DISKOERS

RNE ‘belangrikste skikking’, maar wie gaan dit aanhou lei?

Produksie: Netwerk24-gespreksreeks: Die sweepslag van 29 Mei
Skrywer: Jo-Ann Floris  
Foto’s: Pierre Rommelaere

Die ANC – en by implikasie die Regering van Nasionale Eenheid – staan voor twee groot strestoetse: Wat gaan gebeur in die plaaslike verkiesing in 2026, en hoe gaan die leierskap lyk? Laasgenoemde is belangrik, want dit word algemeen aanvaar pres. Cyril Ramaphosa sien die RNE as sy nalatenskap, dit is sy breinkind. 

Aan die woord is Oscar van Heerden, onafhanklike politieke ontleder en deesdae verbonde aan die Universiteit van Johannesburg. Hy was lid van die paneel as deel van die Netwerk24-gespreksreeks by die Woordfees, waar hulle onder leiding van politieke redakteur Gert van der Westhuizen bietjie probeer teruggekyk het na die verkiesing in Mei, maar grotendeels die “wat nou” in konteks wou plaas.

Saam op die verhoog was Liezel de Lange, besturende redakteur van Rapport, en dr. Piet Croucamp, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool.

So ’n gesprek gaan noodwendig begin by die RNE, een van die belangrikste skikkingsooreenkomste in hedendaagse politiek, en die magte wat dit trek en stoot.

Natuurlik is daar benewens die politieke partye se eie agendas, binne die ANC – wat nie ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie – ’n ander stryd wat afspeel. Die party is in die bek geruk deur die besluit van die kiesers, en hulle moes noodgedwonge van hul posisie van ’n beduidende meerderheidsparty terugstaan om ander partye ook plek op die podium te gee.

Voeg daarby die feit dat die natuurlike (en volgens tradisionele ANC-gebruik) opvolger vir die president die huidige adjunkpresident is, word daai appelkar ook nou omgegooi deur Paul Mashatile wat so onder beleg is weens bewerings van korrupsie, dat dit al hoe moeiliker raak om hom as ’n geloofwaardige kandidaat voor te hou.

Hierdie kwessie oor wie Ramaphosa sal opvolg raak dan ’n belangrike een, want dit is die persoon wat die ideale van die RNE met ’n ferm en oortuigende hand moet bestuur.

Hierdie kwessie oor wie Ramaphosa sal opvolg, raak dan ’n belangrike een, want dit is die persoon wat die ideale van die RNE met ’n ferm en oortuigende hand moet bestuur. Reeds is daar in provinsies soos Gauteng ’n suurheid oor die RNE – en met premier Panyaza Lesufi die rasieleier met massiewe politieke aspirasies, kan daar groot skommelinge kom sou hy die magsposisie betree. 

Die paneel was dit eens dat Lesufi se invloed en mag nie onderskat mag word nie. 

“Die Bela-wet is eintlik die Lesufi-wet. Die dag toe die president die wet onderteken, wie was daar lang hom? Lesufi,” het Croucamp gesê.

Hy het ook ’n hou ingekry teen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal (SG) van die ANC, na aanleiding van Van Heerden se opmerking oor wat die SG se standpunt is nadat hy hom uitgespreek het teen die besluit om Cilliers Brink, toe burgemeester van Tshwane, uit te skop.

Die politieke drama het baie slaankrag gekry van Lesufi, die ANC-voorsitter in Gauteng – alles boublokke vir sy politieke aspirasies, meen die paneel, en dat hy nie goeie nuus gaan wees vir die RNE nie.

Waar Croucamp Mbalula beskryf as ruggraatloos en ’n “useful idiot”, dink Van Heerden eerder daar is soveel mag gesetel in sy posisie as SG dat hy dit kan gebruik om Lesufi aan bande te lê.

De Lange stem saam: “Mbalula kan Lesufi maklik neutraliseer, sou dit op daai punt kom.”

Daar is darem ander name wat in die hoed gegooi kan word, soos Parks Tau (minister van handel, nywerheid en mededinging), Fébé Potgieter (voormalige adjunk-stafhoof van die Afrika-Unie en nou die ANC se hoof van beleid en navorsing), en selfs Andries Nel, adjunkminister van justisie en staatkundige ontwikkeling.

Die leierskapsverkiesing in 2027 sal dan wys of die ANC die toets geslaag het, het die paneel saamgestem.

Netwerk24-gepreksreeks
4 Oktober om 08:30
Plek: EasyEquities-boektent
Toegang: gratis

Facebook
Twitter
LinkedIn