EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Drie is beter as een
Produksie: The Professionals
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Wanneer drie grotes bymekaarkom, kan daar net iets magies gebeur. Soos wanneer drie van ons land se voorste digters – Joan Hambidge, Kobus Moolman en Ingrid de Kok – kragte saamsnoer en ons bederf met van hulle nuutste woordwonders. Elkeen het ons 20 minute lank betower met van die vaardigste verse in die Suid Afrikaanse digkuns.
Hambidge, met haar nuuste bundel, Asindeton, het haar voorlesings vir die dag opgedra aan die ontslape Johann de Lange sowel as een van ons feesdigters, Antjie Krog. Sy het Afrikaans én Engelse verse voorgedra. Daar is enkele reëls wat tot op die been sny – soos “donker woordskildery” en “die siel ’n paleis vol geheime”. Tussendeur het sy gepraat oor hoe sy De Lange se dood verwerk – hy was nie net ’n maat nie, maar ook by tye ’n mentor wat gereeld as klankbord sou optree. Sy sug moedeloos en sê ons wat oorleef, moet maar voortstoei met die daaglikse laste, nes een van haar versreëls getuig: “vertaal en interpreteer melancholie.” Sy sluit af met ’n roerende gedig oor die oorlog tussen Palestina en Israel, ’n aanklag en ’n kreet wat ons opnuut herinner waarom sy so ’n noodsaaklike digmoeder is.
Daar is enkele reëls van Hambidge wat tot op die been sny – soos ‘donker woordskildery’ en ‘die siel ’n paleis vol geheime’.
Moolman is aan die woord met sy nuutste versameling, Fall Risk, wat die anatomie van die liggaam, verganklikheid sowel as die verskillende vorme van val ondersoek. Hy lees tydsaam en geduldig, en die gehoor hang omtrent aan sy lippe. Hy is ’n gedugte voorleser wat goeie kennis het van die verhouding tussen sy verse en die leser, ’n digmeester wat sy woorde een vir een afstof en uitstal, soms ook uitlewer. Moolman skryf subtiel dog skroomloos oor die skadukant van die samelewing, wat blyk uit verse soos “a man in the shape of a hole” of “the crows crooking inside his mouth”. Moolman se verse is soos kamfer vir die siel. Sy digkuns herinner ons aan die skoonheid in die krake, maar ook die kwesbaarheid van die donkerte.
Moolman se verse is soos kamfer vir die siel. Sy digkuns herinner ons aan die skoonheid in die krake, maar ook die kwesbaarheid van die donkerte.
De Kok het die oggend afgesluit. Sy is ’n bedeesde skrywer en lees haar verse aansienlik minder teatraal as die ander twee digters. Sy is duidelik ’n skrywer wat veiliger voel op papier. Sy dig oor klein vreugdes, oor troos vind, oor die liefde vir grond, hoop en hopeloosheid, verlange sowel as, in haar eie woorde, “unshuttered life”. Daar is ’n tasbare weerloosheid aan haar woorde, ingekleur met die sagte dog ferm hand van ’n vrou wat veg vir vrede en liefde, met pragtige beeldryke taal. Nes ’n reël uit een van haar verse, “the eagle’s grey shawl” hoop ek ook haar woorde sal ons nog lank bedek, troos en behoed teen die kwale van die hart en heelal.
Mag ons altyd ons grotes in die literatuur eerbiedig en aanhou platforms beskikbaar stel vir hulle sodat die nuwe generasies eerstehands kan leer hoe dit gedoen word.