TONEEL
Dowds maak die klassieke ‘Elvis du Pisanie’ sy eie
Produksie: The Return of Elvis du Pisanie
Skrywer: Johan van Zyl
Foto’s: Verskaf
In Paul Slabolepszy se byna klassieke eenmanstuk The Return of Elvis du Pisanie loop ’n geknakte man terug op sy spore om uit te werk waar sy lewe die pad byster geraak het. Ashley Dowds is meesterlik in die titelrol terwyl hy die een oomblik jou hart warm vryf en die volgende oomblik in stukkies breek – en jy lag ook tussendeur.
Teen ’n lamppaal in Union Crescent, Witbank, leun ’n droewige figuur. Hy wag op ’n wonderwerk. Net hier, regoor die bioskoop waar hy as laaitie Dick Tracy-flieks verslind het, het die 16-jarige Elvis-betottelde Eddie du Pisanie sy liefde vir Lydia Swanepoel teen die paal uitgekerf.
Maar nou is dit 30 jaar later en die 46-jarige verkoopsman is plát teen die grond: Hy het vroeër die dag sy werk verloor en besluit om homself in sy kar te vergas. Dié poging word egter “gefnuik” wanneer hy, met die eerste koolstofmonoksieddampe klaar in sy neus, die motorradio aanskakel en Elvis lostrek met “Is your heart filled with pain? Shall I come back again? Tell me, dear, are you lonesome tonight…”
Die liedjie is die teken waarop die geknakte Eddie gewag het. Dalk is Elvis tog nié dood nie – mense het hom immers onlangs weer in Marble Hall en Beaufort-Wes en Witbank gewaar. Nog in sy werksklere besluit hy om terug te jaag na sy grootworddorp, Witbank, waar ons hom dan onder die einste lamppaal in Union Crescent ontmoet. Hy wag op Elvis.
“Are you lonesome tonight” word ’n herhalende motief deur die storie en diep by Eddie ’n lewensveranderende gebeurtenis uit sy kinderjare op wat hom deur die res van die stuk laat terugstap op sy spore om uit te pluis hoe en waarom hy die pad byster geraak het.
In die jongste produksie van dié solostuk werp Ashley Dowds hom lyf en siel in die rol wat Paul Slabolepszy oorspronklik vir homself geskryf het. In 1992, lees ek, het Slabolepszy elke moontlike teaterprys gewen vir sy vertolking. Nou is hy in die regisseurstoel.
Dis ’n goedgestruktureerde, veelvlakkige storie wat interessant vertel word – danksy allerlei wendings wag jy met ingehoue asem, nooit heeltemal seker wat alles dié dramatiese nag gaan gebeur nie.
Dalk is Elvis tog nie dood nie – mense het hom immers onlangs weer in Marble Hall en Beaufort-Wes en Witbank gewaar.
Vir Dowds moet dit ’n intimiderende, uitdagende ervaring wees (of gewees het), maar met die skepper van die stuk aan die stuur van sake ervaar hy sekerlik ook ’n mate van geborgenheid. Dit is ’n fisieke rol wat veel eis van ’n akteur, maar Dowds slaag met vlieënde vaandels daarin om kristalhelder lewe te gee aan Eddie en ’n hele rits ander karakters – van sy pa, Stefaans, wat teen Rommel geveg het, tot die lieflike Lydia. Hy het die Oos-Randse aksente, gesigsuitdrukkings, liggaamshoudings en allerlei klanknabootsing meesterlik onder die knie. Die spoeg en die sweet spat. Die een oomblik lag jy, die volgende oomblik voel jy die trane brand. Voorwaar goeie teater wat ’n veel groter gehoor verdien as op openingsdag.
The Return of Elvis du Pisanie
4 OKT 18:00, 6 OKT 18:00
75 min | Adam Small-laboratorium
R190 | R220 by die deur
Geen o.12’s