SPIER TONEEL
Iemand het ’n lappop op die mop weggegooi
Produksie: Huis van sand
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
In Dianne Du Toit Albertze se pryswenner-drama, Huis van sand, wil jy as gehoorlid dalk dít wat voor jou afspeel ignoreer of afmaak as fiksie, maar die feite laat nie met hulle stry nie. Daarom wéét jy die uiteinde gaan tragies wees en deur nog geweld geken word. Geweld baar uiteindelik net meer geweld.
Die skrootwerf noem Sandy dit, want sy kom oorspronklik van die Boland af. Maar net buite Springbok ken meeste dit as die mop. Die rusplek van die reste, oorblyfsels en vullis. Dít wat nie meer bestaansreg het nie.
Waar die mop aan die buitewyke van die dorp lê, vind jy dikwels ook die menslike uitskot van die samelewing. Die armes, die verslaafdes, die verworpenes, die geweldenaars, en diegene sonder hoop op uitkoms, al loop die N7 net daar neffentjies verby.
Dít is waar die karakters van Dianne Du Toit Albertze se pryswenner-drama, Huis van sand, hulleself bevind en ’n lewe probeer maak.
Sandy (Tinarie van Wyk Loots), die hoofkarakter, was eens ’n aspirant-digter en aansienlik van voorkoms, maar nou is sy onherroeplik verslaaf aan Sahawi-sigarette en goedkoop wyn en word gereeld papgeslaan deur haar “half Nama, half Nomad” soos sy hom noem, Rodney (Jefferson J. Dirks-Korkee), ’n trokdrywer met die beginsels en begeertes van ’n rondloperbrak.

Haar tomboy-dogter, Babs (Kristen Raath), is op skool geboelie en Omo genoem omdat die armoede aan haar lyf en tot in haar hare sigbaar was. Nou is sy ’n onderwyser by daardie einste skool. ’n Onderonsie met die skoolseun Romario (ook gespeel deur Jefferson) wat met ’n Okapi in sy kous rondloop, dreig om haar loopbaan te kelder nadat hulle bekgeveg fisiek geraak het en deur ’n ander skoolkind verfilm is.
Sussie, oftewel Valencia (René Cloete), is Rodney se “hoerkjeent” vir wie niemand wil hê nie en ná die soveelste verwerping daag sy uiteindelik by haar pa se plek op. Babs is duidelik oorhoops met Sussie en pak Sussie se karige besittings netjies uit in haar slaapplek in die reeds beknopte en verslonste karavaan, vrolik versier met veelkleurige fairy lights. Sussie wil bitter graag ’n aktrise wees, maar sy ly aan ongeneeslike verhoogvrees en vergeet altyd haar woorde. Haar lot staan dus ook onafwendbaar in die verhoogligte en die uitwerking van haar verlede geskryf. Die sondes van die vaders…
Drie ander karakters maak vlugtig hulle verskyning as weerligafleiers en fasiliteerders van die aksie en word gespeel deur Jefferson en René. Juffrou Appel is ’n laerskoolonderwyseres by wie Babs aanklank en beskerming vind. Sy is die teenpool van mnr. De Kock, ’n karikatuuragtige skoolhoof met ’n boepmaag en ’n das wat te kort is, en wat net aan sy eie bas dink. Diedie is waarskynlik die mees gebalanseerde van al die karakters met ’n onblusbare dog donker humorsin en ’n laissez-faire-houding teenoor die lewe. Tog is sy die enigste een wat opdaag om te help, al is dit deur ’n papsak aan te dra.
Sandy (Tinarie van Wyk Loots), die hoofkarakter, was eens ’n aspirant-digter en aansienlik van voorkoms, maar nou is sy onherroeplik verslaaf aan Sahawi-sigarette en goedkoop wyn en word gereeld papgeslaan deur haar ‘half Nama, half Nomad’ soos sy hom noem, Rodney (Jefferson J. Dirks-Korkee), ’n trokdrywer met die beginsels en begeertes van ’n rondloperbrak.
