KLASSIEKE MUSIEK
Zorada: Vlamvensters en die magtige dreuning
Produksie: Kleurglasvensters van die Moederkerk; Moederkerk-orrelweek; Hoe speel die orrel (sit-sit so)?
Deur: Johann Nell
Foto’s: Johann Nell
Die oog is die venster of lamp tot die siel, sê hulle. ’n Venster laat lig in, en in die Moederkerk skyn die sonlig bedags helder en kleurryk in om wonderlike beelde tot lewe te bring. Die kleurryke glasvensters van die Moederkerk in Drostdystraat, is ewe aanskoulik as die orrelspel van die gemeente se briljante orrelis, Zorada Temmingh. Om hierdie gemeente te besoek, is beslis ’n lus vir die oog en die oor.
Ek kry Zorada waar sy agter die manjefieke orrel se speeltafel sit. Sy is in haar eie wêreld, besig om ’n stuk bladmusiek op die musiekstaander aandagtig in te studeer. Sy stop momenteel om potloodveranderings aan te bring. Sy werk aan ’n eie komposisie, ’n pastorale wat sy tydens die Moederkerk-orrelweek gaan uitvoer.
“Kom in,” roep sy sonder om van die note af op te kyk. “Vandag is my laaste dag van verlof,” glimlag sy, terwyl die pype diep in die orrelkas dreun.
“Ek wil gou ’n paar foto’s van die vensters neem. Moenie ophou speel nie,” sê ek. Die oggendson sit so perfek bokant die kerk, dat dit die kleure in die groot vensters aan die brand steek. Dit lééf behoorlik.
“Elke glasvenster vertel sy eie verhaal,” verduidelik Zorada kortliks. “Ons doen heelwat navorsing oor die temas in die vensters. Maar rig ons energie op ’n nuwe interpretasie daarvan.”
Die eerste gebrandskilderde kleurglasvensters is in 1967 ingebou. Vanaf 1973 het Leo Theron verdere kleur aan die kerkgebou verleen nadat hy nuwe vensters ontwerp en laat inbou het. Hy was ’n baanbreker en die grootste kenner op hierdie gebied in Suid-Afrika. Waar veral Europese katedrale kleurglasvensters in lood gemonteer het, het ’n “nuwer” tegniek behels dat glasvensters in beton gemonteer word. Dit is ook reeds in die vensters van byvoorbeeld die St. George-katedraal in Kaapstad gebruik.
Op 29 September (11:30) en 2 Oktober (09:00) kan belangstellendes saam met Zorada deur die kerk stap om uitbeeldings van venster tot venster te ontdek.
Daar is 17 vensters van verskillende grootte dwarsdeur die kerk. Tydens jou besoek kyk na die kleure en verhale van die son en sterre, duiwe en druiwe, visse en vlamme, ’n windpomp en weerlig, kandelaar en kerse.
Elke middag om 13:15, van 30 September tot 3 Oktober bied die Moederkerk ’n orreluitvoering in hul gewilde orrelweek aan. Die tema Pastorale word deur al die orreliste gebruik. Orreliste wat gaan optree is: Zen van der Merwe, Gavin Julius, Andrea Kayser-Mitas en Devandré Boonzaaier. Op Vrydag 4 Oktober speel Zorada onder andere César Franck se Pastorale, asook ’n improvisasie op ’n voorstel uit die gehoor.
Diegene wat wonder hoe ’n orrel – “die koning van instrumente” – se binnegoed lyk en werk, kan ’n interessante kykie kry tydens Zorada se begeleide toer, Hoe speel die orrel (sit-sit so)? waar sy besoekers wys hoe en waar die klanke van ’n orrel vandaan kom.
Toe ek by die groot houtdeur uitstap, met ’n paar foto’s op my kamera, hoor ek hoe “die magtige dreuning” verder sy woord gestand doen toe Zorada die orrel se stops behoorlik uittrek.
Kleurglasvensters van die Moederkerk
29 SEPT 11:30 | 2 OKT 09:00 | 60 min | Moederkerk R80 | R110 by die deur
Hoe speel die orrel (sit-sit so)?
1 & 2 OKT 12:30 | 30 min | Moederkerk R50 | R80 by die deur
Moederkerk-orrelweek: Pastorale
30 SEPT tot 4 OKT | 13:15 | 30 min | Moederkerk R110 | R140 by die deur