ONDERHOUD
Die wind sal my lei
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Miché van Wyk, hoofspeler in Lynthia Julius se Kinderlê en medeskrywer van Garage Dance Ensemble se produksie Gat, is ’n trotse Namakwalander, maar wil as aktrise nie in boksies geplaas word oor haar komvandaan nie, het sy aan Dianne Du Toit Albertze vertel.
Voor Miché van Wyk se geboorte was haar ouers van plan om haar op te gee vir aanneming. Haar ma was besig met studies om ’n sjef te word en het nie kans gesien vir ma-wees nie. Dinge het egter onherroeplik verander toe sy in die Karl Bremer-hospitaal gebore is en haar ma haar die eerste keer in haar arms houvas. Toe kon sy nie anders as om die kjeent te hou nie.
Hulle gee haar toe ’n naam wat beteken “geskenk van God”: Miché.
Min het die mense geweet toe die grootoog-geskenk huis toe gebring word – eers na Kleinzee en toe Steinkopf – dat sy eendag met haar toneelspel sowel as haar skryfwerk haar komvandaan met soveel eerbied sou verteenwoordig.
“Ek word deesdae nou genoem die Namakwalandse aktrise. En yes, I push that narrative, maar ek is actually soveel meer,” sê sy.
Hierdie is ’n vrou wat nie daarvan hou om in ’n boksie geplaas te word nie. Miché wil haarself definieer en worstel tans met die wete dat sy nou ge-pigeonhole word oor haar plek van herkoms.
Natuurlik is ek trots op my komvandaan en vind groot vreugde daarin om my mense se stories te vertel, maar ook is ek ’n aktrise, en dis mos dan juis my job om enige karakter aan te vat.
“Natuurlik is ek trots op my komvandaan en vind groot vreugde daarin om my mense se stories te vertel, maar ook is ek ’n aktrise, en dis mos dan juis my job om enige karakter aan te vat. Ek wil ’n slag uitgedaag word om ander tipes karakters te vertolk.”
Miché is vanjaar in twee produksies by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien: Sy is die hoofspeler in Lynthia Julius se Kinderlê en ’n speler in Garage Dance Ensemble se produksie Gat (waarvan sy ook die medeskrywer is).
“As ’n mens jou droom najaag en jy kom dan weer terug [na Steinkopf], dan gaan jou oë oop en jy sien die probleme,” voeg sy by wanneer ons praat oor die terugskryf huis toe. Dis ’n teer saak om oor Namakwaland te skryf en die vervallenheid in die gemeenskap te ken en te verstaan.
Miché vertel hoe sy op 14 haar beste vriendin, wat oorkant hulle gebly het, in ’n tragiese motorongeluk verloor het. Sy sou ook saamry, maar was vasgenael voor die TV besig om haar gunsteling, Telemundo, te kyk en haar bene kon net nie opstaan nie.
“Toe ek buite toe stap, kom daai twa [miswolke] oorgetrek. En my ouma se suster bel. Sy vra of dit ek is, en ek kan hoor sy klink weird, toe sê sy ma Anastatia is dood.”
Kort hierna het sy, met die ondersteuning van haar ouers, besluit sy het ’n change nodig en skryf haar toe in om op Springbok hoërskool te gaan klaarmaak en sodat haar healing journey kon begin. Sy beskryf hoe sy gexhou het huis toe en haar ouers wou bel, maar besef het sy moet dit deurmaak vir haarself. By die Hoërskool Namakwaland het sy na die eerste toneeloefeninge toe gegaan, onder leiding van juffrou Illse Stone, waar sy nog op die verste punt in die saal moes staan en haarself voorstel en sê wat sy eendag wil word. Toe verkondig sy uit volle bors: “Ek is Miché van Wyk en ek wil ’n aktrise word.”
Sy onthou nog hoe dit ge-eggo het deur die saal en hoe onwerklik dit voel om vandag haar drome uit te leef, al was dit nie altyd smooth sailing nie. Toe sy op Stellenbosch by die dramadepartement kom, het dit nie lank gevat vir ’n lektor om haar te vertel as sy nie haar manier van praat verander nie, sal sy nooit werk kry in die industrie nie.
Maar sy het net aangehou met ’n dryf na haar drome.
In haar honneursjaar het sy regtig begin tuis voel in haar vaardighede en gevoel sy het haar stem ontdek. In die kabaretklas waar sy die enigste bruin student was, het sy al besluit om haar merk te maak. Sy het haar inspirasie kom kry in die stories van Steinkopf, voor die OK in die dorp waar sy sou varkoor gooi vir al die karakters en stories wat sy daar sou aantref.
Toe sy op Stellenbosch by die dramadepartement kom, het dit nie lank gevat vir ’n lektor om haar te vertel as sy nie haar manier van praat verander nie, sal sy nooit werk kry in die industrie nie.
Miché se breakthrough was haar kabaretstuk Is als oraait by die huis van die Here? waarin sy met behulp van leë Daisy-bottels, ’n skoen en ’n kruis ’n satire opgedis het oor die kwale van drankmisbruik en valse profete in Namakwaland.
Vandag is sy besiger as ooit. Sy is tans besig met die finale afronding van haar eerste roman wat gegrond is op haar NATi-Jong Sterre-produksie Suurdeeg. Ek was gelukkig genoeg om ’n voorsmakie daarvan te kry. Sy skryf skroomloos oor goed wat haar hart van vol is – geloof, herkoms en vrouwees. Ek haal ’n gedeelte aan:
As die Here se saad die aarde laat blom
is dit ek wat soos onkruid uitgeplik word:
gelaat, verstom.
Sy sê sy like van buitekant skryf. In ’n stil tuin of naby ’n koppie. Spesifiek naby die area in Namakwaland waar haar roman afspeel. Daai is waar sy haar inspirasie kry. “Die natuur is medekarakters,” voeg sy by.
“Lee-Ann [van Rooi] het my die waardes van my karakters laat neerskryf, want baiekeer as skrywers besef ons nie dat die karakters wat ons skryf, reflekteer ook iets in ons nie.”
Haar toon verander as sy terugdink oor hoe anders dinge vir haar kon uitdraai as daar geen universiteit, toneelstukke of skryfwerk was nie.
“Ek sê mos ook altyd as ek tien teen een nie die opportunities gekry het wat ek nou het nie, sou ek in Steinkopf gewees en elke dag gedrink het, want dit is wat met jou gebeur as jy net daar sit: Jy verval.”
Miché het in haar koshuiskamer op hoërskool ’n plakkaat van Tafelberg teen die muur gehad. Toe die taxi haar ná skool in die Kaap kom aflaai en sy kyk daai berg so, het sy ’n katarsis ervaar: “Shit, jy’s hier.”
Wat haar planne vorentoe betref, xhorro [gesels] Miché dat sy dit net vat soos dit kom. Om haar roman klaar te maak en te begin werk aan ’n volgende toneelstuk. Sy raak digterlik as sy verder praat oor die toekoms:
Dit sal kom soos dit gaan
Die wind sal my lei
Die Here sal my lei
Die stories sal my lei…
*
Kinderlê
16 OKT 16:00 | 18 OKT 09:00 | 19 OKT 18:00
Idasvallei Primêr