SPIER TONEEL
Komediedrama tref nie die kol nie
Produksie: Ek koop my eie blomme
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur en Erika Marais
Dis die ding van stereotipes: Hulle is so stereotipies. Amper voorspelbaar. Beige. En dit is maar net een van die probleme met Ek koop my eie blomme.
Ter agtergrond: Ek koop my eie blomme is die Afrikaanse vertaling van Mike van Graan se toneelstuk I Can Buy Myself Flowers wat vroeër vanjaar sy eerste speelvak in die Kaap gehad het. Die titel kom van ’n gelyknamige Miley Cyrus-liedjie wat volgens die feesgids “die kreetlied vir enkellopende vroue reg oor die wêreld” is. As enkellopende vrou was dit vir my nuus. Selfs voor ’n skietpeleton sou ek nie die eerste reëls kon neurie nie. Ewenwel.
Die hoofkarakter in dié eenvroustuk is Natalie Jackson, ’n eiendomsagent van iets in die vyftig, geskei, en die ma van ’n dogter. Die aktrise Erika Breytenbach, wat bekend is vir haar verhoogwerk in stukke soos The unlikely secret agent en Die goeie pa, is egter nie net Natalie nie. Elke dan en wan is sy ook een van haar vriendinne en dis hier waar die stereotipes behoorlik woel: die een wat al lank nie dieselfde bed as haar man deel nie, die lesbiese paartjie wat die swart kind aangeneem het, die vrou wie se man uit die kas klim, die mistress in die oop verhouding, die life coach…
Die stuk van net oor ’n uur word as ’n komediedrama beskryf, maar hoewel daar snaakse oomblikke is, is dit nooit skreeusnaaks nie en die dramatiese kant ondersoek nooit werklik Natalie se pad van jong meisie na die vrou wat vir haarself blomme laat aflewer nie.
Die titel kom van ’n gelyknamige Miley Cyrus-liedjie wat volgens die feesgids “die kreetlied vir enkellopende vroue reg oor die wêreld” is. As enkellopende vrou was dit vir my nuus. Selfs voor ’n skietpeleton sou ek nie die eerste reëls kon neurie nie.
Die stelinkleding met onder meer ’n serp en ’n houtkrat wat vir meer as een doel aangewend word, voel afgeskeep. Kon die wynglas nie van glas gewees het nie – is die inskroef-plastiekfeesglasie al waaarop hulle hul hande kon lê? Breytenbach was ook gereeld nie in die kollig wat op die verhoog geskyn het nie wat steurend was.
Met die uitstap het iemand gesê-vra of dit “narrative stand-up” was, met ander woorde komedie met ’n storielyn. Maar dit was ook nie dít nie. Dit was ’n geval van en toe gebeur dit en toe gebeur dat en toe gaan ons Italië toe en toe gebeur dit en toe bekyk ons onsself met ’n spieël van onder af en toe gebeur dit en kan ’n vrou maar nie net dans, passie en lag in haar lewe hê nie?
Dalk het daar iets in die vertaling van die stuk verlore gegaan. Is daar sulke vroue? Natuurlik is daar, maar ongelukkig is daar nooit by die ware siel van veral Natalie uitgekom nie en dis jammer.
*
13 Okt. | 16:30
Spier-ouditorium