EasyEquities SKRYWERSFEES
Die lawwer kant van lees en skryf
Produksie: Skrywers speel Ex Libris
Skrywer: Johan van Zyl
Leeslustiges wat soggens om 11:00 ’n ledige halfuurtjie het, moet gaan inloer by die US Museum-vierkant waar BIBI SLIPPERS ’n hand vol skrywers uitdaag om nuwe openingsinne en slotreëls vir klassieke Afrikaanse boeke te skryf. Die skrywers kry ’n minuut om hulle nuutskepping op ’n stukkie papier te skryf, terwyl Slippers die regte openingsin op hare skryf en tussen die res inglip.
’n Vriend wat meen Afrikaanse “literatûûr” is net te diep en deftig om te léés, sal waarskynlik sy voortande gee vir die blitsspeletjie Ex Libris. Op uitnodiging van Bibi Slippers, koördineerder van vanjaar se EasyEquities Skrywersfees, tree ’n vars groep skrywers smôrens om 11:00 aan om nuwe openingsinne en slotreëls vir bekende Afrikaanse boeke te skryf.
By die eerste byeenkoms, waar ’n leërskare van 500 minus 491 opgedaag het (reën, onthou) moes Chanette Paul (Anoniem), Christelle Wessels (Wegkruiper), Naomi Meyer (Web en Seeperde) en Dibi Breytenbach (Heks) ’n nuwe aanvangsin uitdink vir Koos Kombuis se outobiografie Seks & Drugs & Boeremusiek: Die memoires van ’n volksverraaier wat in 2000 verskyn het.
Die skrywers kry ’n minuut om hulle nuutskepping op ’n stukkie papier te skryf, terwyl Slippers die regte openingsin op hare skryf en tussen die res inglip. Die sinne word voorgelees vir die gehoor, wat dan vir hulle gunsteling kan stem. Koos se oorspronklike sin het sowaar ’n skamele twee stemme gekry!
Die volgende dag was Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam (2010) en Koors (2016) deur Deon Meyer aan die beurt.
Gaan toets jou boekkennis en verluister jou aan die wonderbaarlike sinne waarmee ons voorste skrywers binne 60 sekondes vorendag kan kom.
Skrywers speel Ex Libris
Tot 4 OKT 11:00
30 min | US Museum-vierkant
Gratis