EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
’n Meesterlike misdaadtoneel by die Woordfees
Produksie: Misdaadtoneel
Deur: Surene Esterhuizen
Bibi Slippers het haar verfrissende anderste gesprek met die krimiskrywers Irma Venter, P.P. Fourie en Erla Diedericks soos ’n kriminele ondersoek benader, kompleet met bewysstukke wat in die gehoor versteek is. Dit was ’n briljante idee, skryf die Ink-leser Surene Esterhuizen.
Bibi Slippers wou vanjaar die paneelbespreking oor misdaadfiksie anders aanpak om te keer dat daar te veel oor die boeke verklap word. Haar oplossing was om die bespreking soos ʼn kriminele ondersoek te hanteer… misdaadfiksie word dus nou as ’n tipe misdaad beskou!
Die drie skrywers wat aan die woord was, is Irma Venter, P.P. Fourie en Erla Diedericks.
Vóór die gesprek kom ʼn paar van die Lekkerleesboekrak se lede bymekaar by die restaurant Decameron. Erla Diedericks was effe op haar senuwees oor die gesprek. Volgens haar het die vrae wat Bibi vooraf gestuur het, haar angstig gemaak omdat sy nie weet waarheen dit regtig gaan lei nie. Maar soos goeie Rakker-vriende cheer ons haar aan en verseker haar sy gaan okay wees…
Bibi begin die gesprek met ʼn bietjie kriminele sielkunde. Kriminele sielkunde is ʼn veld wat delf in die gedagtes van mense wat die wet oortree… soos die drie skrywers op die paneel. Soos ’n ware kriminele sielkundige is Bibi se eerste vraag of daar dan iets gebeur het in hulle kinderjare – ’n klein misdaad dalk – wat ’n eerste aanduiding was van die rigting waarin hulle loopbaan sou beweeg.
Bibi ontmasker gou die versteekte kriminele neigings in die beskuldigdes: ’n tantalising mengsel van diefstal, sabotasie en geweldsmisdaad, en voeg daarby deception deur die immer ontwykende Irma Venter.
Die drie verras ons werklik met hulle antwoorde – van die steel van ’n baba-tietiebottel of Maja-die-by lucky packets op ’n jong ouderdom en natuurlik om mense ʼn rat voor die oë te draai – wat duidelik aandui dat hulle loopbaan ’n kriminele rigting sou inslaan. Pieter sê hy was nie regtig stout nie, eintlik ’n regte sweetie, want niemand sou hom van stoutighede verdink het nie. Bibi ontmasker gou die versteekte kriminele neigings in die beskuldigdes: ’n tantalising mengsel van diefstal, sabotasie en geweldsmisdaad, en voeg daarby deception deur die immer ontwykende Irma Venter.
Die volgende vraag aan elkeen was watter naam hulle sou kies as hulle ’n speurder of moordenaar in hulle eie boeke was. Irma vat die koek hier met haar speurder se naam: Mr Noah Itall (know it all) en daar vang Irma vir Bibi, die kriminele sielkundige, en die hele gehoor uit – tipies in haar styl as ’n uitmuntende krimi-skrywer.
Nog steeds besig met die ondersoek vra Bibi: Wie sou hulle kies om ’n medepligtige in ’n moord te wees? Erla kies onder andere vir Trump omdat hy met alles wegkom. Pieter sê dit hang af wié jy gaan doodmaak, maar hy kies sy halfboetie omdat hy dit vir hom sal doen as dit die regte ding is om te doen. Irma neem hier die leisels oor: Vir die perfekte moord sal sy dit alleen doen, want sy sal niemand vertrou nie en natuurlik kan niemand jou dan later verraai nie. Briljant! Tot dusver is Bibi, die kriminele sielkundige, se geld op Irma as die een wat beslis nie vasgetrek sal word nie.
In die ondersoekende deel van die gesprek onthul Bibi sekere bewysstukke wat sy versteek het tussen die stoele in die gehoor wat die ondersoek interessant gemaak het van ’n André Rieu-DVD, ’n bra en foto’s tot ’n plastieksak met Erla se DNS daarin.
Nog ’n vraag aan ons misdaadskrywers: Hoekom dink jy sal jy met ’n misdaad kan wegkom? Erla reken sy sal daarmee kan wegkom omdat sy blond is omdat almal dink blondines is dom. Irma sê juis omdat sy niks weggee van haarself nie, sal niemand haar verdink nie. Hier vat Pieter die koek: Hy sê hy kan goed lieg en is nie bang om te wag vir die regte tyd om die misdaad te pleeg nie.
In die ondersoekende deel van die gesprek onthul Bibi sekere bewysstukke wat sy versteek het tussen die stoele in die gehoor wat die ondersoek interessant gemaak het van ’n André Rieu-DVD, ’n bra en foto’s tot ’n plastieksak met Erla se DNS daarin.
Dit was ’n eventful gesprek met ʼn kort onderbreking uit die gastegeledere dat hierdie ondersoek nou te stadig gaan, wat geklink het of dit deel was van die beplanning van die ondersoek. Ons misdaadskrywers onthul min oor hulle boeke, maar net genoeg om ons nuuskierig te maak om die boeke te koop.
Hierdie is net die puntjie van die ysberg. Dit was ’n fenomenale boekgesprek met ʼn gehoor wat elke oomblik geniet het soos ’n mens kon aflei uit hulle reaksie: soms ’n gelag, soms verbaas.
Baie dankie, Bibi Slippers, dit was ’n briljante gesprek.
*
Misdaadtoneel
16 OKT 18:15
EasyEquities Skrywerskamer