EASYEQUITIES SKRYWERSPROGRAM
Vet pret met die drag queen en die drag tannie...
Produksie: Tollie Parton & Greetje Appelmoes
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Die komediante Casper de Vries en Wynand Kotze snoer vanjaar kragte saam. MARINA GRIEBENOW het aan hulle ’n paar vrae gestel.
CASPER DE VRIES
Casper, jy het in Junie vanjaar die groot 60 gehaal. Sommiges beskou dit as ’n mylpaal en ander as ’n pyn. Wat is jou gevoel daaroor?
Om 60 te word is beslis ’n mylpaal. Vir party mense is dit ’n “huilpaal”, maar dis ’n ding wat ’n mens moet verduur. Nie veel het verander nie. Ek loop net moeilik, want ’n bosluis het my gebyt en ek suffer nog die gevolge daarvan. Ek voel goed. Ek dink mense het darem ’n bietjie meer respek as ’n mens ouer is. Nie soseer net vir my nie, maar vir ouer mense in die algemeen. Ek vat nou elke dag soos hy kom en lééf hom.
Jy was oor die jare nie juis ’n feesflerrie nie. Wat maak vanjaar se Woordfees anders?
Ek wás darem by die feeste – eintlik by almal, dink ek. Ek is nie eintlik baie lief vir hulle nie, omdat dit so ’n vinnige storie is: Vinnig intrek, doen jou ding, en dan is daar nog vyf ander produksies daardie dag wat in dieselfde venue moet optree. Dis nogal ’n worsmasjien.
Ek is gewoonlik in die genre stand-up comedy. Ons vervaardiger en regisseur, Carien Loubser, het gedink dis miskien ’n oulike idee dat ons vir Greetje Appelmoes en Tollie Parton saam in ’n vertoning sit en dit by die Woordfees aanbied. Dit was alles haar idee. Ek het gedink die voorstel het meriete en kan werk.
Ek ken nie juis vir Wynand goed nie – ons moes dus versigtig bymekaarkom, voetjie vir voetjie, besluit of dit goed genoeg is en of ons aangaan of nie. Ons het dit ronde vir ronde benader en nou is daar ’n show – een waaroor ek baie opgewonde is.
Jy was deur die jare nooit bang om die mes ’n bietjie dieper in te draai nie, tot die irritasie van net soveel mense as diegene wat die sale volgepak het. Wanneer het hierdie gety gedraai, en het dit enige invloed gehad op jou besluit om in 2013 amptelik die stand-up-aspek van jou optredes vaarwel toe te roep?
Ek sien jy gebruik die woord stand-up. Ek is bly. Hou dit asseblief so. Skerpskerts is ’n mooi woord in lessenaar-Afrikaans, maar ek is nie iemand wat dit besig nie (as ek nou mooi Afrikaans mag praat).
Ek was altyd oorbluf deur die gewildheid van wat ek doen. Ek dink baie Afrikaanse mense het dalk nie mooi geluister nie, maar nou ja… Vir my was dit iets wat moes gebeur en iets wat ek absoluut nugter aanvaar en ervaar het. Ek het daarna, rondom 2015, 2016, nog ’n bietjie shows gedoen – jy kan mos nie die shows uit die mens haal nie!
Maar daarna het ek my toegespits op sketskomedie vir TV. Maar ook dit was glad nie gewild onder die Afrikaanse kykers nie. Hulle het gedink dit kom reguit uit die hel! Ek moet sê ek was nogal ontnugter daardeur, maar dis die lewe.
Deesdae is ek minder opsigtelik met wat ek doen, maar die mense kom in elk geval na my toe, en dan is dit: “Lekker om jou te sien!” of “Dankie vir wat jy gedoen het” en “Jy was ’n baanbreker.” Pragtige woorde wat ek nie noodwendig kop toe vat nie. Maar as ek daarna luister en is dankbaar daarvoor. Soos jy sê: Die gety het gedraai.
Die probleem met Greetje vir hierdie show was dat sy nog altyd net ’n paar minute lank was in my one-man shows – nooit in die hele show nie. Met hierdie show het ek gesê ‘kom ons kyk of Greetje ’n langer lewe kan hê’.
Waar het jy en Wynand mekaar raakgeloop? En hoeveel van die nuwe show is stand-up – of het julle ’n vaste teks en regisseur?
