SPIER TONEEL

Hierdie spreekkamer kort kleur

Produksie: Die spreekkamer / The Speaking Room
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Info Almero

Al is daar ’n paar dinge wat pla, laat die gestroopte en natuurlike aanbieding van die akteur in Die spreekkamer ’n mens aanhou kyk, sê Dianne Du Toit Albertze.

Aan die een kant van die verhoog staan vyf pare skoene en aan die ander kant ’n roomkleur leunstoel. Die speler, Pietie Beyers, vertolk verskeie rolle van mense wat ’n sielkundige kom spreek, en vir elke nuwe karakter trek hy ’n nuwe paar skoene aan. Sodoende kry die gehoor kans om in elkeen se skoene te gaan staan.

Dit is ’n tegniek wat sommige sal argue ’n bietjie te on the nose is. Dis egter Beyers se gestroopte en natuurlike aanbieding wat ’n mens laat aanhou kyk, luister en kans gee sodat elke pasiënt hulle storie kan deel.

Eerste ontmoet ons ’n neurotiese man wat laat kom vir sy afspraak, want hy moes sy verjaardagkoek gaan afhaal. Vir sy dertigste. Maar hy sukkel nog om rigting te vind en uit te figure wie hy is. Alles in hom worstel en die angs sit in sy keel. Hier reeds word die gehoor gekonfronteer met die harde werklikheid van terapie: dat dit nie altyd help nie, of eerder nie ’n kitsoplossing is nie.

Verder is daar twee vrouekarakters wat aan ons voorgestel word, albei tannie-argetipes, wat worstel met hulle huwelik, moederskap en suburban boredom. Dan kom kuier twee laaste kêrels ook vir ons – ’n man met ’n Oedipus-kompleks en ’n woedende road rager wat, snaaks genoeg, die diepste tref: die stoere, bedonnerde wit oom. Die een wat elke oggend iets in homself moet vrekdruk om uit die bed te kom. Wat nie verstaan hoe almal nié rasend woedend is nie. Die oom wat dalk die graagste wil uiting gee en ook wil genees.

Die spreekkamer het goeie spel, ’n teks met humor en patos sowel as ’n eklektiese klankbaan. Tog wou dié resensent meer variasie, beter karakterontwikkeling en progression sien.

Die spreekkamer het goeie spel, ’n teks met humor en patos sowel as ’n eklektiese klankbaan. Tog wou dié resensent meer variasie, beter karakterontwikkeling en progression sien. Die speler bly regdeur gefokus, attent op elke karakter se binnewêreld, maar die algehele produksie skiet tekort. Die konsep is iets wat al telkemale gesien is. Natuurlik is daar niks mee fout nie – in ’n era van post-postmodernisme is niks tog meer oorspronklik nie – maar die aanslag kan verfris word. Die karaktergesentreerde samevlegting van fragmentele monoloë is al baie suksesvol aangebied – dink maar aan Barney Simon se Joburg, Sis! wat dieselfde raamwerk volg, maar tog meer uniek daarmee omgaan.

Almero Welgemoed het ’n groot taak op sy hande met teks, regie én klank – dalk sou dit ’n goeie idee wees om hulp in te kry met die regie sodat die aanbieding se vloei kan varieer en groter kreatiewe risks gevat kan word met die gegewe.

Hier is iets, maar dit moet verder geslyp word.

*

Die spreekkamer / The Speaking Room

14 OKT 15:30 | 15 OKT 19:30

60 min | Adam Small-laboratorium

R170-R190 | R200-R220 by die deur

Geen o.13 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn