KLASSIEKE MUSIEK

Musiek van huis tot huis

Produksie: Sonic Place 20:24
Skrywer: Johann Nell
Foto’s: Verskaf

Esther Marie Pauw se breinkind om klanke en ruimtes bymekaar te bring vind neerslag in Sonic Place 20:24. In dié nuutgeskepte produksie kom uiteenlopende musiekgenres en argitektoniese ruimtes op ’n verrassende manier byeen. Moet geen tradisionele huiskonsert verwag waar jy ’n uitnodiging ontvang om regop in iemand se binnekamer te sit en luister na uitvoerende kunstenaars nie. Nee, op hierdie roetes deur die strate van Mostertsdrift en Karindal – met herboude en herontwerpte woonhuise – word jy ingetrek deur die skeppingswerk van argitekte soos Wilhelm Lochner, Sam Pellissier, Piet Dekker en Hein Visser.

In elke konsert volg gehoorlede ’n roete waar twee huise besoek word wat loopafstand van mekaar is. In elke huis word dan ’n kort konsert van 24 minute aangebied. Deur die loop van die dag is daar drie roetes (met ses konserte). Gehoorlede kies een van die roetes (óf almal, as jy wil), volgens die styl en tyd wat jou pas. As bonus gaan van die argitekte en huiseienaars, asook die klankontwerpers Jürgen von Wechman, Dawid de Villiers en Jacques van Zyl beskikbaar wees om saam met konsertgangers te kuier. Dit is jou geleentheid om meer te leer oor die argitektoniese styl en ontwerp van die huis.

Jacques van Zyl se “instrument” wat hy beskryf as “elektroniese neurale netwerke”. (Foto verskaf)
Africa Open Improvising trio (Roete 3): lnr Garth Erasmus, Pierre-Henri Wicomb en Esther Marie Pauw (Foto: Aryan Kaganof)

Die drie roetes lyk soos volg:

Op Roete 1 hoor jy ’n klassieke ensemble. Mariëtte Schumann (viool en altviool), Nathan Huysamen (klarinet) en Theresa van der Merwe (klavier) vorm die Milhaud en Bruch Trio. Hulle speel onder meer ’n Max Bruch-kamermusiekwerk op ’n pragtige vleuelklavier waar die klanke deur ’n perfekte argitektoniese ruimte verhelder word.

Hierna stap gehoorlede oor na ’n eertydse grasdakhuis. Maar moet geen bekende of tradisionele jazznommers hier verwag nie. The Real Wicomb Trio gaan die gehoor trakteer op nuutgeskepte voetestamp-jazz en ritmiese klanke. Hier staan ’n pragtige klein vleuelklavier in ’n groot oop ruimte met baie sitplek om tafels waar gehoorlede kan kuier. Voor die klavier is Pierre-Henri Wicomb, met John Pringle op perkussie, en hulle begelei die kontrabasspeler Johan Smit.

Op Roete 2 wag ’n skeut klassieke musiek op konsertgangers. In hierdie huis in Meerlustlaan (ontwerp deur argitek Sam Pellissier) staan Louresa Heuer se eie klavier. Esther Marie Pauw (fluit) en Olive Sandilands (klavier) noem hulleself die Dancing Duo. Hulle speel danse van François-André Danican Philidor en Frédéric Chopin. Ander werke sluit in dansmusiek van Suid-Amerika en twee geliefde stukke uit die Romantiese tydperk van Edward Elgar en Felix Mendelssohn.

Huis nommer twee in Zwaanswyk is ontwerp deur Piet Dekker. In hierdie konsert word ’n nuwe ouditiewe wêreld ontsluit wanneer drie ongewone klanke saamgesnoer word om ’n unieke en geïmproviseerde gehoorbeeld te skep. Die Africa Open Improvising Trio bestaan uit Carina Venter (tjello), Garth Erasmus (saxoofoon) en Jacques van Zyl, wat sy “instrument” beskryf as “elektroniese neurale netwerke”. Dit is ’n tuisgeboude samevoeging van elektriese drade, gekoppel aan rekenaars in Tupperwarehouers. Kom luister waarom hy bekend staan as die “noise musician”. Konsertgangers wat van saxofoonmusiek hou, sal aangenaam verras wees deur “nuwe” klanke wat Garth, ’n outodidaktiese musikant, optower.

Jacques van Zyl beskry sy “instrument” as “elektroniese neurale netwerke”. Dit is ’n tuisgeboude samevoeging van elektriese drade, gekoppel aan rekenaars in Tupperwarehouers.

Om 17:00 is Roete 3 aan die beurt. Gehoorlede wat hierdie twee kort konserte bywoon, gaan op iets nuuts getrakteer word, naamlik Fusion. Wilde Als bestaan uit Cristellle van der Merwe (djembetrom – fyn klanke wat tussen die knieë uitgeklop word), Tertius van der Merwe (akoestiese kitaar) en Leonore Bredekamp (baskitaar). Die huis in Jannaschstraat is die eiendom van twee van die kunstenaars. Konsertgangers kan uitsien na “easy listening”-musiek. 

In die laaste konsert van dié roete in Van der Stelstraat (argitek Hein Visser) is die Africa Open Improvising Trio weer aan die beurt, maar dié slag bespeel Garth Erasmus die ghorrah, kriolofoon en mcinci, terwyl Esther Marie op basfluit is en Pierre-Henri Wicomb voor die sintetiseerder. Hulle speel vrye improvisasies wat vra dat ’n mens fyn luister na die verskillende klanke. Die ghorraboog van Garth lyk soos ’n San-jagboog met ’n kalbas. Die klank wat hieruit kom, dra ’n sterk element van inheemse Afrikaklanke. In die Khoi-tradisie “onthou” die boog verhale en rituele van vernuwing. Verder speel Garth op ’n mcinci-fluit, wat soet botoonklanke optower. ’n Kriolofoon, verduidelik Garth, is ’n eie skepping van ’n saxofoonmondstuk met ’n bamboesonderstuk wat ’n sterk en pragtige Oosterse klank, amper ietwat klaend, voortbring.

Pierre-Henri neem klanke op, verwerk en verbou dit, en bring dit op ’n nuwe manier voort op die sintetiseerder. Hy het al wonderlike sukses behaal as filmmusiekkunstenaar – ’n voorbeeld hiervan is Jaco Bouwer se fliek GAIA waarin hy hoendervleismusiek skep.

Hou Sondag 6 Oktober oop om hierdie wonderlike nuwe eksperimentele aanbiedings van SONIC PLACE 20:24 by te woon. Gehoorlede kan kaartjies koop vir enige van die drie roetes. Maar moenie laat slaap nie; kaartjies is beperk tot ’n aantal sit- en staanplekke. Elke lid van die gehoor ontvang ’n glas wyn of druiwesap. Straatparkering is beskikbaar. Roetes en tye word hieronder aangedui.

 

Sonic Place 20:24

6 Oktober 14:00
Roete 1: Rowanstraat 5 en Rowanstraat 46
11:00 KLASSIEK (Milhaud & Bruch Trio) (24 minute)
12:00 JAZZ (The Real Wicomb Trio) (24 minute)
Roete 2: Meerlustlaan 5 en Zwaanswyk 1
14:00 KLASSIEK (Dancing Duo) (24 minute)
15:00 Africa Open Improvising Trio (24 minute)
Roete 3: Jannaschstraat 18 en Van der Stelstraat 59
17:00 FUSION (Wilde Als) (24 minute)
18:00 Africa Open Improvising Trio (24 minute)
R220 R250 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn