TOYOTA MUSIEKFEES
Mash en druiwesap in Karen se kerk
Produksie: Zoid Psalms
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Gaan daar Nagmaal bedien word in die Kerk van Karen, wonder Nadine Petrick toe sy haar sitplek inneem by Zoid Psalms.
Ek was lanklaas in die kerk, not gonna lie. Ek kom meestal daar vir begrafnisse en troues. Die laaste keer was vir ’n Nataniël-show, so ewe. My enigste oorblywende taak vir die Woordfees vat my weer na die huis van die Here, en dié slag vir niemand anders nie as die oermoeder van plaaslike rock, Karen Zoid.
Die Kruiskerk is stampvol: susters van Sappho, ou ooms, jong girls, middeljarige blondes van Stellenbosch wie se kinders nie meer in Bloemhof of Paul Roos is nie, so hulle weet nie meer wat om met hulle lang dae te doen nie. Jy sien die teleurstelling op hulle Ozempic-gesigte en die vasklou aan daai glasies vol droë witwyn. Skuins voor my sit ’n befaamde akademikus, maar laat ek eerder nie name noem nie (vir redes wat later sal blyk).
Zoid bestyg die kansel met ’n mash-up tussen “Nkosi Sikelel’ iAfrika” en die “Onse Vader”, en seamlessy word daai indrukwekkende entrance getrump met die temaliedjie van Airwolf. Gespeel deur Salomé van Wyk op die orrel, daai ou simbool van sonde waarmee die sanger wil vrede maak. Cue “Aeroplane Jane”. Die gemeente juig.
Ons wonder seker hoekom op aarde nou die kerk, die Zoid Psalms, al die dinge, begin Karen gesels. Sy vertel die hele storie en lemme tell you, daai meisie kan práát. Sy trek jou baie vinnig in by die gegewe – daar is dwelmverslawing toe sy jonger was; hoe sy vir jare lank nie aan drugs geraak het nie en hoe die donkerte weer by haar agterdeur ingesluip het. Sy was verslaaf aan voorskrifmedikasie en iewers het sy besef sy sal ’n plan moet maak.
Soos gewoonlik is daar ook baie grappies, want sy is snaaks. Daar is dalk té veel grappies, maar ‘niemand praat so baie soos Karen Zoid nie’, spot sy later self.
Die naaste Narcotics Anonymous-vergadering lei haar na waters waar rus is, met ander woorde die konsistorie van die NG kerk in Blouberg. Hierdie is wél nie ’n gospel-show nie, belowe sy, maar tussendeur die “Serenity prayer”, ’n gebed vir die koster, die jammer vir pa Rhynie en die dankie vir die Here vir haar een jaar van soberheid (geen pille en geen Nagmaalwyn meer nie), moet ’n mens jouself wél vergewe dat jy nou en dan dink dat jy toe inderdaad per ongeluk saam met Danie se spannetjie opgeraap is, en in ’n megakerk in die ooste van Pretoria wakker geword het. Een met ’n kakcharismatiese prediker. I would go, you know, as Karen sou besluit om te preek.
Soos gewoonlik is daar ook baie grappies, want sy is snaaks. Daar is dalk té veel grappies, maar “niemand praat so baie soos Karen Zoid nie”, spot sy later self. Sy het ook ’n verrassing, maar dis ongelukkig nie gratis T-shirts of goodie bags nie, dis die einste Bloubergkerk se koor. Hulle kom sing sommer ’n klompie liedjies saam, want hoekom dan nou nie?
Soos ’n mens dit oor die jare gewoond geraak het, is daar mash-ups vir Zoid Afrika. “Interstellar” en “Praat ek mense eng’le tale”; Laurika Rauch en Radiohead, “Ave Maria” en “Big love” van Fleetwood Mac. Die koor dans, die orrelpype dreun en die kerk van Karen raak flou. Toe “Soos ’n wildsbok” se lyne met “Die meisie wat haar potlood kou” kruis, kyk ek op na waar die professor sit. Sy is besig om ’n uiltjie te knip. Sorry meis, dit was ’n láng week, I know.
Die ding van die mash-up is dít: Al die liedjies in jou medley hoef nie ewe goed te wees nie. Daar kan maar ’n paar skewe note ook wees. Want als was nie perfek nie. Kore wen nie almal pryse nie, en dis ook okay. Die klank in sommige kerke is nie soos goed soos in die Daisy Jones nie. En while we are at it, ek mis vir Henry en Schalk wat in al hulle beautiful glory, glory hallelujah vir soveel jare lank Karen se wing men was. Maar so it goes. Life goes on.
Karen is die queen van die mash-up. Of dit nou musiek of bands, of dalk haar lewe is. Niemand kan haar van verveling en stagnasie beskuldig nie. Ook nie van oneerlikheid nie.
Karen is die queen van die mash-up. Of dit nou musiek of bands, of dalk haar lewe is. Niemand kan haar van verveling en stagnasie beskuldig nie. Ook nie van oneerlikheid nie. Sy lê haarself bloot aan haar gemeente en is nie bang om die rou waarheid te praat of om met haarself te spot nie. Daarvoor sal ek altyd die wêreld se respek en liefde hê. En as jy so kyk na die vol kerk, dan besef ’n mens hoe gewild en absoluut geliefd sy is.
Spreek Karen, jou gemeente luister. Al kry ’n mens hier net mash en druiwesap vir Nagmaal.
*
Zoid Psalms
19 OKT 19:00
Kruiskerk