KLASSIEKE MUSIEK

Orrelis met dansende voete knipoog toe nie vir tannie

Produksie: Moederkerk-orrelweek: Pastorale – Gavin Julius 
Skrywer: Johann Nell
Foto: Verskaf

Die orrel is niemand se speelmaat nie, maar hier is die bordjies verhang. Gavin Julius het opgetree in ’n halfuurlange konsert tydens die Moederkerk-Orrelweek. 

Met die eerste noot weet mens of ’n orrelis die “ding” gaan doen, of nie. Inderdaad het Gavin met die eerste orrelklanke belowe hy gaan ’n fenomenale aanbieding vir sy luisteraars bring.

Die program is geopen met Marco Enrico Bossi (1861-1925) se Entrée pontificale Op. 104, no. 1. Hierdie werk word soms gespeel as pouslike aankoms-aankondiging. Die mars-agtige ritmes en melodieë beweeg in kontrasterende rigtings en met wisselende teksture. Dus is die musiek groot en teatraal. Hier het Gavin gewys hy is nie te lig in die broek om hierdie werk met tegniese bemeestering baas te raak nie. 

Om aan te sluit by die week se tema, Pastorale, het Gavin twee werke ingesluit. Hy het Jules Grison (1842-1896) se Pastorale in A mineur met heerlike gemak gespeel. Dis soos om na ’n lied te luister terwyl jy deur grasvelde, bospaadjies en weivelde stap. Inderdaad weg van die stadsgedruis bring die Pastorale ’n soort kalmte en uitbeelding na vore wat nie met woorde beskryf kan word nie. 

Jean Roger-Ducasse (1873-1954) se Pastorale het bewys gelewer waarom die Moederkerk se orrel so hoog aangeslaan word. Op hierdie orrel kon die luisteraar duidelik die liriese melodieë en impressionistiese aanslag beleef.

Jean Roger-Ducasse (1873-1954) se Pastorale het bewys gelewer waarom die Moederkerk se orrel so hoog aangeslaan word.

Gavin het afgesluit met ’n Toccata (Op. 59, no. 5) van die bekende Max Reger (1873-1916). Hier het die orrel onder jou sitvlak gebewe, want hierdie werk verg vinnige figurasie, en flinke en veerkragtige vingerwerk. Sodoende skep hierdie uitvoering ’n dramatiese en energieke atmosfeer. Reger is ’n moet vir elke goeie orrelis se repertorium. 

Dit was telkens my gevoel dat ek in “goeie hande” is wanneer Gavin se tien vingers die lopies vat. ’n Orrelis sal aan sy voete geken word, glo ek. Wat ’n plesier was dit om Gavin se pedaalwerk dop te hou wanneer daai twee swart orrelskoene oor die pedale gly en dans!

Geluk ook aan Zorada Temmingh, wat jaarliks hierdie orrelweek so wonderlik reël. Die gehoor is tegnies bederf met uitstekende programnotas, en die orrelis is deurgaans op groot TV-skerms van enige plek in die kerk te sien. ’n Dubbele beeld, een van hom en sy hande op die manuale, en een van sy voete op die pedale, het hierdie konsert lewe gegee en die orrel-luisteraar soos ’n magneet ingetrek. Ek was ook beïndruk om te sien dat Gavin nuwe tegnologie inspan. Sy musiek is digitaal op ‘n groot tablet voor hom. En nee, tannie, hy het nie vir jou geknipoog nie. Gavin blaai digitaal om deur sy oog vir die tablet te knip. 

En nee, tannie, hy het nie vir jou geknipoog nie. Gavin blaai digitaal om deur sy oog vir die tablet te knip.

Verder hierdie week tree nog twee orreliste op: Andrea Kayser-Mitas (dosent aan die Universiteit van Pretoria), asook Devandré Boonzaaier, orrelis van die NG Gemeente Durbanville. Konserte begin elke middag om 13:15 by die Moederkerk in Drostdystraat. Koop kaartjies vóór die kerkklok sy eenuur-slag slaan. ’n Paar laatslapers wat vandag by die deur kaartjies gekoop het, het nie net duurder betaal nie, maar ook ’n klomp opgewonde orrel-entoesiaste in die ry agter hulle opgehou. Kaartjiekopers moes eers name, vanne, telefoonnommers en e-posadresse op ’n baie stadige rekenaar probeer insleutel.

Moenie Zorada Temmingh self op Vrydag 4 Oktober misloop nie. Sy gaan die orrel verder aan die brand speel. Lank leef die orrel!

 

Moederkerk-orrelweek
2-4 OKT 13:15
30 min | Moederkerk
R110 | R140 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn