TONEEL

Jongelinge se talent bars buite die proscenium

Produksie: Proscenium-dramakompetisie – dialoë
Skrywer: Herschelle Benjamin 
Fotograaf: Verskaf

Vanjaar het daar altesaam 647 talentvolle leerders ingeskryf vir die splinternuwe Proscenium-dramakompetisie. Dié kunswedstryd is vir individuele hoërskoolleerders wat ’n passie vir die verhoog, TV en radio het en word deur die Tribuo-fonds bestuur onder leiding van Herman van der Westhuizen en hulp van Rafiek Mammon. Ná die nasionale uitdunne is 70 kandidate deur na die finale rondes wat in Kaapstad plaasgevind het.  

Met ondersteuning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement het 15 skrywers opdrag gekry om dialoë te skryf wat die finaliste by vanjaar se Woordfees uitvoer, onder regie van verskillende regisseurs – as’t ware ’n vertoonvenster vir opwindende nuwe tekste en akteurs van die toekoms. 

Daar is op Maandag 30 September weggeval met 4 vier sessies met 4 verskillende dialoë deur die loop van die dag in ’n klaskamer by die Hoër Meisieskool Bloemhof. Verdere sessies vind op 1 en 2 Oktober tydens die fees plaas. 

Die skrywers van die dialoë is Mikayla-Joy Brown, Miché van Wyk, Ilne Fourie, Jason Jacobs, Adriaan Havenga, Gita Fourie, Johann Smith, Veronique Jephtas, Alae Hanekom, Karli Heine, Miliswa Mbandazayo, Mikyall Harris, Tankiso Mambolo, Angelique Filter en Chester Miggels. 

Regisseurs sluit in Martlie Jordaan, Barnie Mans, Margit Meyer-Rödenbeck, Nicole Holm, Ilse Klink, Alby Michaels, Kobus Burger, Zane Meas, Lluwellyn Edas, Derek Daly, Mbulelo Grootboom, Lee-Ann van Rooi, Dean Smith, Gary Naidoo en Liza van Wyk.

Die twee jong spelers vind die nuanses en speel die stiltes skitterend!

Hier is my eerste indrukke van die een sessie wat ek kon kyk: 

Bonsai deur Gita Fourie 

MET Hendré Henning (Helpmekaar) & Zanje Bodenstein (PALI Youth) 

Die verhoog is ’n klaskamer vir twee leerders in detensie. Die een is ’n eksie-perfeksie hoofdogter en toekomstige Dux-leerder wat heeltyd raakgesien word en die ander een is ’n slordige moeilikheidmaker. Gaan dit in ’n nagmerrie ontaard of sal die twee leerders uitvind dat hulle baie meer in gemeen het as wat hulle ooit sou kon raai? ’n Sensitiewe en verbeeldingryke teks wat handel oor die druk wat op leerders geplaas word deur skole en ouers. Die twee spelers vind die nuanses en speel die stiltes skitterend! 

Die tradisie deur Adriaan Havenga

MET Gianni de Lange (Riebeeckrand) & Brendan Kruger (Helpmekaar)

Ontgroeningspraktyke is dikwels in die nuus. Hierdie stuk tussen twee seuns oor die sterfte van een seun wat uitgestuur is om ’n kaalnael in die winter tydens ’n rugbykamp te doen, bied ’n teer werklikheid oor die nagevolge van hierdie “tradisies”. En hoe kan ’n seun sy pa help verontskuldig in die hele saak… Die twee jong spelers speel goed vanaf mekaar en die teer oomblik aan die einde van die dialoog word fyn vertolk. 

Dag een deur Johann Smith

MET Hanno van Zyl (Hoër Volkskool Potchefstroom) & Christian Nortjé (Linden)

Dis nie maklik vir kinders om ’n ouer te verloor nie. Hier word gekyk na twee boeties – die jongste het pas uitgestap uit sy eerste klas van gr. 8 en sy ouer charismatiese broer in matriek moet na hom gaan soek. Hier blink Christian Nortjé ongelooflik uit – ’n opwindende talent. Albei oortref met die humoristiese kant van die stuk asook die hartroerendheid. 

Hanno van Zyl, Kobus Burger, Johann Smith en Christian Nortje

Broekloos deur Veronique Jephtas 

MET Junior Khumalo & Gianni de Lange (albei Riebeeckrand)

Tydens ’n pouse by die skool probeer twee seuns sin maak oor hoekom pa’s so moeilik is met hulle seuns. Die een het klaagliedere in sy hart oor die standaarde en verwagtinge wat sy pa van hom het; en die ander een breek deur sy weerloosheid om op ’n lighartige manier raad te gee aan sy vriend! Albei spelers se gemak en liggaamspel is treffend. En dis nogals ’n kuns om ’n gehoor in die palm van jou hand te kry… Hulle doen so, moeiteloos. Bravo!

 

Deur net hierdie vier dialoë te sien, kan ’n mens met sekerheid sê dat ons land uit sy nate bars van ongelooflike jong talent! En bewys waarom dramakompetisies soos Proscenium so belangrik is, nie net vir die geleentheid wat leerders kry om met ervare skrywers se werke en bekwame regisseurs te werk nie, maar ook dat dit tydens die Woordfees tentoongestel word! ’n Pluimpie vir die span agter die skerms. 

En as jy gaatjies in jou program wil vul met geen koste nie, is die Proscenium-dialoë beslis ’n energieke belewenis. 

 

Proscenium-dialoë 
1 Oktober | 14:00 
1 Oktober | 15:30
2 Oktober | 16:00
2 Oktober | 17:30 
60 min | HMS Bloemhof-klaskamer
Toegang is gratis.

Facebook
Twitter
LinkedIn