“Nes ’n kosbare erfstuk word geweld van ma na dogter oorgedra. Een geslag se vrou probeer manlikheid in stand hou… Dan is daar die ander geslag wat die patriargie wil pootjie,” skryf Dianne in haar programnotas vir die Woordfees. Geslagsgeweld, generasie-trauma en die gevolge van armoede en verslawing is hoofsaaklik wat sy in Huis van sand ondersoek. Dit word egter gou duidelik dat die las byna altyd net te swaar is. Sodra jy dink daar is ’n uitkomkans, tref die noodlot en moed opgee kry weer die oorhand. As gehoorlid wil jy dalk wat voor jou afspeel ignoreer of afmaak as fiksie, maar die feite laat nie met hulle stry nie. Daarom wéét jy die uiteinde gaan tragies wees en deur nog geweld gekenmerk word. Geweld baar uiteindelik net meer geweld.
Dianne se teks oorrompel jou. Dis woordryk en digterlik, soms kru en pront, en vol uitdrukkings en taal eie aan die Noord-Kaap, spesifiek die Namakwaland-streek. Dit lê soos musiek in die monde van die spelers wie se komvandaan in daardie omstreke is en waar hulle karakters dit vra. Sandy aan die ander kant verduidelik dat die Boland ver van Namakwaland is, maar “my spore het na groener weiveld gaan soek en toe in die Noord-Kaap se vaal vloekveld verdwaal”.
Feitlik elke speler het ook ’n monoloog of monoloë vol diepgang wat aan die gehoor groter insae in sy of haar karakter bied. Feitlik almal van hulle word gekenmerk deur die tema van verspeelde kanse of die oormag van die foute van die verlede. Rodney kon ’n Springbokrugbyspeler geword het, Sandy se drome van skryf het sy “aan die wind geoffer”, en Sussie met haar verhoogvrees wou so graag ’n aktrise gewees het, om maar net enkele voorbeelde te noem. Sommige van die monoloë is so tragies, dit breek jou hart.
Stefan Benade se stel en inkleding is weldeurdag en hy slaag daarin dat dit voel of ’n stoflaag van armoede oor alles lê. Verder is al die ruimtes wat gebruik word reeds op die verhoog, wat dit onnodig maak om fisieke toneelwisselings te doen. Birrie le Roux se kostuums skreeu gepas goedkoop en swak smaak soos net die verkeerde gebruik van tiervel en plakkies kan doen. Juffrou Appel en mnr. De Kock se kostuums laat haar ’n bietjie speling toe. Charl-Johan Lingenfelder se musiekkeuses is trefseker vir wat die oomblik vereis. Al hoor ons hier en daar net ’n maat of vier van sangers soos Gert Vlok Nel en Koos du Plessis, is dit oorgenoeg om die stemming te beklemtoon. Wolf Britz, die regisseur en beligtingsontwerper, sorg dat alles gebeur wanneer en soos dit moet.
Geslagsgeweld, generasie-trauma en die gevolge van armoede en verslawing is hoofsaaklik wat die dramaturg in Huis van sand ondersoek. Dit word egter gou duidelik dat die las byna altyd net te swaar is. Sodra jy dink daar is ’n uitkomkans, tref die noodlot en moed opgee kry weer die oorhand.
Dianne se teks is ’n welverdiende wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys, ’n groot prys vir so ’n jong dramaturg, wat ’n ewe groot verantwoordelikheid meebring. ’n Teks se sukses kan egter eers waarlik gemeet word wanneer dit op die planke gebring word en ’n gehoor daarin insae kry. Gemeet aan die staande applous reeds met die eerste opvoering by die Woordfees, slaag Huis van sand die lakmoestoets met vlieënde vaandels.
Groot dank is verskuldig aan ’n knap ensemble, ’n sterk groep kreatiewes en ’n regisseur met sy hand stewig op die leisels. Dit is geensins maklike onderwerpe nie, maar danksy dié span kan niemand by die ouditorium uitstap en sê “ons het nie geweet nie”.
*
15 OKT. 14:00 | 16 OKT. 20:30 | 17 OKT. 09:30
kykNet Rhenish Girls’ High
Lees ook ’n onderhoud met Dianne Du Toit Albertze: Klik hier