TOYOTA MUSIEKFEES

Lize Beekman vlieg solo by Woordfees

Produksie: Lize Beekman
Skrywer: Marchelle van Zyl
Foto’s: Verskaf/Golda Simmers

Vir Lize Beekman-aanhangers is dit ’n heuglike dag: Sy is nou al 27 jaar in die musiekbedryf en hierdie is haar eerste solovertoning by die Woordfees. Haar stem was ’n ruk lank stiller as gewoonlik, maar sy is met mening terug… en boonop met sewe splinternuwe songs wat sy afwissel met haar bekende treffers. 

Dis net Lize voor die klavier of met die kitaar in hierdie uur lange program. Ek gebruik “net” met groot omsigtigheid, want haar verhoogpersoonlikheid en stories vul die Drostdy-teater met groot warmte en klank.

Lize Beekman se shows is soos ’n vertellingsmeditasie met begeleiding, met poësietoonsettings en die omarming van stilte. Die verhoog is vol kerse, Lize se stem priesterfluistervertel van haar eie weerloosheid en reis met hartseer, en sy deel ’n baie persoonlike oomblik in haar lewe toe sy haar hartseer net kon oorgee. ’n Mens voel of jy op heilige grond loop. Met “Asem die oomblik in” herinner sy ons om oomblikke te koester.

Haar shows is teer en gentle, en dit voel altyd diep persoonlik. Al is dit in ’n volgepakte saal, voel dit intiem, asof jy by ’n goeie vriend aan huis kuier. Haar eie lirieke vertel stories van liefde, verlies en die uitdagings van die lewe. Dit gaan oor oomblikke van herinneringe, vriendskap, besinning – in haar eie woorde óf deur die woorde van vriende en digters. Oom Bert Gericke se afskeidsgedig aan sy vrou van 65 jaar tref diep. Lize het dit getoonset as “Bloekompraatjies” – dis ’n eenvoudige, eerlike liefdesgedig wat ek hoop sy sal opneem sodat ons weer daarna kan luister. “Om lief te hê en om liefgehê te word is een van die kosbaarste geskenke wat ’n mens kan ken in hierdie lewe. Dis soos ’n tuiskoms ná ’n lang reis,” vertel sy. 

Haar delikate kitaar- en klavierspel begelei haar sang melodies met net die regte afwisseling en ondersteuning, soveel so dat jy nie ander instrumente mis nie.

As jy ’n heilige, meditatiewe uur met sinvolle sielsryke lirieke soek, is dit die show vir jou. Aan die einde wil ’n mens saam met haar pêl by haar pleit: “Asseblief, speel vir my (nóg) ’n good night song”.

 

Lize Beekman
30 SEPT 20:00
60 min | Drostdy-teater
R120-R180 | R150-R210 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn