TONEEL

Gee hierdie potplant water!

Produksie: Die potplant: ’n Tragedie
Skrywer: Ilza Roggeband
Fotograaf: Nardus Engelbrecht; Llewellyn de Wet

So slim. So verskriklik slim. Snaaks en roerend. Uitsonderlike talent wat komedie, patos en sang meng en ’n gehoor vir amper ’n uur in die palm van die hand hou. En dit alles oor ’n potplant. Of, wel, potplante. 

Karli Heine se Die potplant: ’n Tragedie het vanjaar as ’n Lucky Pakkie-produksie – die produksies was almal slegs 15 minute lank – op die KKNK gedebuteer. By die Kannas het sy die toekenning gewen as die beste Lucky Pakkie by die fees en dit het die bal aan die rol gesit om dit uit te bou tot 50 minute.

Die potplant: ’n Tragedie gaan oor verskeie potplante en hulle stories. Dit begin met die hartseer, stowwerige kantoorplant wat almal afskeep… maar verder durf ek niks verder weggee nie. Weet maar net dat jy hierna anders na enige plant in ’n pot gaan kyk.

Karli, wat deur Grethe van der Merwe op klavier begelei word, het self die stuk geskryf en vir Dean Balie as haar regisseur gekry. Dus talent op talent op talent.

Die teater by Eendrag was volgepak en die gehoor het hard gelag, maar was ook met tye tjoepstil terwyl die een verhaal ná die ander vertel is.

Hierdie produksie word aanbeveel vir almal, veral dié wat van hulle komedie aweregs hou en ’n waardering het vir oorspronlike Afrikaanse kabaret.

Mag hierdie potplant baie water kry en mag dit nie net van fees tot fees trek nie, maar ook na intieme teaters reg oor die land. 

Die potplant: ’n Tragedie
1 OKT 10:00
3 OKT 11:00 
50 min | Eendrag-teater
R190 | R220 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn