KLASSIEKE MUSIEK

Agt tjello’s sorg vir vuurwerk

Produksie: 8 Cellos in Concert
Skrywer: Naudé van der Merwe
Fotograaf: Mark Cloete

Agt tjellos is vir sommige mense dalk sewe te veel, maar vir die entoesiastiese Woordfeesgangers wat die Endlersaal 11:00 op ’n Sondagoggend volgepak het terwyl dit buite hael (wat gaan aan met hierdie weer?!), was dit net genoeg. Dít kon ’n mens uit die dawerende applous aflei.

Hierdie agtal, wat bestaan uit Peter Martens, Chris Njapha, Dane Coetzee, Rosamund Ender, Matthias Ender, Edward McLean, Ashlin Grobbelaar en die Suid-Koreaanse virtuoos Gunwoo Park, het ’n uiteenlopende program aangebied, en ámper die perfekte feeskonsert aanmekaargesit (dit was dalk net effens te lank). Park is deur die Koreaanse kulturele sentrum na SA genooi en toer tans hier. En daarvoor kan ons baie dankbaar wees. 

Dit het wel so hittete begin met ’n verwerking van die prelude tot Grieg se Holberg-suite, maar toe die agt mekaar eers vind, omtrent halfpad deur hierdie eerste stuk, was dit ’n skouspel. Die werke en verwerkings vereis verskillende aantal spelers – soms vyf, soms ses, soms sewe, en dan natuurlik ook agt – maar deurgaans het hulle met vryheid gespeel, na mekaar geluister, mekaar soms in die oë gekyk, geglimlag en só selfs die mees gespanne gehoorlede ook gemaklik laat voel.

Die uitdrukking “musikale reis” is al so geyk, maar hoe anders beskryf ’n mens al hierdie dinge: nostalgiese versugting deur middel van ’n Suid-Koreaanse volksliedjie en ook “Op my ou ramkietjie”, tegniese vuurwerk met Rimsky-Korsakov se “Flight of the Bumblebee” en Kaiser-Lindermann se Bossa Nova-klanke, die Brasiliaanse kleure van Villa-Lobos, treffers uit Bizet-operas, The Beatles se “Yesterday”, musiek van die plaaslike komponis Allan Stephenson, Rachmaninoff, en ook  die bekende “Kol Nidrei” van Max Bruch?

“Kol Nidrei” is een van daardie stukke wat op ’n tegniese vlak seker “maklik” is. Veral in jeugmusiekkompetisies en eisteddfods is dit ’n gunsteling onder jong tjelliste, met die gehalte van pogings wat hemelsbreed verskil. Maar ek dink nie ek het dit al ooit gehoor soos Gunwoo Park dit uitgevoer het nie. Nie net lyk dit of hy ’n K-Pop-ster kan wees nie, maar dié soort inherente musikaliteit kan ’n mens nie aanleer nie. Dit alles sorg vir ’n onvergeetlike ervaring.

Nie net lyk dit of Gunwoo Park ’n K-Pop-ster kan wees nie, maar dié soort inherente musikaliteit kan ’n mens nie aanleer nie. Dit alles sorg vir ’n onvergeetlike ervaring

Die res van die ensemble kon maklik by hom kers vashou. Rosamund Ender se solo gedurende ’n verwerking van die aria “Je crois entendre encore” uit Bizet se opera Die pêrelvissers was ook roerend. Vir Rachmaninoff se “Vocalise”, en Villa-Lobos se “Bachianas Brasileiras No 5”, en uiteindelik “Op my ou ramkietjie” het die sopraan Frances van Vuuren die tjello’s goed vergesel. 

Dié instrumentkombinasie is uiteraard geïnspireer deur die 12 tjelliste van die Berlynse Filharmoniese Orkes wat in die jare sewentig bekendheid verwerf het. Hierdie oktet van Kaapstad sit die tradisie met groot sukses voort.

 

8 Cellos in Concert
29 SEPT | 11:00
80 min | Endlersaal
R150-R210 | R180-R240 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn