TONEEL
Ons kwesbare bande van bloed en trane
Produksie: Onder ’n bloedrooi hemel
Skrywer: Marina Griebenow
Fotograaf: Llewellyn de Wet
Die welbekende frase “O wye en droewe land” kan natuurlik nie aan Annemarié van Niekerk, skrywer van Onder ’n bloedrooi hemel, toegedig word nie. Tog is dit die mees beknopte samevatting van haar lywige memoir met sy magdom temas, feite en rolspelers wat die bekroonde dramaturg, akteur en regisseur Nicola Hanekom geslaagd tot ’n aangrypende drama van 90 minute verwerk het, met net drie akteurs.
Hanekom se kennis van die verhoog- en verhaalkuns is ongetwyfeld die waardevolste stuk gereedskap in die hande van die verbeeldingryke regisseur Marí Borstlap. In ’n onderhoud in die Augustus-uitgawe van die tydskrif Klyntji verduidelik Hanekom dat die omvang van die werk nie haar grootste uitdaging was nie. “Dit was dat dit nie fiksie is nie, maar die waarheid. As iets werklik is, kan werklike mense seerkry, word werklike mense blootgestel en geraak.” Teater dwing jou om dinge tot die kern te stroop, want jou tyd is beperk. Sy waarsku egter dat jy nie só moet snoei dat die skrywer se stem verlore gaan nie. “Omdat nie alles ingesluit kan word nie, is daar groter ruimte vir misverstand.”
Weens die gebeure wat die ontbrandingspunt van die aksie in die drama is – ’n plaasaanval op Pinevale in die Oos-Kaap waarin Ruben Gouws, ’n vriend van Van Niekerk, en sy bejaarde ma, Hermien, vermoor word – moet Hanekom se vermaning ter harte geneem word. Dit geld veral vir plaaslike gehore. Feitlik almal in ’n hoofsaaklik Afrikaanse gehoor dra kennis – eerste- óf tweedehands – van ’n soortgelyke tragedie. Die wyse waarop die Afrikaanse media berig oor plaasaanvalle beteken ook dat daar ’n sterk bewussyn daaroor bestaan, en so baie in Onder die bloedrooi hemel kan dien om reeds getraumatiseerde mense opnuut te ontstig.
Van Niekerk woon al lank in Nederland en het van daar af teruggekeer na Suid-Afrika vir die begrafnis van Ruben en sy ma. Hulle moord en die daaropvolgende hofsaak noop haar om ’n bestekopname van haar lewe – en veral haar verlede – te doen. Om by die begin te begin, by wyse van spreke.
Voor die drama egter sy loop neem, word die gehoor (veral diegene wat nie die boek of die feesgids se opsomming gelees het nie) stilisties dog treffend bewus gemaak van die moorde wat plaasgevind het. Cintaine Schutte, in die rol van Van Niekerk, kyk bewoë na ’n stel mansklere en ’n stel vroueklere wat voor op die verhoog oor twee stoele gedrapeer is, in ’n deel wat met die bekende rooi-en-wit polisieband afgesper is en ’n misdaadtoneel aandui. Die krakerige refrein op die burgerbandradio waarmee dié toneel eindig, laat jou maag draai: “India 5, kom in, asseblief! Hallo, India 5!” Natuurlik antwoord niemand nie, en jy sit daar en dink aan jou oom in Noordwes wat met ’n koeëlvaste baadjie moes boer en jou neef se vrou wat haar pa verloor het en wie se jong boetie lewenslank ’n kateter moet dra nadat hy in dieselfde aanval geskiet is. Daar is talle meer.
In haar beskrywing van die hofsaak wat op die plaasmoord volg, vertel Van Niekerk dat sy een nag gedroom het sy word self voor die hof gedaag. Haar reaksie op die regter se vraag oor wie sy is, gebruik Hanekom as die punt waarop Schutte direk met die gehoor begin praat – as haar karakter en nie as die verteller nie. Net daar druk sy haar vinger in die oop wond van ambivalensie wat nog by so baie Afrikaanses heers.
“Dis ingewikkeld. Waar moet ek begin. By: ‘Ek is ’n Suid-Afrikaner? Ek is ’n Afrikaner?’ Die produk is nie die som van die dele nie. Oral is daar nate en breuke, oorgange… Die een oomblik dink jy dat jy dit verstaan en die volgende oomblik ontglip dit jou weer. Ja, wie is ek?” Jy as gehoorlid voel hoe jy meer regop in jou stoel sit, met jou oë stip op Schutte gerig, wagtend om te sien of hoor of daar ’n antwoord op die vraag is.
Die drie karakters wat gekies is om die verhaal oor te dra is natuurlik Van Niekerk self; haar pa, (Deon Lotz), wat tot elke prys met oorvloedige liefde en Calvinisme die kwaad van haar af wou weghou soos die dolosse in die Baai die woeste see wil beteuel; en Denzel (Brendon Daniels), ’n swart medeskrywer en -akademikus met wie sy lank ’n verhouding gehad het tot sy gewelddadige woede-uitbarstings uiteindelik op ’n breukspul uitgeloop het.
Die drie akteurs in Onder ’n bloedrooi hemel tel onder ons bestes – op die verhoog, op die silwerskerm en ook op TV. Schutte neem ongetwyfeld die groot verantwoordelikheid op haar skouers om die skrywer uit te beeld baie ernstig op, asook haar rol as die verteller. Dis nie ’n maklike taak om ’n lewende persoon uit te beeld nie, maar daar is altyd ’n egtheid omtrent Schutte se spel wat jou intrek en bewus maak van ’n karakter se weerloosheid.
