EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Ek voel dit in my eie bloed

Produksie: Antjie Krog: Binnerym van bloed
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht en Nadine Petrick

Om op ’n Dinsdagaand in ’n kerk in Stellenbosch na Antjie Krog te luister, is ’n gevoel eerder as ’n gesprek.

Hierdie is nie ’n resensie nie. Dis nie eens ’n verslag nie. Dis ’n gevoel.

“Hoop alles gaan goed! Kan jy weer vir daai ander vrou vra of ek ’n pak gebreekte okkerneute kan bestel?”

Dis die WhatsApp wat ek van my ma kry kort voor Antjie Krog se gesprek met Andries Bezuidenhout in Die Kruiskerk begin. Ek antwoord haar blitsvinnig, want netnou kry sy dit in haar kop om eerder te bel, selfs al weet sy ek het ’n “Do not disturb”-teken teen my voorkop geplak vir die week. Dit maak niks saak nie; sy soek neute, en sy soek dit klaarblyklik niks later as nou dadelik nie.

Ek sit en giggel so in die stilligheid oor die feit dat Antjie ’n kerk op Stellenbosch kan volmaak, selfs al gebruik sy so graag die woord p***.

As aanhef tot die gesprek oor haar veelbesproke en skynbaar laaste boek, Binnerym van bloed, begin Antjie met ’n voorlesing – ’n roerende deel oor haar ma, Dot Serfontein. Die kerk is volgepak. Ek sit en giggel so in die stilligheid oor die feit dat Antjie ’n kerk op Stellenbosch kan volmaak, selfs al gebruik sy so graag die woord p***. En net toe kry ek sowaar nóg ’n WhatsApp van my ma. Blyk toe sy soek eintlik pecans en nie okkerneute nie. Óók haar daaraan afgevee dat ek in die laaste boodskap mooi gevra het om haar neutpraatjies vir die oomblik te staak.

En in daai kort, onsinnige uitruiling met die moeder van vier, voel ek hoe ’n hele geweldige boek soos Binnerym van bloed in my eie klein binnewêreld ontvou. Baie minder elegant en in ’n hele paar duisend woorde minder; maar die allesoorweldigende kompleksiteit van daai oerverhouding bly staan – dit maak nie saak of jy ’n literêre genius of ’n doodgewone huisvrou van Onrus is nie.

Ek het vroeg in die jaar al Binnerym gelees. Sedertdien het ek etlike gesprekke oor die boek bygewoon en met almal wat belang stel (of nie) die storie aangeroer. Vergeet vir ’n oomblik van Verwoerd se begrafnis, die skatologiese, die voorblad, die verpleegsters se dagboekinskrywings oor die sterwende Dot. Laat staan hoe Antjie die land en sy mense deel van die verhaal maak en moenie verlei word deur die immerteenwoordige politieke geurtjie so eie aan ’n Krog-boek nie. Dis ’n ma en dogter, dié.

Moenie verlei word deur die immerteenwoordige politieke geurtjie so eie aan ’n Krog-boek nie. Dis ’n ma en dogter, dié.

Baba word kleuter word tiener en uiteindelik medevolwassene, en dan skielik kyk jy en jou ma mekaar vas in die oë. En wat maak ’n mens dan met al daai liefde en woede? Dit stop nooit nie, daai rebellie, en dis na albei kante toe die waarheid. Push and pull van I love you, maar hoekom, o, hoekom maak jy nie eerder só nie? Jy maak haar groot om tog nét nie soos jy te wees nie, erken Antjie ook, maar die fokop is, Antjie, julle wat julleself ma’s noem, kry dit nooit heeltemal reg nie. Want jy word uiteindelik op ’n manier tóg maar jou ma, al skop jy met jou hele blêrrie hart en kop daarteen. Elke vriendin met wie ek praat, elke kollega, baas of kennis, al ons opstandige dogters van Jefta, is op hulle eie manier maar nes julle; ’n Antjie of ’n Dot. En dalk, as die noodlot dit so bepaal, selfs albei. Al is ons nie almal skrywers of digters nie en al lê ons spore buite die grense van ’n plaas in die Vrystaat, baklei ons en ons ma’s in dieselfde bloederige dialek – daai een wat mans net nooit sal verstaan nie.

Dis ingewikkeld, sê Antjie vir Andries. No shit, dink ek.

Buite loop ek in haar kleindogter vas. Ek kan myself doodeenvoudig nie help nie: Ek wil weet of die bloedlyn so sterk is dat daai oerwaarheid ook binne-in haar are rym. Daar’s ’n ander metrum en styl toe sy antwoord. Effens sagter, maar ewe vasberade. Maar dis daar, dis beslis daar. Dis onmiskénbaar so.

Ek voel dit dan nog die heeltyd in my eie bloed.

Facebook
Twitter
LinkedIn