LEEFSTYL

Laat daar borrels wees!

Produksie: Woordfees-wynskool: Bubbly 101
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

Moenie Stellenbosch-wynroetes se twee oorblywende 101-wynskole oor chenin blanc en pinotage misloop nie, skryf Ilza Roggeband nadat sy agt heerlike MCC’s by die Borrels 101-klas geruik, gekyk en geproe het.

Tagtig mense het die tien tafels in die Hofmeyrsaal volgepak om te leer waar ons beste borrels vandaan kom.

Voor jou op die tafels wag daar wat lyk na ’n plekmatjie. Daar staan vier glase, ’n potlood vir aantekeninge maak en ’n spoegbakkie vir dié wat nie so dors is nie. Aan ons tafel was niemand nie, want wie spog nou borrels uit?

Op die verhoog was wynmakers van plase soos Spier, Simonsig en Villiera met Martelize Brink wat die gesels aan die gang gehou het. Die vrae het gewissel van wat die verskil is tussen Méthode Cap Classique (MCC) en wyn wat borrels kry deur karbonisering, die druifsoorte wat gebruik word, wanneer ’n Cap Classique vintage-status verkry tot wat die beste glas is om dit in te drink.

Daar staan vier glase, ’n potlood vir aantekeninge maak en ’n spoegbakkie vir dié wat nie so dors is nie. Aan ons tafel was niemand nie, want wie spog nou borrels uit?

Intussen is daar aan die eerste vier – Kaapse Vonkel van Simonsig, Spier Signature Cap Classique, Journey’s End Cap Classique Brut en DeMorgenzon se Brut MCC – geruik, gekyk en geproe. Daar is benadruk dat vonkelwyn nie net gehou moet word vir vierings of vir voor ’n maaltyd nie, maar dat dit ook ’n goeie pasmaat is vir enige ete.

Die volgende vier wat geproe is, het van Quoin se Black Series, Villiera, De Zalze en Blaauwklippen gekom, die laaste twee rosé. Met die oopmaak van die bottels het Martelize gesê iemand het aan haar verduidelik die geluid moet dié wees van “die sug van ’n sielsvervulde maagd”. Niks skietende proppe nie, maar saggies en sugtend.

Dit is jammer dat die twee groot rekenaarskerms nie gebruik is om meer inligting as net Stellenbosch Routes en Wynskool: Borrels 101 te gee nie, soos die name van die gaste op die verhoog, die name van die plase en wat gedrink is.

Die wynskool was nie net leersaam nie, maar duidelik ook gewild onder dié wat daar was.

 

Daar is nog twee wynskole oor: Op 14 Oktober om 18:00 word daar chenin blanc geproe en op 15 Oktober om 18:00 kom pinotage aan die beurt. Spring as jy nog ’n kaartjie wil hê!

Facebook
Twitter
LinkedIn