DANS
Gregory Maqoma is gemáák van beweeg
Produksie: Exit/Exist
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Gregory Maqoma is nie ’n danser nie. Hy is ’n gevoel; ’n hele reeks emosies. Hy neem besit van die teater en almal daarin wat, soos in ’n beswyming, na hom sit en kyk. As hy van Hameln was, het daar sweerlik ná die vertoning ’n groot gros mense in Victoriastraat agter hom aangestreep. Hy is gemáák van beweeg.
Hy sê self: “Binne die grense van kulturele en familieverwagtinge het ek die transformerende krag van beweging ontdek. Dans het my taal geword, ’n rebellie teen norme wat uitdrukking wou beperk. Soweto het ’n plek geword waar elke stap wat ek geneem het, die veerkragtigheid van ’n gemeenskap weerspieël wat deur die kompleksiteite van identiteit en tradisie navigeer.”
In die aangrypende Exit/Exist vertel die 50-jarige Gregory die verhaal van een van sy voorouers, Jongumsobomvu Maqoma, wat in die laat 1700’s gebore is. Dié vername hoofman word onomwonde as een van die grootste helde in die Xhosa-geskiedenis beskou. Nie net was hy een van Afrika se grootste weerstandsleiers gedurende die koloniale tydperk nie, maar hy was ’n uitsonderlike krygsman en, ’n rariteit, ’n voorstander van vroueregte. Hy het in die 19de eeu drie van die nege Grensoorloë tussen koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens gelei nadat van die gebiede in die Rharhabe-koninkryk se jurisdiksie met geweld beset is. Maqoma is uiteindelik in hegtenis geneem en na Robbeneiland verban toe hy Xhosa-grond van die Britse koloniseerders teruggeëis het. Hy is in 1873 op die eiland oorlede.
In ’n onlangse onderhoud met Diane de Beer vir INK reken Maqoma, wat binnekort uittree, dat hierdie werk sy loopbaan tot groter hoogtes geneem het en ook baie deure vir hom en ander mense geopen het. Daarbenewens word belangrike kwessies in die emotiewe stuk aangeraak: “Dit is ’n werk wat steeds die vrae rakende grond, gedwonge verskuiwing en die uitwissing van geskiedenis versterk. Om hierdie werk na Stellenbosch te bring, waar die omstredenheid oor Stellenbosch se grondbesit en ekonomie gekoppel is aan breër kwessies van grondherverdeling, welvaart-ongelykheid en historiese bevoorregting in Suid-Afrika, sal hopelik ’n gesonde gesprek oor historiese ongeregtighede aanwakker.”
Die klankbaan van die vertoning word regstreeks agter ’n groot deursigtige skerm uitgevoer. Die ongelooflike Giuliano Modarelli op kitaar word ondersteun deur vier kragtige stemme – Tobela Mpela, Sizwe Nhlapo, Xolisile Bongwana en Lubabalo Velebayi. Voeg hierby ’n kreatiewe gebruik van eenvoudige visuele komponente soos sand wat uit die dak lek en olie wat hy oor homself uitstort – en wat hom skoon anders laat lyk – en jy sit uiteindelik met ’n vertoning wat jou geheel en al asemloos laat. Kragtig, roerend, Maqoma.