyd oop. Wat jy dan sien, is jouself en jou eie daaglikse stryd.

Gas
30 SEPT 13:00
60 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R180 | R210 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn