TONEEL
Semi-begogel deur ’n rare vogel
Produksie: Alles tot nou
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Verskaf
Aletta Francina de Kock, “die vrou met die mooiste kuite in die land” en 70 300 volgelinge op Instagram, is voorwaar ’n vogel van die aller-aller-aller-raarste soort. Sy fladder tot op die verhoog in ’n kort pofsatyntabberd, haar kop kaalgeskeer, brandend lus vir ’n lekkie Aromat waaraan sy sedert graad 3 verslaaf is. (Kan jy glo, haar Aromat/MSG-dealer is die buurvrou tannie Didi!)
In die eenvoudige eenvrou-stand-up-stuk Alles tot nou deel die selfverklaarde eenvoudige Aletta Francina haar eie storie: As kind was sy blykbaar soos ’n Kersboom gebou. Sy het ’n tegniese hoërskool, hondsdolheid, twee charismatiese kultuskerke, sewe motorongelukke en verskeie van Gretha Wiid se ma-en-dogter-oggende oorleef.
Aletta Francina vertel sy is die A in LGBTQIA+ – en die A staan vir Aromat, want aseksueel klink soos ’n siekte wat visse in die Oranjerivier kry. Selfs voor sy een jaar op Braaidag haar kop kaalgeskeer het, het mense haar al meneer genoem, maar sy moes nogtans ’n spietkop omkoop met ’n cheddamelt burger en melkskommel om haar bestuurslisensie te kry.
Humor is ’n geweldig subjektiewe ding wat sterk deur jou persoonlike ervarings, smaak en bui beïnvloed word.
Sy deel selfs van die voorstelle wat sy ontvang het vir haar drag-naam: Moanaletta, Britney Spies, Lustige Letta, Girthy de Kock, Willem, Matrone, Fransletta van der Ploest, Anna Aambei, Carike Verkeerdekamp, Mal Moemfie…
Die Eendrag-teater, vermoed ek, was volgepak met Aletta Francina se Insta-tribe, want die gehoor het deurentyd gelag en gegiggel en gegil – so gereeld dat Aletta Francina soms by hulle aangesluit het. ’n Glimlag het nooit my eie bakkies verlaat nie – rare vogels kan inderdaad amusant wees – maar ek het nie ’n enkele keer gelág nie. Nooit nie. En ek wou so bitter graag.
“Dit is heeltemal normaal as iets of iemand nié vir jou snaaks is nie terwyl die res van die gehoor op die grond rondrol van die lag,” lees ek laasjaar in ’n Britse troostanterubriek. “Humor is ’n geweldig subjektiewe ding wat sterk deur jou persoonlike ervarings, smaak en bui beïnvloed word.”
En dalk jou ouderdom? Ek kon sien die twee aanvallige jong vroue langs my wonder wie’s die droë ou drol met die notaboek. Tot dit oplaas tot my deurgedring het: Vir die res van die gehoor is ek ’n ou toppie. En ek is nie op Insta nie. En toe ek met etlike mense bo 40 praat oor my droogdrolligheid, het een geantwoord: Man, Aletta Francina is net funny vir tieners wat nie vir Casper de Vries in die negentigs beleef het nie.
Moenie ’n droë drol wees nie, gaan kyk Aletta Francina se laaste vertoning. Maar die lag is nie gewaarborg nie.
Alles tot nou
4 OKT 20:00
80 min | Eendrag-teater
R160 | R190 by die deur