KLASSIEKE MUSIEK

Jazz met virtuositeit opgejazz

Produksie: Charl du Plessis-trio: Rhapsody in Blue
Skrywer: Wayne Muller
Foto’s: Verskaf 

Dis nogal moeilik om bedeesd stil te sit as die Charl du Plessis-trio op die verhoog musiek maak. Jy skuifel so ’n bietjie in jou stoel, jou voet klop onwetend teen die vloerplanke, en jou bene wil-wil bons asof hulle gereed maak om te dans. 

Die Pretoriase pianis Charl du Plessis het ’n wenresep: gee ’n jazz-kinkel aan gewilde stukke uit die klassiekemusiekrepertoire en steel só gehore se harte. Oor die jare het hy al selfs Bach en Beethoven se bekendste musiek effens op die kop gekeer en dit saam met die kontrabasspeler Werner Spies en tromspeler Peter Auret met ’n jazz-mondering in pure genot omskep soos net hulle kan.

Hulle het ’n reputasie vir opwindende verwerkings wat nooit te naby aan kitsch kom nie, maar ook nie heeltemal wegbly van kitsch nie, want anders raak dit net ’n ernstige affêre.

In hulle program Dinsdagaand het die trio die Amerikaner George Gershwin se musiek aangedurf – in hulle gewone styl. En soos die titel aandui, kry jy wat sekerlik sy bekendste werk vir orkes en klavier is, ook te hore: Rhapsody in Blue, wat 100 jaar gelede die eerste keer uitgevoer is.

In die trio se konsert hoor jy virtuose verwerkings van Gershwin-treffers soos “The Man I Love”, “I Loves You Porgy”, “I Got Rhythm” en “Embraceable You”, om enkeles te noem. Al ken jy die wysie, maak hierdie trio heelwat musikale bakdraaie wat dalk nooit Gershwin se pad sou kruis nie.

Hulle toegif was “Summertime”, uit die opera Porgy and Bess, wat omskep is van ’n wiegelied tot pure “skop, skiet en donder”, soos Du Plessis spot – dit word ’n vurige stuk musiek wat beslis nie slaap aanwakker nie.

Du Plessis hou van agter die klavier die leisels vas en wys sy puik klaviertegniek, veral in die innemende Rhapsody in Blue, waarmee hulle die konsert afgesluit het. Deurgaans ondersteun Spies en Auret vir Du Plessis op vernuftige wyse, terwyl hulle ook uitstekende solo’s lewer wat hulle eie virtuositeit ten toon stel.

Hulle het ’n reputasie vir opwindende verwerkings wat nooit te naby aan kitsch kom nie, maar ook nie heeltemal wegbly van kitsch nie. 

Sekerlik hulle grootste bate is dat die drie musikante so goed met mekaar kommunikeer op die verhoog. Uiteindelik is dit vir die gehoor ’n genot om die interaksie te sien en dan die musiek te beleef wat uit daardie samespel opgetower word. 

Gershwin se musiek is reeds in ’n jazz-styl en ’n mens sou reken die trio se tipe verwerkings is nie ver verwyder daarvan nie, maar in dié musiekmakers se hande word selfs jazz met virtuositeit opgejazz.

 

Charl du Plessis-trio: Rhapsody in Blue
2 OKT | 11:00
70 min | Endlersaal
R160-R220 | R190-R250

Facebook
Twitter
LinkedIn