TOYOTA MUSIEKFEES
Grenslose ‘Ontaard’ bind ons saam as Suid Afrikaners
Produksie: Ontaard: Spoken Word
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Golda Simmers
Die ryk verhoogproduksie Ontaard: Spoken Word het ontstaan uit Pieter Madibuseng Odendaal se bekroonde tweede digbundel, maar dié keer betrek hy ’n span ander kunstenaars om saam met hom temas van eensaamheid, klimaatskrisis, verlange, geestelikheid en identiteit te ondersoek.
Hoe sal ons ooit die skade kan herstel wat aan ons as mense sowel as aan die aarde gedoen is? Dit is een van die vele vrae waarmee Pieter Madibuseng Odendaal ons konfronteer in dié kragtige vertoning – ’n samekoms van uiteenlopende stemme, stories, lirieke en bewegings wat die kyker tot reg aan die einde boei.
Die produksie het ontstaan uit Odendaal se tweede (gelyknamige) digbundel wat in 2023 verskyn het en in 2024 met die Eugène Maraisprys bekroon is.
In dié ryk verhoogproduksie vier Odendaal nie net sy eie kreatiwiteit nie, maar betrek ’n span ander kunstenaars om temas van eensaamheid, klimaatskrisis, verlange, geestelikheid en identiteit te ondersoek.
Eddie Newman se bewegingstukke sorg vir verfrissende afwisseling en help by tye ook dat die toon van die stuk nie te veel verval nie in ’n troostelose somberheid, wat soms doelbewus en soms oorbodig oorkom.
Die span, geklee in goue steampunk-kostuums nes ontdekkers uit die buitenste ruimte, sleur die gehoor mee op ’n reis. Odendaal tree tussendeur ’n mengelmoes van amapiano, jazz, spoken word, kletsrym en drum & bass met die gehoor in gesprek. In twee tonele word apokaliptiese projeksies gebruik en ander kere, soos met ’n teer gedig oor liefde en verlange na ’n nudistestrand, is dit net Odendaal en die klavier. Die bydraes van die musikante Luke Verrezen en Odwa Bongo dra by tot die veelvlakkigheid van die aanbieding wat oor genres en klankgrense heen strek.
Eddie Newman se bewegingstukke sorg vir verfrissende afwisseling en help by tye ook dat die toon van die stuk nie te veel verval nie in ’n troostelose somberheid, wat soms doelbewus en soms oorbodig oorkom. Die Peruviaanse digter Jorge Alejandro Ccoyllurpuma tree ook in gesprek met Odendaal en hulle het verskeie kruisvertalings voorgedra. Buiten die ernstige kwessies wat Odendaal in sy werk ondersoek, is daar ook ’n soms onverwagte speelsheid en ironie wat onder die oppervlak kook.
Ontaard het al vele gehore diep ontstem en opgewonde gemaak oor die toekoms van die digkuns en die spoken word-vorm. Vir hierdie resensent het die meer tong-in-die-kies aanbieding van sekere verse ietwat verlore geraak. Die produksie kan baat vind by ’n regisseur wat ’n stewiger hand oor die soms oorweldigende verskeidenheid van klanke en elemente kan hou.
Met ’n debuutwerk wat so sterk is soos Ontaard hoop dié resensent dat die span nog baie speelkans kry om gehore wyd en syd te inspireer en ontroer met hulle veelrassige en -talige kuns wat ons hegter kan saambind as Suid Afrikaners.
*
14 OKT 13:00
Spier-ouditorium