KINDERTEATER
Pampoenpit is pure plesier
Produksie: Pampoenpit se groen gevoel
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf
Die sukses van kinderteater kan aan ’n paar dinge gemeet word: Die storie, hoeveel dit vermaak, hoe dit visueel voorgestel word, maar bowenal hoe dit die jong gehoor vasvang en laat saamwerk.
Kyk, kindertjies is nie maklike teatergangers nie. Hulle het nog nie ’n wag voor die mond nie, en wanneer ’n ding hulle verveel, gaan hulle dit wys. Pampoenpit se groen gevoel slaag egter die toets met vlieënde vaandels.
Die storie word vertel deur drie spelers vertel: Anzio September, Margo Kotze en Miché van Wyk, wat elk verskillende karakters speel. Anzio is onder meer verantwoordelik vir Pampoenpit, wat ’n handpop in die produksie is. Die skrywers is die talentvolle Bianca Flanders en Dean Balie, met Bianca wat die regie hanteer. Pampoenpit is natuurlik die allerlieflike karakter wat Bianca in haar kinderboeke geskep het wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is.
As ek sê pampoen, dan sê julle pit!
In Pampoenpit se groen gevoel is daar ’n talentkompetisie in die tuin van Pampoenpit se ouma, en Pampoenpit is vol vertroue sy gaan die wenner wees. Die wenner is egter die nuwe meisie in die skool, die een met die pienk hare, en dis hier waar die jaloerse groen monster sy kop uitsteek. Ná ’n gesprek met haar wyse ouma besef Pampoenpit sy moet haar omgee terugkry sodat sy nie net die teleurstelling kan verwerk nie, maar ook die groen monster in sy peetjie stuur.
In die 45 minute van die produksie het die kinders in die gehoor vasgenael gesit, en wanneer hulle gevra is om deel te wees het hulle dit met oorgawe gedoen. “As ek sê pampoen, dan sê julle pit!” word op ’n kol gevra. Ek is seker daar is meer as een kind in die gehoor wat môre en oormôre nog gaan sê: As ek sê pampoen, dan sê julle pit!
Moenie twee keer dink om die kinders te neem nie. Doen ook jouself en hulle ’n guns en koop die boeke. Julle sal nie spyt wees nie.
Pampoenpit se groen gevoel
30 SEPT 10:00 | 1 OKT 13:00
45 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R85 | R115 by die deur