VISUELE KUNS
Speeltyd vir die binnekind
Produksie: Die tweede Woordfees-kunsveiling en meegaande uitstalling in die stadsaal
Skrywer: Herschelle Benjamin
Elke jaar is daar ’n uitstalling by die Stellenbosse stadsaal wat in gesprek tree met die jaarlikse feestema. Vanjaar is dit “Speel”, en onder aanvoering van die kurator Teresa Lizamore bruis dié tentoonstelling met verskeidenheid. Lizamore is bekend vir haar Johannesburgse kontemporêrekuns- en konsultasiegalery, Lizamore & Associates in Rosebank.
Met die intrapslag word jy begroet deur Karin Preller se skildervertolking van “Speel” – dit dien as voorgereg vir ’n stimulerende kunsvertoning van sowat 180 werke waarvan 90 onder die hamer kom vir die jaarlikse kunsveiling. Voornemende kopers kan aanlyn bie op Strauss & Co se webtuiste (sien onderaan).
Werke van kunstenaars soos Kamogelo Machaba, Martine Margoles, Johan Stegmann, Zach Taljaard, J.P. Meyer, Ruan Jooste, Luan Nel, Robyn Pretorius, Elmarie van Straten, Geena Wilkinson, David Kuijers, Ella Cronjé, Judy Woordborne, Anton Kannemeyer en Carin Dorrington sal onder die hamer kom.
Tog is die opwindendste deel van die uitstalling die werke deur die multidissiplinêre kunstenaar Richard Thomson, ook bekend as Seun. Só lui sy Instagram-bio: “Visuele, audio dagboek, meestal demo’s en buiborde ontwerp vir headphones, witness my stroom van bewussyn,” en laastens maar sekerlik die belangrikste: “DM vir prints….”
Ek vang hom midde-in die opwinding van die amptelike opening van vanjaar se visuelekuns-opening in die stadsaal.
Hy vat my terug na my kinderdae… hy sê dis belangrik dat ons teruggaan na die oerkind voor 7, wanneer ons nog nie heeltemal die “kondisionering” van die wêreld geken het nie. “Ons moet bekind. Nie die Engelse be kind nie, maar eerder ’n Afrikaanse werkwoord vir die toestand om ons weer terug te neem om kind te wees – en speels.”
Bekind – sy eie betekenis vir die voorstelling van werke wat tans as die middelpunt van die uitstalling beleef kan word.
Tans werk hy saam met Haidee Nel. Hy noem haar Liefie en hy is Seun – dis albei se “binnekind”. Maar wat beteken dit?
“Dis wanneer ek gelukkig genoeg is om deur die programmering van die adult world te werk. Dan het ek spasie om te skep. En dís wanneer ek voel my ‘binnekind’ kom uit en hý vat oor. Haidee doen dieselfde.”
Hy neem my na ’n installasie wat die reis na “bekind” verteenwoordig. Ek hang aan sy lippe, maar daar’s steeds onduidelikheid oor wat hy eintlik bedoel.
Waarom doen julle dit?
“Ek glo as grootmense weer geluk en onskuld wil vind, moet ons kyk na waar ons binnekinders besluit het ons ongelukkig moet wees…”
Een van sy kinderstories word vervat in ’n beeld toe hy sy sussie se rok aangetrek en op die gras gaan draai het. Hy wys my daar en dan, draai in een vinnige beweging om.
“Eintlik was dit net vir my mooi, want die wit rok het so ’n perfekte ronde sirkel op die gras gemaak. Ek het dit gedoen tot ek gevoel het ek wil uitpass… en toe na die wolke gelê en kyk. Dis die storie wat ek met Haidee gedeel het.”
Sy het hom van ’n soortgelyke Turkse spirituele act vertel, die Dervish. Mense staan juis in sulke wit rokke en dans, en wanneer hulle hulle balans vind en in ’n meditasie ingaan, dan voel hulle daar is ’n konneksie met God. Seun glo ons kan onthou waarvandaan ons gekom het. “Hóé weet ons nie; dis weird. Die siel moet mos meer wees as die een liggaam,” sê hy.
Ons moet na baie donker plekke gaan om ons binnekind te vind. En dan daardie kind se hand vat en sê: ‘Hei, dis oukei.’
As kind moes hy vir toetse gaan om te sien of hy nou eintlik gay is omdat hy sy suster se rokke aangetrek het. Hy wil nie hierop hamer nie, maar meen ons moet na baie donker plekke gaan om ons binnekind te vind. En dan daardie kind se hand vat en sê: “Hei, dis oukei.”
Hy’s skielik weerloos.
Hy wil net wys hoe dit moontlik is om weer jou binnekind te vind.
Ek stap agter hom aan na die oudiovisuele installasie waar hy meer vertel van die proses, hoe hulle dit mooimaak, en dan wys hulle dit so vir mense… die finale weergawe van ’n liedjie gaan ’n beeld bevat, want “daardie beeld is die musiekinstrument”.
Op die oorkantse hoek wys hy hoe feesgangers boodskappe op ’n lap kan skryf – boodskappe wat hulle dan sal mix in die finale liedjie.
En wat gaan hulle doen met die finale liedjie? “Ons gaan ’n video maak en dit publiseer.”
Hy nooi almal om die hele week te kyk, luister, voel, vat en speel. Hy nooi almal om weer in die speelpark van die stadsaal te kom voel hoe dit is om ’n kind te wees.
———-
Hoe werk die kunsveiling?
Anders as vorige jare is vanjaar se veiling aanlyn. En dis reeds van 24 September af oop sodat mense kan bie – gaan na die webwerf straussart.co.za. Dit sluit Maandag 7 Oktober.
Uitstalling
Daagliks oop van 10:00-18:00 vir die duur van die fees. Op 10, 11 en 12 Oktober word gratis rondleidings van ongeveer 50 minute om 10:00 aangebied.
Stadsaal
Gratis