TONEEL
Gehoor verkneukel hulle in wenresep-trilogie
Produksie: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Nadat ek sowat 40 jaar gelede in Kaapstad aangeland het, het ek gou een van die bekendste sêgoed geleer: “Soppie koppie!” Provinsialisme is toe nog ernstig opgeneem en nasionalisme was ’n perd van ’n ander kleur. Die uitdrukking was ’n goedige gespot met die Transvaalse pappas wat vakansietye oral met hul kleintjies op die skouers rondgeloop en probeer keer het dat die bloedjies hul koppe stamp.
Toe ek gistermiddag by die Adam Small-teater uitloop nadat ek heerlik gelag en selfs ’n traan gepink het saam met die akteurs Wessel Pretorius en David Viviers, hoor ek ’n man aan sy vrou sê: “Pasop, moenie val nie!” Ek besef toe ek hoor daardie woorde baie meer dikwels deesdae as “soppie koppie”. Die eendeweer van die afgelope dae het natuurlik daartoe bygedra dat geen trappe veilig is nie, maar hier by die Woordfees loop die gryskoppe los rond en loop-en-val is vir ons aan die verkeerde kant van sestig nie net die naam van ’n bekende atleet nie.
Desondanks die oorvloed aan gryskoppe, is die meeste gehoorlede by ’n Dag in die lewe van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie darem aan die beste kant van 40. Hulle en die gryskoppe het egter die produksie ewe veel geniet en luidkeels van hulle laat hoor. Pretorius se teks wemel van verwysings na dinge en gebeure, maar gelukkig bly die gryskoppe by. Dié trilogie volg op Pretorius en Viviers se ewe prettige (tragi)komedie Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie. As spelgenote is hulle met ’n Fleur du Cap-teaterprys bekroon vir die Engelstalige weergawe van Klara Maas.
Net terloops, is daar ’n rede waarom Adam Small se naam nie buite op die gebou staan nie? “Asking for a friend,” soos die Engelse sê.
Soos in Klara Maas, word in die jongste werk weer drie stories oor drie onwaarskynlike helde vertel, naamlik ’n kunssinnige vrugtevlieg genaamd Musca, ’n Duitse mot wat haar vlinder wil hou as Isolde pleks van haar doopnaam, Brunhilde, en ’n bedrukte reënspinnekop, Andries ná die Reën. In Klara Maas was die helde ’n traandruppel, ’n bloeddruppel en ’n spermsel.
Jy skrik jou amper ’n papie (met verskoning aan die gewerweldes) as die luidsprekers skielik kliphard bruis met “O fortuna” uit Carmina Burana van Carl Orff. “O, hier kom moeilikheid,” verkneukel die gehoor hulle by voorbaat. Pretorius se musiekkeuses as regisseur is deurgaans prikkelend, amusant en altyd nommerpas.
Tussen die twee van hulle speel Pretorius en Viviers al die rolle, heelwat daarvan nogal fisiek veeleisend, maar albei van hulle is gelukkig goed onderlê in die fisieke teater. Die moeilikste deel van die ongewerwelde trilogie is seker om tred te hou met die magdom rekwisiete wat gebruik word en waar jy hulle op ’n bepaalde tydstip moet kry.
Dis met die einste rekwisiete dat die toneelstuk van jou vereis om jou verbeelding op turbo in te stel. Twee ou houtrakette is Ou Musca (die vrugtevlieg) se vlerke wat Viviers so floutjies waai terwyl Musca sy dilemma uiteensit, ’n tutu om Pretorius se nek gedrapeer verander hom in ’n groen angelier, en nog baie meer. Die rekwisiet wat egter die meeste reaksie uitgelok het, was die klopdansskoene van Viviers as Andries die depressiewe reënspinnekop. Dit word bewimpel met twee eetlepels wat met rekkies om sy skoene gebind word. Dis al moeilik genoeg om ’n ritme te klop met regte klopdansskoene, wat nog te sê met dié kontrêpsie. Pretorius se antwoord toe ek daarna uitvra: “Dit het lank gevat, maar hy kan mos enigiets baasraak.” Almal het maar net bewonderend die kop geskud.