Ek het die eerste keer van Wynand te hore gekom op die internet êrens. Hy is groot op TikTok. ’n Paar jaar gelede – nog voor hy Tollie gedoen het – het hy ’n onderhoud met my gedoen. Eers later kom ek toe agter hy doen drag. Hoe sê ’n mens nou weer op Afrikaans? O ja, hy fopdos.
Ek moet erken ek het nog nooit ’n show van Tollie gesien nie, maar ek het wel gehoor daarvan. Toe kom Carien en sê Tollie en Greetje saam kan ’n prettige affêre wees…
Ons het mekaar op Knysna gekry waar ons na raakpunte gesoek het. Carien het gesê “praat ’n bietjie hieroor” of “praat ’n bietjie daaroor”, en dis hoe al die onderwerpe bymekaargekom het. Daar is elemente van stand-up, maar dit is meer Wynand se storie.
Die probleem met Greetje vir hierdie show was dat sy nog altyd net ’n paar minute lank was in my one-man shows – nooit in die hele show nie. Met hierdie show het ek gesê “kom ons kyk of Greetje ’n langer lewe kan hê”.
Dis nie ’n baie diep show nie. Daar is wel dieper dinge, maar soos met enige satire of humoristiese show is die dieper dinge onderliggend. As jy dit wil hê of sien, kan jy dit gebruik; anders kan jy dit ignoreer en net die lawwigheid geniet.
Wat het jy en Wynand in gemeen as komediante, en is daar enige verskille waaroor julle moes onderhandel – wat bly en wat gly?
Ek het onmiddellik besef Wynand is baie intelligent. Ek hou van slim mense. Ons humor is ook relatief dieselfde, selfs al is hy van ’n jonger geslag.
Nee, ons het nie onderhandel nie. Ons het elkeen gaan sit en gedagtes neergepen, en dan het ons bymekaargekom en besluit wat ons gaan gebruik en wat nie. Ons samewerking het baie natuurlik gevloei.
Wat is die sterkste eienskap of kwaliteit wat jy na julle vertoning bring? En wat is volgens jou Wynand s’n?
Wat Greetje betref, is my bydrae om te onthou dat sy ’n lawwe tannie is. Ek onthou dan maar altyd dat my ma die impetus vir die karakter was. Die invalshoek van die vertoning is dat Tollie Parton ’n geselsprogram het en een van haar gaste is Greetje. Tollie is baie ingenome en opgewonde om haar as ’n gas te hê. Die vroutjie met die snaakse vlegsels is al jare lank ’n randfiguur in die Suid-Afrikaanse komediewêreld, en dalk is dit vir die gehoor interessant om meer oor haar te leer, soos waar sy nou eintlik presies vandaan kom, ensomeer.
Dít is wat die vertoning is: Dis ’n geselsprogram van Tollie Parton en haar gas is Greetje – met al haar skete en kwale en plooie en gewoontes en liedjies.
Laastens: Is Greetje Appelmoes ’n ‘drag queen’ soos Tollie Parton of net ’n minlike Hollandse tannie? Wat dink sy van Tollie Parton?
Dis hier waar die vertoning ’n interessante kinkel kry. Op die keper beskou, ís dit natuurlik ’n drag show, want ons is albei mans in ’n rok. Twee genres van drag kom hier bymekaar, maar natuurlik dink ’n mens nie aan Greetje as ’n drag queen nie, maar as ’n Hollandse tannie. Dit is waar die oulikheid van die karakter lê: Sy is ’n drag-tannie.
Maar eintlik is sy ’n vaal ou tannie – ek het nie moerse make-up of so aan nie. Ek is maar net die tannie. Wynand is Tollie, die uitbundige en omstrede tannie met die diep stem en stoute uitdrukkings. As my ma moes hoor wat Tollie alles te sê het, sou sy sê: “O, dis verskriklik” of “Jy is nogal gewaagd, nè!” Maar op ’n oulike manier – dis presies hoe Greetje op Tollie reageer. Greetje is nie op haar bek geval nie, en dáárin lê die pret van die show.
Dis vir my ’n lekker gemaklike vertoning en ek hoop dis hoe die mense dit ook sal ervaar. Dis nie diep of wroegend nie. Dis net pret.
WYNAND KOTZE
Wynand, ek moet om verskoning vra, want ek het eers onlangs ’n paar van jou TikTok-video’s met die hutsmerk #wynvirdiepyn gekyk. Wanneer het Tollie Parton ontstaan en waaraan is haar bestaan te danke?
