FOTOALBUM

'Ink' se gunstelingfoto’s

Produksie: Woordfees
Foto’s: Nardus Engelbrecht 

NARDUS ENGELBRECHT het gedurende die Toyota Stellenbosch Woordfees baie produksies bygewoon en afgeneem. Ink se redakteur, Marchelle van Zyl, het van haar gunstelingfoto’s gekies wat hy geneem het. Die foto’s vertel ’n storie van die produksies en die kunstenaars wat deel was van die fees. 

Hooffoto: ’n Dag in die lewe van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde trilogie. ’n Kunssinnige vrugtevlieg raak verlief op Timothée Chalamet op die stel van Call Me by Your Name. ’n Mot met die hart van ’n vlinder probeer ’n verhouding aanknoop met ’n kersvlammetjie gedurende die onsekere dae van beurtkrag. ’n Depres­siewe spinnekop betree die wêreld van mede­dingende klopdans in ’n poging tot self­aanvaarding. David Viviers en Wessel Pretorius keer terug met drie nuwe verhale oor drie onwaar­skynlike helde.

Met David Viviers, Wessel Pretorius
Regisseur en skrywer Wessel Pretorius

Stinkhout: Elf jaar het verloop sedert Louw (Wilhelm van der Walt) laas op die familiegrond was. Nou is hy terug uit Londen vir die begrafnis van sy jonger broer, Schalk. Albei seuns se verhouding met hulle pa, Gert (Frank Opperman), was van kleintyd af troebel. Hulle ma, Amanda, is die een wat liefde betoon het, hulle betrek het by haar kompulsiewe blomplantery in goedversorgde beddings langs ’n reusestinkhouboom wat jare lank oor geslagte se doen en late gewaak het. 

Regisseur en skrywer Philip Rademeyer
Beligtingsontwerp en tegniese versorging Andi Colombo

Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes: Van Rosa Keet se ouer werke tot splinternuwe ongepubliseerde gedigte vertel hoe sy dink oor vrouwees, verlies, geloof, die stand van die wêreld en die Facebook-selfie. Meestal met ’n knypie ironie of ’n grepie humor – en altyd slim. Van der Merwe en Gryffenberg speel verhoogtennis met die gedigte, en van vermaaklike woordspel tot treffende filosofiese gegewe lê gemaklik in die monde en lywe van dié twee veterane. 

Met Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg
Vervaardiger en regisseur Henriëtta Gryffenberg
Skrywer Rosa Keet
Visuele kunstenaar Michèle Nigrini

Exit/Exist: Gregory Maqoma is ’n gevoel; ’n hele reeks emosies. Hy neem besit van die teater en almal daarin wat, soos in ’n beswyming, na hom sit en kyk. As hy van Hameln was, het daar sweerlik ná die vertoning ’n groot gros mense in Victoriastraat agter hom aangestreep. Hy is gemáák van beweeg. 

Hy sê self: “Binne die grense van kulturele en familieverwagtinge het ek die transformerende krag van beweging ontdek. Dans het my taal geword, ’n rebellie teen norme wat uitdrukking wou beperk. Soweto het ’n plek geword waar elke stap wat ek geneem het, die veerkragtigheid van ’n gemeenskap weerspieël wat deur die kompleksiteite van identiteit en tradisie navigeer.”

Regisseur James Ngcobo
Musiek Simphiwe Dana
Musiekregisseur Happy Motha
Choreografie Gregory Maqoma
Musiekverwerkings iComplete Quartet
Kitaarkomposisies, -verwerkings en -uitvoering Giuliano Modarelli

Hedda Gabler: So skouspelagtig en vervlietend soos ’n komeet deur die hemelruim, so begogel en verskroei Henrik Ibsen se mees komplekse vrouekarakter, Hedda Gabler, almal wat oor haar pad kom of in haar pad staan. Ook in Christiaan Olwagen se nuwe produksie wat hier by die Woordfees op Stellenbosch debuteer.

Met Rolanda Marais (Hedda), Albert Pretorius (Tesman), Ludwig Binge (Løvborg), Martelize Kolver (Juliana), Ashley de Lange (mev. Elvsted) en Stian Bam (Brack).

Hollywood, the exuberant production from LAMTA (Luitingh Alexander Musical Theatre Academy), is at heart an homage to the Hollywood of the 1950s and in particular the golden age of the Hollywood musical. It is a loving tribute to when movies were shot on studio back lots, when Gene Kelly, Fred Astaire and Ginger Rogers could be found on sound stages, when musicals were the rage, and no one blinked an eye when a film contained an extended dance sequence.

Koos Kombuis en vyande: Koos Kombuis het die gehoor op ’n nostalgiese reis geneem deur sy musiek, maar daar was ook solo’s en duette van Anton Goosen, Valiant Swart, Dagga Dirk Uys, Janine Neethling, Nicole Holm, Lila Groenewald, Liza Joubert, Schalk Joubert, Willem Möller en Gert Vlok NelAnton L’Amour was vir die eerste keer in vier jaar – en bykans drie jaar ná die dood van Theuns Jordaan, vir wie hy amper eksklusief gespeel het – weer op die verhoog. Jannie blaas daai tromboon sekuur, soos altyd. Nicole se stem is hemels, en hoe lekker is dit om weer vir Janine terug te hê in Suid-Afrika!

Kruispad en die legende van die goue vis: ’n Jong paartjie, Roland en Laura (Carla Smith en Edwin van der Walt), klop een wintersnag aan by die huis van ’n eksentrieke alleenloper, Oswald (Eben Genis), nadat hulle ryloopplanne skeefgeloop het en hulle ’n oornagplek soek teen die koue. Uit die staanspoor is dinge duidelik nie heeltemal pluis nie. Oswald se gedrag raak al hoe vreemder, en die grense tussen werklikheid en fantasie, hede en verlede, feit en fiksie begin so glibberig raak soos die toegesneeude paaie buite die hut in die woud.

Regisseur Marthinus Basson

Speelgoed van glas: ’n Nuwe vertaling en verwerking van Tennessee Williams se tydlose meesterstuk The Glass Menagerie. Ontknoop die fyn web van liefde en verlies, gespin deur ’n matriarg om haar gesin tot elke prys bymekaar te hou – en hoe graag elkeen van hulle wil ontsnap. Speelgoed van glas is ’n boeiende, hart­roerende uitmekaarskeurverhaal, ’n meesleurende verkenning van broosheid, verlange en die feilbaarheid van familie. 

Met Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Mark Elderkin 
Regisseur, vertaler, ontwerp Nico Scheepers 
Skrywer Tennessee Williams

Tollie Parton en Greetje Appelmoes: Tollie Parton is ’n wulpse drag queen met ’n groot hart en ’n piepklein wag voor haar mond. Greetje Appelmoes is Casper de Vries se kort en kleurryke Hollandse tannie wat die lewe met ’n glimlag en ’n knippie sout benader. Albei deel graag raad en menings oor komplekse wêreld­gebeure deur ’n komiese lens. Temas soos oorlog, die wisselkoers, Trump, AI, die metaversum, pannekoek en haarsproei word bespreek. 

Met Wynand Kotze, Casper de Vries
Regisseur Carien Loubser

Facebook
Twitter
LinkedIn