TONEEL
Met Mavis en Bettie in jou hoek kan jy enigeen aanvat
Produksie: Double Trouble: Bettie innie selle & Chronicles vannie Lavis
Skrywer: Jo-Ann Floris
Fotograaf: Gys Loubser
Dis twee vroue wat mens nie moeilikheid mee soek nie, die Mavis vannie Lavis en Bettie. Die een slat met die mond, die ander een met die hak van haar skoen, apparently.
En apparently (Antie Bettie se gunsteling-woord) is dit die wat geslaan word, se eie skuld, want wie nie hoor nie, moet voel. En die wat nonsense aanjaag, moet weet dis twee vroue wat sal baklei vir hulle mense.
Mavis kry die eerste woord in in die dubbelspel – twee toneelstukke in een. ’n Baie ongewone konsep, wat begin het by die Suidoosterfees vanjaar waar die stukke 21 minute lank was, 21 nuwe stukke geskep is en kaartjies teen R21 verkoop is ter viering van hul mondigwording.
Daaruit het die idee gekom om Chronicles vannie Lavis en Bettie innie selle saam te gooi. Soos Rafiek Mammon, regisseur van Chronicles dit stel: “Mense likes die idea van starter portions entertainment”.
Mense wat Mavis op sosiale media volg, weet teen dié tyd daar is geen wag of filter voor daai mond nie. Sy vat vryheid van spraak tot op ’n heel ander level, kap met hom wilde draaie, en sommer ’n paar doughnuts ook, net omdat sy kan.
Veronique Jephtas het in hart en siel en wese Mavis geword en mens sal haar nou moeilik van die rol kan skei. Want soveel as wat Mavis ’n baie openbare persona is, weet niemand wie sy werklik is nie.
En as daar mense is wat weet, sal hulle dit nie waag om iets te verklap nie.
Met Jephtas so oortuigend in die rol, sal sy nou maar daarmee vir lief moet neem dat sy die gesig van Mavis geword het.
Die einste Mavis vir wie die dominee die hande wou oplê toe sy nog kind was, want “glo het ek ’n opstandige gees” wat hy moes tem.
Gmpffff, laat sy rustig hoor: “Vir my word nie hanne opgelê nie, hy kan maar aan daai kerksusters van hom se koeke gaan vat!”
Die gehoor trek kollektief hul asem op, dan dreun die saal soos mense lag. Dit is presies wat Mavis ook deur haar sosialemedia-skryfsels regkry.
Maak nie saak hoe kras dit klink nie, maak nie saak of jy partykeer voel of dit jou wind uitslaan nie. Gepraat sal iets gepraat word.
En die boodskap is altyd een wat duidelik verstaan word. Mavis het die vermoë om komplekse sake met ’n lag en ’n vloekwoord en ’n skelwoord so uit te pluis dat dit vir jou sin maak.
Vir my word nie hanne opgelê nie, hy kan maar aan daai kerksusters van hom se koeke gaan vat!
Skaars het almal asem gesluk oor die dominee, of Mavis laat loop. Oor belustige mans, die buurvrou se kind wat heeldag sit en niks doen “behalwe om met haar p**s te speel nie”, kinders met lelike maniere.
Als ondervang deur vlymskerp sosiale kommentaar.
Mavis is wie ons almal eintlik wil wees – die selfvertroue, die moed van oortuiging, die ongelooflike kennis, die kuns om al daai goed te verpak en verteerbaar aan te bied.
En die lag. O, die gawe om mense te laat lag en dink.
Mens stik nog van die lag oor die kwien van die Cape Flats, dan verskyn Bettie daar onder die fel ligte van die polisiekantoor. Nie ’n lekker plek om te wees nie, maar die lady wat sy is, staan die antie daar met haar shawl om die skouers, oorbelle, juweliersware. Sy moet dié kant toe draai, dan daai kant toe vir die polisiefoto.
Maar sy is nie bekommerd nie, want almal ken haar mos, en sy kan nie glo sy het soveel fans oral wat net foto’s van haar wil neem nie.
“Tag my op Facebook,” laat hoor sy toe die polisieman klaar haar foto’s geneem het.
“O, die klong ruik darem lekker, ek wonder watse colon hy gebruik,” laat sy val.
Net daar is dit weer uit die maag uit lag, want die karakter wat Dean John Smith (van Suidooster-faam) geskep het, is daardie antie wat almal laat lag met haar verkeerde name en woorde en uitsprake.
Daar val nog ander juwele, soos wanneer sy tronkstories deel van die karakters wat sy in die selle ontmoet het, en baie slim ’n paar lyne uit die musiekblyspel Chicago inspan om die storie kleur te gee.
Hoekom is sy self in die selle? Wel, dis ’n storie oor Mrs Patel en die hamper-geld wat betaal is, maar van die hampers self is daar nie teken nie. Sy wat Bettie is het nie geld verloor nie want sy koop mos nie Shoprite stamps nie, maar ongeregtigheid sal sy nie duld nie.
Nou ja, toe sy die dag vir Mrs Patel voor die House&Home sien staan, toe kan sy haarself nie keer nie, toe trek sy haar skoen uit. Dit het toevallig ’n lekker hak. Toe stoot iemand haar, en wraggies, daar maak Mrs Patel se voorkop kennis met die hak van Bettie se skoen. Nou moet Bettie maar please explain.
Hierna volg van die ander snaaksste dele uit die stuk – Bettie voor die magistraat. Luister hoe praat sy met die “errolagblare”.
Koop die kaartjie, gaan beleef die powerhouses. Kry die twee vroue aan jou kant.
Double Trouble: Bettie innie selle & Chronicles vannie Lavis
6 OKT 12:00
60 min | Rhenish Girls’ High School
R100-R160 | R130-R190 by die deur