TOYOTA MUSIEKFEES

Die Piesangskille en ander verhale uit die vrugtebak

Produksie: Die Piesangskille
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Pierre Rommelaere 

Die Piesangskille is ’n random band van Potchefstroom. Of so sê hulle. Tog vind die algemene aanhanger aanklank by hulle musiek, want hulle verstaan wat dit is om ’n student te wees.

Jan Marais Park lyk vanaand soos ’n Cape Union Mart-advertensie, en dié wat nie in K-Way uitgerus is nie, wens hulle was. Tog kan die koue Stellenbosch se studente nie stuit nie – nie as Die Piesangskille ter sprake is nie. Met ’n glas wyn in die een hand en ’n Monarch-koffie in die ander verstaan die Stellenbossers iets van balans.

Soms wens ’n mens die lirieke van sommige Afrikaanse musiek is in ’n sekere sin meer volwasse. Maar saam met Daniël Marais en Johan Balt kuier ’n mens lekker; hulle musiek en lirieke is onpretensieus en opreg, en hulle vang ’n tydsgees vas soos min. Dis lekkerluister- en dansmusiek, en sterk en uniek genoeg dat dit nie meer as dit hóéf te wees nie. Met liedjies soos “Inge” en “Inge 2” kan ’n mens jou voorstel dat die jong meisies in die skare wens iemand kan só oor hulle skryf. Al die goeie stories begin in Stellenbosch, en dit klink asof Daniël se hart op ’n goeie dag sterk Kaap toe trek…

Johan Viljoen (op die elektriese kitaar) is ’n lid van verskeie musiekgroepe: Glaskas, Moegoe en Zebraman, om enkeles te noem. As ’n mens na sy vertoning saam met Die Piesangskille kyk, is dit regtig nie moeilik om te verstaan hoekom sóveel groepe ’n stukkie van hom wil hê nie, veral nie ná ’n vinnige uittreksel uit “Zamalek” nie. (Volgens die mannetjie by die kroeg was SAB se voorraad Black Label uitverkoop. Toe nou? Regtig?)

Die groep, wat nou besig is om hulle derde album op te neem, verstaan hulle gehoor goed en wissel hulle musiek af met lekker saamsingtreffers – selfs die “Leeuloop’” maak ’n draai. Goed, darem nie heeltemal nie. Dis gesinsvriendelik, onthou! Tog wys dit dat Marais en Balt (of die Gespikkelde Drafhoender, soos Marais sy vriend beskryf) hulle vinger op die pols het van wat goed vir hulle gehoor werk.

Hulle musiek en lirieke is onpretensieus en opreg, en hulle vang ’n tydsgees vas soos min. Dis lekkerluister- en dansmusiek, en sterk en uniek genoeg dat dit nie meer as dit hóéf te wees nie.

Die Piesangskille se musiek is gesinsvriendelik, studentevriendelik en laat ’n mens se voete onwillekeurig tik op die maat van hulle oorwurms. Die kunstenaars op die verhoog is lekker gemaklik met mekaar en dis lekker om te sien – vriende wat musiek maak vir die lekker daarvan, maar ook omdat hulle soos ’n foto iets vasvang van wat dit is om nog ’n beginner van die lewe te wees. Ons het nie ’n idee wat ons doen nie, maar ons doen dit goed, dis lekker en ons sal oukei wees.

Facebook
Twitter
LinkedIn