KLASSIEKE MUSIEK

Wanneer twee kreatiewe kragte bots

Produksie: Hoe mooi val die lig
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Mark Cloete

Wat ’n plesier is dit nie wanneer ’n produksie op jou pad kom waar nie net elke element jou mateloos beïndruk nie, maar ook ’n verhaal vertel wat jy nie geken het nie. 

In 1837 ontmoet Amantine Lucile Aurore Dupin de Francueil, beter bekend as die Franse skrywer en feminis George Sand, en die Poolse komponis Frédéric Chopin mekaar deur Franz Liszt, ook ’n komponis. Chopin word aanvanklik afgeskrik deur Sand wat mansklere dra en sigare rook, maar kort voor lank begin hulle ’n verhouding, een wat as een van die grootstes in die romantiese era beskou word.

In Hoe mooi val die lig word hierdie liefdesverhaal vertel met ’n indrukwekkende Liza-Marie Loubser as Sand en die pianis José Dias wat geen dialoog het nie, maar Chopin se werk meesterlik op die klavier uitvoer.

Riana Scheepers se woorde vloei met net soveel passie as Chopin se komposisies.

Die teks vir die stuk is geskryf deur Riana Scheepers en die woorde vloei met net soveel passie as Chopin se komposisies. Die regie is deur Niël Rademan en dit is duidelik dat hierdie ’n produksie is wat hom na aan die hart lê.

Hoe mooi val die lig is nie net vir fynproewers nie. Dit is ’n liefdesverhaal wat vertel wat gebeur wanneer twee kreatiewe geeste bots, en bowenal is daar die meesterlike klanke van Chopin.

Die eerste vertoning was uitverkoop, en daar is nog net een vertoning oor. Spring dus vinnig as jy ’n kaartjie wil hê.

Hoe mooi val die lig
1 OKT 16:30
60 min | Drostdy-teater
R190-R230 | R220-R260 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn