TOYOTA MUSIEKFEES

Die brug wat musiek bou

Produksie: Sonografie: Grepe in roots en blues
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Dan Chiorboli

As jy nie Saterdagmiddag daar was nie, het jy ongelukkig jou kans verspeel. En dit was ’n gróót verspeelde kans.

Hierdie is nie die eerste jaar wat Sonografie by die Woordfees is nie, en Grepe in roots en blues was ’n uur of wat se loutere plesier. N’Faly Kouyaté, oorspronklik van Guinee in Wes-Afrika en deesdae woonagtig in Brussel, België, het reeds twee Grammy-benoemings in die kategorie Wêreldmusiek op sy kerfstok. Buiten sy stem gebruik hy ook die kora, ’n snaarinstrument uit Wes-Afrika met 21 snare en ’n eiesoortige dog besonderse klank. Vir dié konsert het N’Faly twee saamgebring – een elektries en een akoesties.

Die Suid-Afrikaanse bydraes het gekom van die skrywer en digter Jolyn Phillips (en haar wonderskone stem) en die baskitaarmeester Schalk Joubert. Muriel Kouyaté se perkussie – op elektriese trom, kalbas en djembe – was ook ’n integrale deel van die konsert.

In die eerste deel word stories vertel met musiek en digkuns, en al het ’n mens nie altyd die taal verstaan nie, het dit net weer gewys watter brûe musiek kan bou. Phillips het onder meer gesê dít wat jy sê en skryf, kom altyd terug na jou komvandaan, daardie plek waar jy eerste jou wortels gelê het.

Joubert is nou maar net eenmaal ’n aanwins vir enige produksie. Nie net is hy besonder talentvol nie, maar hy kan improviseer en die pas aangee sonder dat een enkele noot op die vloer val.

N’Faly Kouyaté het ’n verhoogpersoonlikheid en glimlag wat skitter soos die goue borduursels op sy wit pak uit Wes-Afrika. Sy Frans is beter as sy Engels, maar ’n goeie begrip het tog net ’n halwe woord nodig.

Waar was die mense wat ’n hunkering het na musiek van elders op ons vasteland?

Hierdie was ’n produksie,wat onder die leiding van die musikoloog dr. Carina Venter en Womad (World of Music, Arts and Dance) in Suid-Afrika op die planke gesit is, en dit verdien om voor ’n veel groter gehoor te speel. Gratis as dit dan moet. Waar was die kinders wat vir ’n paar sente voor die eetplekke sing en dans? Waar is die musikale jongelinge van skole uit die omgewing? Waar was die mense wat ’n hunkering het na musiek van elders op ons vasteland?

Hopelik sal Sonografie volgende jaar weer op die program wees. Mag dit wéér mense laat opstaan en dans, hande klap en juig.

  • N’Faly Kouyaté se musiek is op al die stromingsdienste beskikbaar. Gaan luister gerus.
Facebook
Twitter
LinkedIn