Die grootste uitdaging was dat dit nie fiksie is nie, maar die waarheid. As iets werklik is, kan werklike mense seerkry, word werklike mense blootgestel en geraak.
Daniels het die ondankbare taak om ’n geweldenaar uit te beeld wat die meeste mense as sjarmant, gelese en berese beskou, maar wat ’n donker geheim saamdra. Hy laat jou amper verstaan waarom Van Niekerk dikwels ná ’n gewelddadige onderonsie bereid was om die skuld te dra. “Ek is ’n moeilike mens om mee saam te leef,” het sy gesê.
Lotz is ’n meesterlike verkleurmannetjie. Hy slaag uitmuntend daarin om die verkramptheid van daardie geslag pa’s vas te vang sonder dat hy stereotipies voorkom. Hy maak jou ook bewus van sy verskeurdheid omtrent sy dogter se keuses en lewer pragspel wat jou intrek in die gevoelswêreld van daardie karakter.
As regisseur is Borstlap veral bekend vir haar sterk visuele simboliek en die manier waarop sy elemente van Jungiaanse denke inspan in haar produksies. “Ek het doelbewus nie met realisme of naturalisme gewerk nie. Ek voel baie veilig en ek is baie vertroud met ’n meer abstrakte of meer simboliese ondersoek van tekste,” verduidelik sy in die Klyntji-onderhoud.
Die beste en mees onlangse voorbeeld van haar ontwerpstyl was waarskynlik in die reuseproduksie van La Traviata wat Kaapstad Opera verlede jaar aangebied het. Dit was ryk aan tekstuur en kleur, gul, nuwerwets en uitdagend. In Onder ’n bloedrooi hemel kies Borstlap, heel gepas, neutrale en grondkleure om die landskap van Suid-Afrika vas te vang: hoë bruin skerms wat ’n halfmaan vorm, met oop ruimtes tussenin, en groen en oker aksente, veral in die kostuums. Twee breë trappe wat as ingange dien, rond die halfmaan af en skep ’n gevoel van diepte.
Die eenvoudigste simbool is uiteindelik die sterkste een. Rooi wol wat op- en afgerol word en wat om goed gedraai word om beweging te voorkom, is simbolies van die verhoudinge in ons lewens – bande wat ons bind, bande wat verbreek word, bande wat losraak, bande wat hervat word, en nog vele meer. In die konteks van die toneelstuk herinner dit sterk aan die beskerming wat bande bied as ’n mens dink aan Ariadne, die prinses van Krete, wat haar geliefde Theseus probeer veilig hou deur aan hom rooi wol te gee sodat hy sy pad uit die dwaaltuin kan vind. ’n Groot dwaaltuin pryk op een van die houtskerms en ’n mens weet dis hoe ons land en die lewe soms is: ’n dwaaltuin waaruit jy nie jou weg na veiligheid kan vind nie.
Vir diegene wat die einde van die boek onthou, sal dit sin maak. Van Niekerk beskryf hoe sy terugkeer na Nederland ná die afhandeling van alles. “In die trein van Schiphol na Den Haag skuif ’n onberipelike winterwêreld agter die vensters verby. Alle emosie en kwesbaarheid is daaruit weggewerk. Suid-Afrika is tienduisend kilometer hiervandaan. Ek is weer veilig. Maar wat doen ek eintlik hier?”
Die storielyn word verder aangevul met ’n vernuftige klankbaan deur Wilken Calitz, terwyl kunstige videobeelde van Richard Thomson die gedagtewêreld van die karakters weerspieël soos in ’n koorsdroom. Faheem Bardien is verantwoordelik vir die atmosferiese beligtingsontwerp, gewoonlik die moeilikste aspek van enige feesproduksie weens die kort intrektye wat die tegniese mense het om alles ingestel te kry voor die gehoor by die deure begin saamdrom.
Alles dra daartoe by dat die groot gehoor vasgenael bly tot die laaste lig uitgedoof word. Die gehoor is aanvanklik stil, maar dan kom hulle op hulle voete en beloon die produksie met uitgerekte en welverdiende staande applous.
Op ’n persoonlike noot het ek my uit die staanspoor ongelooflik met die skrywer vereenselwig. Ons is karperde wat ons ouderdom betref, en daarom is die wêreld wat sy beskryf, soos my eie. Sy was in Hoërskool Framesby en ek in Hoërskool Despatch. My pa was ’n konserwatiewe NG predikant wat nie altyd sy rebelse oudste se keuses kon goedkeur nie, en weens my loopbaan by die nasionale Parlement. Boonop het ek dikwels direk te doen gehad met baie van die mense met wie Van Niekerk kennis gemaak het in haar loopbaan as skrywer en akademikus. Ek vermoed die ambivalensie wat sy so goed beskryf, sal tot in lengte van dae voortduur. (Terloops, ek was onlangs in die Baai en die dolosse verkrummel van ouderdom en kan nie meer die see uithou nie.)
Onder ’n bloedrooi hemel
29 SEPT | 10:00
1 OKT | 10:00
2 OKT | 20:30
90 min | Rhenish Girls’ High School
R200-R300 | R230-R330 by die deur