KLASSIEKE MUSIEK
‘Barbier’ gee méér as opera
Produksie: The Barber of Seville
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Verskaf
As jy gedink het Die barbier van Sevilla is ’n opera wat nie enigsins meer camp kan raak nie, is jy verkeerd, sê Naudé van der Merwe.
As jy gedink het die barbier van Sevilla is ’n verspotte karakter wat jou terselfdertyd jou oë laat rol en ook laat grinnik van die lag, is jy korrek. As jy voor hierdie produksie gedink het dit is ’n opera wat nie enigsins meer camp kan raak nie, is jy verkeerd.
In Kaapstad Opera se jongste weergawe van Rossini se immergewilde opera is elke liewe aksie, van elk van die etlike karakters, oordrewe tot op die punt van absurditeit, maar in die buitelug by Spier se amfiteater het dit so natuurlik gevoel soos die soel naglug met Sondag se openingsaand.
Dis ’n hoogs vermaaklike “romp”, en die byna drie uur snel verby. Die buitelugatmosfeer laat die hele ding ook meer onopgesmuk voel. Weg is die verwagtinge van “hogere kûns”. Die tannies rondom my het geskreeugil van die lag, asof hulle by ’n Casper de Vries-show in die 90’s is.

Dié produksie, met verbysterend doeltreffende regie deur Sylvaine Strike, het vroeër vanjaar met twee verskillende rolverdelings ’n suksesvolle speelvak by Theatre on the Bay in Kampsbaai gehad. Vir die Woordfees is daar net een: William Berger is Figaro, Megan Kahts is ingevlieg uit Oostenryk om Rosina te speel, Dumisa Masoka is die graaf Almaviva, en Lonwabo Mose is Bartolo. Die koor van soldate en musikante is ’n komiese hoogtepunt.
In die intieme spasie van Theatre on the Bay was dit óók baie vermaaklik, maar dit voel amper asof dit ’n kleedrepetisie was vir wat hier by Spier gebeur. Hier kom die produksie heeltemal tot sy reg. Allegra Bernacchioni se stel werk treffend in die amfiteater, waar daar nou nie meer ’n dak is nie. Strike het ook die tegniese personeel in kostuum laat verskyn vir stel- en dekorverskuiwings, ’n briljante plan vir ’n amfiteater waar daar nie ’n gordyn is nie.
Die buitelugatmosfeer laat die hele ding meer onopgesmuk voel. Weg is die verwagtinge van “hogere kûns”. Die tannies rondom my het geskreeugil van die lag, asof hulle by ’n Casper de Vries-show in die 90’s is.
Die storielyn is amper nie belangrik nie, maar wel vinnig: Figaro, ’n barbier, gebruik truuks en leuens om twee verliefdes, Rosina en die graaf Almaviva, bymekaar te bring. Daar is ’n spul ander karakters wat die vloei van gebeure aanhelp of probeer kantel, en tussendeur sing hulle van die bekendste duette en arias uit die operakanon.
Soos met die weergawe by Theatre on the Bay is dit hier weer met klavierbegeleiding. Jan Hugo verdien op sy eie ’n staande ovasie om daai partituur deur te draf. In die buitelug moet hierdie produksie uit die aard van die saak met klankversterking plaasvind, maar dit was nooit steurend nie. Alle mikrofone het gewerk en nooit het ek, soos dit maar soms by feesproduksies gaan, my hart vasgehou dat tegniese kinkels dreig om die ervaring te ontspoor nie. Aanvanklik het dit gelyk of die skerms wat die onderskrifte wys, dalk wou inkonk, maar selfs dit het gehou.
Die sang was deurgaans goed. Dalk is dit my moderne ore – en die gode behoede my ek wil nooit opera met klankversterking in ’n operahuis hoor nie – maar in die buitelug is balans belangriker as tekstuur. Met ’n mikrofoon op die kop gee dit operasangers die geleentheid om minder te fokus op projeksie en meer op wat rondom hulle op die verhoog gebeur. En ek dink dis deel van die sukses van hierdie produksie. In ’n operahuis soek ’n mens daai tekstuur van kleiner en groter stemme, maar hier wil ’n mens kan hóór.
Figaro pas Berger soos ’n handskoen, Kahts is heerlik mal as Rosina, en Mose as Bartolo is ’n hoogtepunt. Die res van die rolverdeling gee álles.
Gaan vir die opera, bly vir ’n goeie tyd.
*
14 & 16 OKT 19:30
120 min | Spier-amfiteater
R170-R350 | R200-R380 by die deur