TONEEL
Die moeilikheid het Anna se adres leer ken
Produksie: Suurdeeg
Skrywer: Jo-Ann Floris
Fotograaf: Jeremeo le Cordeur
As moeilikheid jou adres ken, het die oumense gese, kom klop hy elke keer aan jou deur. Dis interessant dat moeilikheid ’n hy is, maar vir Anna is dit waar – op ’n pynlike manier.
Daar op Besondersmeid in Namakwaland is dit sy, die vlaktes en die alleenheid, veral met haar man, Ouboet Gert, wat saam met die manne op die myn werk. Haar grootste seer is die moederskoot wat leeg bly, en dit hang swaar tussen haar en haar man.
Maar sy is tevrede. Hoe anders dan nou, want om te trou beteken jy bly tot die dood julle skei, vertel sy later vir die stadsmeisie Emma, die meisie van Klein-Johnietjie.
Vir Anna is daar geen bekoring meer in haar stowwerige bestaan nie; vir Emma is alles verruklik en mooi en aards. Sy staar in bewondering na die koppies, die ooptes, die plante, en vind bekoring in die plek wat haar ma se komvandaan is. En sy wil leer – alles oor die geskiedenis van die plek, wie haar ma se mense was.
Soos sy na die natuur staar, so staar Anna na haar. Sy kan nie verstaan watse bekoring die plek vir die stedeling inhou nie. Elke keer as Emma dus liries raak, kap Anna haar met ’n kurkdroë antwoord.
Rene Cloete en Jodine Ockers speel hulle onderskeie rolle met oortuiging. Jy glo Anna is die gedienstige vroutjie en Emma die blink liggie van die stad. Sy torring, torring aan Anna dat sy kan wegkom as sy nie gelukkig is daar nie.
Anna maak haar ongeduldig stil, gaan voort om die suurdeeg te maak om brood te bak. Want dis wat ’n mens doen om jou huishouding aan mekaar te hou.
Die meng, die skil, die knie so saam-saam maak geselsies en gevoelens los, en dis nie lank nie voordat die gevoelens begin bruis soos die suurdeeg in die fles. Anna probeer keer, maar daar word gevoelens in haar losgemaak.
Dan kom die olie op die vuur: Haar man vertel haar in ’n brief ’n ander vrou is swanger van hom.
Daar gee die grond onder haar voete mee, en Emma is daar om te vang.
Kan sy ’n kans vat om gelukkig te wees? Durf sy? Hoekom sou sy nou verdien om geluk te smaak? Dis oorweldigende emosies vir iemand wat gewoond is daaraan dat die lewe haar niks skuld nie.
Sy gryp dit aan. Gooi die bangheid weg. Gooi die behoudenis weg, pluk simbolies haar voorskoot af.
Jy glo Anna is die gedienstige vroutjie en Emma die blink liggie van die stad.
Toe raak moeilkheid ’n sy, en Anna se lewe word weer ’n keer omgedop. Dis ’n baie groter seer – en verraad – want dié slag het sy soveel opgeoffer in die soeke na geluk… Om meer te vertel sal die einde van die storie verklap.
Dit is elke minuut werd om saam met die twee vroue deur die fases van gelatenheid, uitbundigheid, vriendskap, liefde, hartseer en, ja, verraad te gaan.
Daar is genoeg oomblikke van fyn humor en fyner seksuele innuendo om ’n andersins strak storie te verlig; kyk en luister net met ’n oop gemoed.
Die verraad is uiteindelik wat Anna die moed gee om haar lewe op te tel en te neem in die rigting wat sy bepaal.
Sandra Temmingh (regisseur) en Miché van Wyk (skrywer en vervaardiger) laat die storie behoorlik tot sy reg kom. Dit help dat Van Wyk, self ’n uitstekende aktrise, ’n boorling van Namakwaland is en die hart van die mense daar ken en verstaan.
Die storie behoort te resoneer met enigeen wat al ooit die pyn van verlies gevoel het, in watter vorm dit ook al gekom het.
Suurdeeg
1 OKT 13:30
60 min | Adam Small-laboratorium
R170 | R200 by die deur