Tollie het so drie jaar gelede haar eerste verskyning gemaak, op SABC2. Toe ek haar die eerste keer sien en ontmoet, het ek ’n tipe waagmoed en vryheid beleef wat ek nie noodwendig as Wynand het nie. Sy is ’n kombinasie van al die sterk vroue wat ek in my lewe geken het. Tollie, nes my ma, ouma en tante, verteenwoordig ’n veilige spasie vir die swartskape. Sy het ontstaan, want Wynand is ’n rebel en Tollie is die manifestering van daardie rebelsheid.
Jy het al by die 2022-Woordfees begin opgang maak met Tollie. Watter invloed, indien enige, het die Afrikaanse feeste op jou loopbaan as akteur en drag queen?
Deesdae kry ek minder toneelwerk, omdat baie mense my nou maar sien as ’n fopdosser. Maar ek maak steeds ’n geldjie en kla dus nie te veel nie. Ek is darem wel meer as net ’n drag queen – mense sal dit mettertyd besef. Maar ek is nie te haastig nie. Vir nou is ek dankbaar vir al die deure wat Tollie vir my oopmaak.
Soos die Engelse sê: Jy was nog nooit bang om ’n graaf ’n ploegskaar te noem nie. Ek let ook op dat jy korte mette maak van die sogenaamde ‘haters’ op TikTok. Wat maak jou die kwaadste van hulle?
‘n Mentor van my het eendag gesê ’n mens moet nie komplimente óf beledigings kop te vat nie: Albei is gevaarlik. ’n Vreemdeling op die internet kan my nie seermaak nie, want vir my is hulle niemand nie. Ek kan net seergemaak word deur iemand se woorde as ek ’n verhouding met hulle het. Wat my wel van die “haters” frustreer, is hoe ongelooflik dom hulle is. I mean, as jy wil haat, wees ten minste slim! Spel reg. Skryf in volsinne. Wees snaaks en kreatief. Die woord “moffie” het werklik géén trefkrag meer nie.
Hoe het jy en Casper besluit om saam te werk?
Die show was nie my óf Casper se idee nie, maar Carien Loubser van Brainwave Productions was vas oortuig die show gaan ’n sukses wees. Sy moes ons aanvanklik ompraat en oortuig, maar uiteindelik het ons die lig gesien. Daar is ’n teks, maar ons los ook ruimte vir die pret wat soms onverwags gebeur met live shows.
Wat het jy en Casper gemeen as komediante?
Ek en Casper is albei groot introverte. Daarom moet ons onsself dikwels uit ons dop forseer. Die doel van die show is nie om te skok of te ontstel nie! Ek dink op papier is daar ’n verwagting – goed of sleg – maar ons het ’n afdraaipaadjie gevat… Ons wil soveel as moontlik pret hê! En die gehoor deel maak daarvan. Dis gewis steeds volwasse vermaak, maar ek dink mense sal verras wees oor hoe verteerbaar die inhoud is.
Wat my wel van die ‘haters’ frustreer, is hoe ongelooflik dom hulle is. I mean, as jy wil haat, wees ten minste slim! Spel reg. Skryf in volsinne. Wees snaaks en kreatief. Die woord ‘moffie’ het werklik géén trefkrag meer nie.
Wat is die sterkste eienskap of kwaliteit wat jy na julle vertoning bring wat dit suksesvol sal maak? Wat, na jou mening, is Casper s’n?
My sterkste eienskap is my vermoë om aan te pas en die gehoor te lees. Ek kan voel as daar ’n energieverskuiwing is, en die meeste van die tyd vind ek ’n manier om dit te laat werk. Casper se sterkste eienskap is sy ondervinding. Niks kan hom meer gooi nie. Hy is só geolie en gerat en het soveel in sy arsenaal om mee te werk dat jy eintlik net kan terugsit en dit geniet.
’n Laaste woord vir die lesers van INK?
Ons doen die show net twee keer! Two nights only. Moenie dat jou vriende vir jou vertel hoe lekker dit was nie!
Tollie Parton & Greetje Appelmoes
2 OKT 20:30, 5 OKT 17:00
75 min | HMS Bloemhof-sentrum
R220-R320 | R250-R350 by die deur
Geen o.16 (T)