KOMEDIE

Die snykant van komedie

Produksie: Landi Beeslaar: Tomboy
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Anelia Loubser

Daar is iets geweldig roerend aan iemand wat komedie gebruik om te probeer vergeet van die klippies in hulle eie skoene. Komediante wat sukkel met die donker kant van die lewe, kan op veel meer as twee hande getel word. Soos iemand op ’n dag gevra het: As lag die beste medisyne is, hoekom is so baie grapmakers hartseer? 

Llandi Beeslaar werk al langer in die vermaakbedryf as wat mense moontlik besef. Sy het in 2017 Uitkampteater by die KKNK gedoen en intussen agter die skerms op verskeie TV- en verhoogproduksies gewerk. Sy was Mielie Senekal in Republiek van Zoid Afrika en vanjaar het sy werklik deurgebreek met haar uitstekende spel as Stefanie Koekemoer in die Showmax-reeks Koek, ’n rol wat haar ’n Silwerskerm-benoeming as beste vroulike byspeler in ’n drama besorg het. 

Tomboy is haar eerste volle eenvrouvertoning waarmee sy by die Woordfees debuteer. Met ’n mikrofoon in die hand vertel sy haar eie storie. Hoe sy met sterre in haar oë Londen toe is en terug in Suid-Afrika besef het die vermaakbedryf is ’n maalkolk met rolle yl gesaai. Sy is openlik oor haar stryd met geestesgesondheid, erken dat sy baie issues het. Haar seksualiteit is egter nie een daarvan nie. “Ek het besef less is more,” sê sy. 

Wil almal van ons nie maar vir die jonger self sê alles sal oukei wees nie?

Sy vertel haar lewensverhaal tot nou toe met siniese humor, ’n glimlag en die lig van ’n wenkbrou wat jou in die gehoor soms onkant vang. Dis soos om deur ’n venster te loer na iemand se siel. 

Llandi verras in die produksie met drie liedjies waarvan sy die lirieke geskryf het. Op die groot skerm agter haar wys sy ’n paar foto’s van haar as kind en die laaste liedjie wat sy vir een van hierdie foto’s sing, tref diep. Wil almal van ons nie maar vir ons jonger self sê alles sal oukei wees nie? 

Tomboy loop nog nie so glad soos dit kan nie. Daar is ’n uhm hier en daar en die stories kan hegter gebind word. Llandi sê meer as een keer wanneer sy afdwaal dat sy van ’n side note hou. Hier is my side note: Kry ’n regisseur wat meer dramas doen om met die regie te help om die toue styf te trek. Dis sommer my raad aan alle komediante. 

Tomboy is egter deur en deur die moeite werd om te gaan kyk. Dis rou en eerlik en snaaks en dit ruk jou hart en los jou met ’n smile. Net soos goeie komedie moet doen. 

 

Llandi Beeslaar: Tomboy
3 OKT 20:00
60 min | Eendrag-teater
R160 | R190 by die deur
Geen o.16 (T) 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn