TOYOTA MUSIEKFEES
Aan die voete van die vroue borrel die ritme van die lied
Produksie: ’n Vrou om te onthou
Skrywer: Jo-Ann Floris
Fotograaf: Pierre Rommelaere
Sy sing tot die dak lig, en dan, sowaar, lig Karen Petersen jou verder saam. En nes jy dink jy val terug aarde toe, vang Cornèl Engelbrecht jou behendig met sy klavierklanke. Hy laat jou saggies land, vir ’n oomblik, voor die magtige dreuning van Petersen jou weer opskiet.
In hul musiekstuk ’n Vrou om te onthou by vanjaar se Woordfees, gee die duo gestalte aan die liedjies van bekende sangeresse, bring hulle hulde aan die vroue vir hul nalatenskap tot musiek.
Dit is ’n uiteenlopende program wat hulle hier saamslaan, en gegewe dat hulle net ’n uur of wat het om die gehoor deur die musiekreis te neem, wil dit gedoen wees. Die reis neem jou na die hart van Miriam Makeba, Karen Zoid, Zahara, Amanda Strydom, Mafikizolo en Jodi Jantjies, om net ’n paar te noem.
Die verwerkings is met respek en ’n sagte hand gedoen, so mens kan jou verbeel die sangeresse wie se liedjies gesing word, knik tevrede met die kop terwyl hulle ritmies saamklap.
Dit sorg vir een van die roerendste uitvoerings van ‘ ’n Sonneblom uit Bethlehem’ wat ek in ’n lang tyd gehoor het.
Petersen is die stem, maar Engelbrecht is geen muurblommetjie nie. Hy tokkel die blues en jazz op die klavier sodat jy net jou oë wil toemaak en hoop die reis eindig nooit nie.
Deurgaans hou hulle die gehoor betrokke, skets hulle die agtergrond van die sangeres en liedjie. Vertel bietjie hoekom die spesifieke liedjie gekies is.
Daar is ook lekker afwisseling en aanvulling, soos Petersen wat self agter die klavier en later orrel en bongo-tromme inskuif, en Engelbrecht op tjello. Dit sorg vir een van die roerendste uitvoerings van “ ’n Sonneblom uit Bethlehem” wat ek in ’n lang tyd gehoor het.
Jy hoef nie al die sangeresse te ken om die musiek te waardeer nie. Inteendeel, wat ’n fantastiese ontdekkingsreis om nuwe genres en mense te leer ken, daar aan die voete van die vroue wat die musiek-hoekstene in ons land gelê het en steeds lê.
Die sukses kan daaraan gemeet word dat mens die saal verlaat met die spreekwoordelike lied in jou hart.
’n Vrou om te onthou
1 OKT 17:00
60 min | Eendrag-teater
R190 | R220 by die deur