TOYOTA MUSIEKFEES

Klopsestorie klim in kykers se harte

Produksie: Première-wenproduksie: Kenan en die Klopse
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Kenan ennie Klopse, wenner van die Première-dramakompetisie, is gevul met ’n goeie balans van narratief en fisieke teater – en dis ’n storie wat gou in die kyker se hart kom klim.

Alle goeie stories begin in die donker, daar waar onsekerheid broei oor wie ons is en waantoe ons op pad is.

Dis waar Kenan se storie ook begin. Hy wil graag ’n skrywer word.

’n Klein kollig verskyn op die verhoog en twee hande begin verwoed tik op ’n denkbeeldige laptop. Met elke letter hoor ons ’n tromslag. Kenan, gespeel deur Wyatt Afrika, word sigbaar. Die twee spelers agter hom – die gestalte van sy gedagtes – begin in rammelende sinne praat. Die skinderstories om hom klink op, die dowwe stories wat skaars oorvertel word.

Gou word hy onderbreek deur sy ma, gespeel deur Alyssa Jacobs, ál stikkend aan ’n blink baadjie wat sy vir hom regmaak. Die baadjie het behoort aan sy oorlede oupa, Boeta Gammat. Kenan wil net skryf, maar sy wil so graag hê die baadjie moet pas nes ’n skoen wat hy moet vol staan of ’n voetspoor wat hy moet volg.

Dit stuk is gevul met vele voorbeelde van pragtige metafore en fisieke teater.

Dit is egter nie net sy ma wat hom in ’n hoek wil druk oor hy die blink pienk Klopsebaadjie moet dra nie, maar ook die besige antie, gespeel deur Jasmine Maduna, wat alewig op die verkeerde tyd kom kuier en net tee soek en skinderstories wil kom uitdeel. As die antie hom eers hoor sing, is die koeël deur die kerk. Kenan se ma en die vrou steek hom op om vir sy twee ooms te gaan kuier, want hopelik sal die twee mans sin in sy kop praat. Maar die twee ooms, ook deur Maduna en Jacobs vertolk, is egter karakters van ’n formaat! Kenan beskou die besoek as ’n geleentheid om oor sy misterieuse pa uit te vis en dit lei tot ’n sielsveranderende ontdekking.

Wyatt Afrika is oortuigend as die jong skrywer in konflik met sy herkoms en identiteit, ’n stryd wat hy slim afwissel met goeie komiese tydsberekening terwyl hy deurgaans die emosionele groei wys in Kenan as karakter.

Kenan ennie Klopse, wenner van die Première-dramakompetisie van die Universiteit Stellenbosch, is ’n storie wat gou in die kyker se hart kom klim. Dis gevul met ’n goeie balans van narratief en fisieke teater wat albei ewe sterk en deeglik opgeweeg is. Die musikant wat live op die verhoog speel, is goed in aanvoeling met die spelers en dra by tot die musikale elemente en tematiek. Afrika is oortuigend as die jong skrywer in konflik met sy herkoms en identiteit, ’n stryd wat hy slim afwissel met goeie komiese tydsberekening terwyl hy deurgaans die emosionele groei wys in Kenan as karakter. Maduna is veral treffend as die antie van langsaam met ’n aansteeklike energie.

Dit is egter vir Jacobs wat ek wil uitsonder. Nie net speel sy verskeie karakters met soveel insig, humor en deernis nie, maar sy is ook vir die choreografie en teks verantwoordelik. Wat ’n ongelooflik veelsydige talent is sy nie! ’n Vars stem met talent wat bars uit haar nate, wat ’n outentieke inheemse narratief oopskryf en hopelik nog vele juwele soos dié sal oplewer.

*

Kenan ennie Klopse

14 OKT 19:00

Adam Small-laboratorium

Facebook
Twitter
LinkedIn