Bogenoemde gebruik van optelgoed, naamlik om suggestie in die dialoog te verduidelik of versterk of om doelbewus die humor daarvan uit te buit, herinner sterk aan die reeks Raiders-toneelstukke wat langer as twee dekades elke jaar by die Grahamstad-fees aangebied is deur die teaterveteraan Nicholas Ellenbogen en watter armsalige akteur op daardie tydstip ook al sy slagoffer oftewel medewerker was. My gunsteling-truuk was toe die karakter verduidelik hoe baie krokodille daar in die Nylrivier is wat hulle moet oorsteek. Twee geel kindergrootte Crocs kom te voorskyn en plegtig op die blou lap geplaas wat die rivier voorstel. Die gehoor het gebulder van die lag. Covid (en Nicholas se hoë ouderdom) het ’n einde aan daardie produksies gebring, maar hulle was bykans ’n instelling op daardie fees.
Pretorius en Viviers se werk verskil in ’n paar belangrike opsigte van die Raiders-reeks. Pretorius se teks is lankal formeel vasgelê teen die tyd dat die stuk open en word nie geïmproviseer soos hulle dit opvoer nie. Dit verhoed natuurlik nie ’n verdwaalde ad lib of ’n akteur wat onverwags begin lag nie, maar dit gebeur minimaal en sorg vir ’n goed ingeoefende en afgeronde produk. Die ander aspek wat verskil, is dat daar in die trilogieë genadiglik geen gehoordeelname is nie. Glo my, dis die beste manier om enige banaliteit te vermy! Minder lawwe onderbrekings versterk natuurlik ook die verhaallyn.
Tussen die twee van hulle speel Pretorius en Viviers al die rolle, heelwat daarvan nogal fisiek veeleisend, maar albei van hulle is gelukkig goed onderlê in die fisieke teater.
Verder spits Pretorius hom deur die metaforiese karakters toe op die randfigure in die samelewing en wek doelbewus empatie vir hul lot in die lewe. Sy werk is dus in die algemeen meer diepsinnig hoewel nog steeds skreeusnaaks.
Pretorius se liefde vir rolprente straal deur alles, waaronder Casablanca in Musca se storie, Isolde wat haar verbeel sy is Garbo in die tweede storie genaamd Because the Night, en Andries wat wil dans soos Gene Kelly in Singing in the Rain.
Mens het sowel Pretorius as Viviers leer ken as ernstige oftewel klassieke akteurs. Daardie grondslag gaan nie verlore nie, maar word juis benut in die lawwigheid van komedie waar ’n vlymskerp intellek, uitmuntende tydsberekening en ’n bietjie geluk sukses waarborg. Albei steun op uitdrukkingsvolle stemme, ’n sterk verhoogteenwoordigheid en ’n intieme band met die gehoor.
Ek het Klara Maas ongeveer drie keer gesien. Ek sal dieselfde doen met ’n Dag in die lewe van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie om weer vir Musca, Isolde en Andries te beleef. Dan is daar nog Bella Bouwer van Secunda, Dino, die Magic Lantern op Wakkerfontein, Ph-fanie, Meisie van Tonder, Drikus Duisendpoot, klopdanslesse by Miss Kruier, en nog talle ander karakters wat jou hart sal laat verteder en jou beslis met ’n glimlag op jou gesig huis toe sal vergesel.
Te oordeel aan die gehoor se reaksie gister, is die trilogieë van Pretorius en Viviers ’n ware wenresep en die twee van hulle supersterre. Hulle kan maar by die Woordfees ’n instelling raak. Daar is vanjaar nog twee opvoerings. Gaan gee jouself vir 75 minute oor aan die geil verbeelding en ongebreidelde talent van Pretorius en Viviers.
’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie
3 OKT 20:30 | 6 OKT 10:00
75 min | Adam Small-laboratorium
R190 | R220 by die deur
Geen o.13 (T)