EasyEquities SKRYWERSFEES
Die kultus van Taylor Swift
Produksie: It’s me, hi! (13 perspektiewe op Taylor Swift)
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf
Ek het kollegas, broerskinders, susterskinders en etlike mense wat my al tot vervelens toe van die talent van Taylor Swift probeer oortuig het. Ek het al vele kere die saak met werklike erns benader – albums geluister, na die oorreders geluister, selfs na die editor van Time, wat haar op die voorblad van die tydskrif gesit het. En okay goed, daar is hier en daar meriete. Van haar liedjies is mooi, van hulle baie catchy. Ek het so baie van een van die liedjies gehou dat ek dit in ’n storie in ’n kortverhaalbundel gebruik het. Ek het wel nog nie enige van haar shows gesien nie, gaan ook nie, so ek sal julle maar moet glo dat dit absoluut amazing is.
Stom was my verbasing toe ek sien daar is ’n hele paneelbespreking – met 13 panellists, have you ever, maar dis blykbaar een of ander belangrike getal, soos wat nommer 3 en 7 vir ’n ander baie bekende geloofsoortuiging is – om te praat oor die meriete van Taylor Swift.
Kan. Nie. Wag. Nie.
Ek sit buite Die Khaya en wag vir die praatjie om te begin en hou intussen die mense dop. Jy wil mos nou mooi kyk wie daag 22:30 op ’n Vrydagaand op vir ’n geloofsgesprek. Heelwat meisies tussen die ouderdom van 20 en 30. Hier en daar ’n ma en dogter. Ook, ’n ma en haar seun. ’n Klompie meisies en hulle kêrels en ook ’n groot kontigent kêrels en hulle kêrels. Ook twee verdwaalde middeljarige vroue; die ander middeljariges was ek en die INK-redakteur, Marchelle van Zyl, so dit tel nie. All in all so naby aan 80 mense. My ongekultiveerde bek hang oop.
Ek moet bieg, ek het iewers tussen ’n halleluja en ’n amen opgestaan en buite gaan sit met my wyn en my trane.
Anyway. Die gesprek skop af. So drie-drie kom sit ’n hele klomp slim mense, joernaliste, akteurs en musikante (!) op die verhoog en verduidelik hoekom Taylor hulle only lord and saviour is. Hoe amazing sy met die metafoor omgaan. Hoe sy albums vol liedjies vir haar exes geskryf het (verskoon die parentese, maar gaan Google onmiddellik “Taylor Swift and Stevie Nicks boyfriend meme” en dan volstaan ek daarby, Your Honour) en hoe wonderbaarlik nederig sy is om nie haar vorige selwe ooit aan die wêreld te deny nie. Sy het dit met die Eras-toer gedoen. As ek reg verstaan het sy AL die ou Tay-Tays en hulle musiek ook verhoog toe geroep. Ek wonder toe by myself, maar dit klink mos nou onrusbarend baie na ’n Greatest Hits Tour, waarvan ek persoonlik al ’n paar bygewoon het. Fleetwood Mac en die Rolling Stones, sover ek kan aflei, het ook nog nooit al hulle vorige Fleets of Stones deny nie. Maar goed, wees stil, u dienaar luister.
En dan, die metafoor. As jy al haar liedjies so goed ken dat jy almal van begin tot einde kan saamsing, sal jy besef hoe toor sy met die metafoor. Vra nog ’n INK-joernalis wat ook vinnig by die gesprek kom inloer het per WhatsApp: “Het hierdie kinders nog nooit van Bob Dylan gehoor nie?” Skynbaar nie.
Daar was ook ’n gay-conspiracy op die kaarte, musiek en gedigte. Ek moet bieg, ek het iewers tussen ’n halleluja en ’n amen opgestaan en buite gaan sit met my wyn en my trane. Ek en Marchelle unpack die scenario en kom tot ’n paar gevolgtrekkings: Dis duidelik ’n kultus. Dis ook baie duidelik dat almal se algoritmes hulle al só ver in die ether afgetrek en opgedonner het, dat hulle geen blootstelling het aan die musiek van Tori en Sinéad en Tracy en Annie en Melissa en … ag, dit maak seker nie regtig saak nie.
Nie een enkele argument gaan my daarvan oortuig dat Taylor Swift nié klink soos die understudy in ’n hoërskoolrevue nie. Ja, sy kan noot hou. Ja, sy het ’n paar wonderlike songs. Ja, sy is ’n besigheidsvrou sonder weerga en korrek, sy kan nie ’n kêrel vir langer as een era hou nie, blyk dit. En dis als okay. You do you, boo. Ek sal eerder na die ou tantes met die goeie of die uniquely different stemme (en ja, ook verstommende metafore en songs) luister. En as daar iewers ’n Tay-Tay in die playlist op-pop, no harm done.
I really, really don’t hate her. I just don’t give a f*ck.
Maar voor ek met eiers gegooi word, ’n laaste woord: Die Taylor-kultus voel so kléin bietjie te veel soos daai ander geloof. Die grootste aanhangers is nóóit die ideaalste bemarkers nie, nè? Dis toe nooit jy wat die probleem is nie, Taylor. Dis jou fans.