SPIER TONEEL
’n Testament van hoop en oorlewing
Produksie: Kompoun
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Gys Loubser
Kompoun is wat teater aan ’n mens moet doen: ons terugruk na onsself en na mekaar. Mag elke gehoorlid wat hierdie testament van hoop en oorlewing kom kyk, geïnspireer word om soos Nadia en Xavie die bande wat ons bloeiend bind los te breek, maar ook die skadu’s binne ons elkeen tot rus te bring, skryf Dianne Du Toit Albertze.
Dit gebeur min dat ’n teaterstuk jou vel, vlees en been deurdring – en dis wat hier met ’n mens gebeur. Jy tel saam met Nadia en Xavie die stukke op en stap stukkend weg, maar ook so donners lewendig, want Kompoun is wat teater aan ’n mens moet doen: ons terugruk na onsself en na mekaar.
Groenplaas se rooi hek word vir ons oopgemaak en elke kyker word ingenooi, skoons met aansteeklike dance moves en van die herkenbaarste R&B-musiek van onder andere Dionne Warwick, wat kykers sal laat terugverlang na Sondaenamiddae in die koelte van ’n boom met ’n koue in die hand. Dis waantoe Nadia en Xavier, gespeel deur onderskeidelik Melissa de Vries en Angelo Bergh, jou neem, na plekke waar ons almal al voorheen was: begrafnisse, aannemings en paarties. Vir ander ook die herkenbaarheid van vernedering en violence. Als wat familielede oor wil stilbly, wegsmyt en vergeet, kom krap die niggie en nefie oop en stel dit teen toon, maar deel dit ook nes ’n pakkie NikNaks wat vir die voorste ry omgestuur word om saam skelm in die kerk te eet.
Nes die McKinney-familie se kringloop van trauma word die gehoor in ’n sirkel geplaas waarin Nadia en Xavier vir ons die stories van hulle stamboom vertel. Hulle dra versigtig ’n groot rooi plaashek tot in die middel van die kring. Stuk vir stuk begin vertel die twee dan vir ons wie hulle is, wat hulle gemaak het en wat hulle in skerwe sou agterlaat. Nadia en Xavier is in die 1980’s gebore, Thabo Mbeki was hulle president, daar was ’n oorlog in Irak, voeg Xavier by, maar ook in hulle familie.
Die niggie en nefie maak beurte om die verskillende bykarakters te vertolk. As dit by ouma Sylvia kom, dan wil niemand haar vertolk nie. Nadia is egter ’n regte grapgat en vat nie sommer nee vir ’n antwoord nie – Xavie moet maar ingee en die “matriarch van leuens” se pienk gown aantrek. De Vries en Bergh verdwyn in elke karakter wat hulle so tasbaar en eg lewe gee. Dis nie gou nie of die twee wys vir ons hoe ouma Sylvia haar een dogter Diana forseer om aangeneem te word in die kerk, iets wat lei tot vernederende nagevolge.
De Vries en Bergh verdwyn in elke karakter wat hulle so tasbaar en eg lewe gee.
Nadia is Sylvia se gunsteling, maar sy is versigtig vir haar ouma – sy wil nie die haat erf nie. Dan weer antie Trisha, met haar plastic-sak oor die kop en lang bier en haar susters wie se manne almal dood is en wie nie kerkloop nie. ’n Moerbypot van eksentrieke anties, niggies en nefies met skreiende eerlikheid weergegee soos net Ronelda Kamfer kan.
Wat die pa’s in Kompoun betref, is die mees spot-on beskrywing wanneer Nadia vir Xavier sê hy is lucky om ’n dooie pa te hê. Nadia se pa slaan haar asof hy in ’n boksgeveg is. Sy drink Fanta en Valiums om die seer te numb oor wat hy aan haar lyf doen, maar ook aan haar gees.
Die regisseur, Lee-Ann van Rooi, oortref haarself met puik gechoreografeerde fight scenes wat in Kamfer se kenmerkende aweregse humor aangebied word. Dit tref dan juis soveel harder wanneer ons ná die gestoei sien hoe sy stilletjies in stukke breek as Xavie vir haar sê: “Hy haat jou oor jy soos jou ma lyk”. Met die gehoor en spelers wat so naby mekaar is, kan ’n mens letterlik in De Vries se oë sien hoe haar pa se haat in haar begin groei, maar wat sy “soos ou gras wil uitbrand”.
Xavie het van kleins af saam met sy ma by Nadia-hulle ingetrek en van toe af is hulle onafskeidbaar. Hulle deel nie altyd net ’n huis nie, maar ook ’n lot en word saam die getuies van vele destructive deeds van verwronge liefde. Maar Xavie wil ook soos Nadia die “system dismantle”. Xavie eindig soms op in die verkeerde situasies en plekke, soos die rehab-groep, al het hy nog nooit drugs gedoen nie en hy word boonop gepressure om te erken hy is ’n verkragter, al is hy dit ook nie. Gelukkig vir ons as kykers het die twee karakters heerlike en soms pikdonker humorsinne wat ’n mens saam wil laat lag vir hul guy maak met mekaar.
Dit is verstommend hoe effortless Van Rooi verskeie rekwisiete gebruik sonder dat die gehoor eens oplet daar kom nog iets by of something val weg. Elke item is gepas en dra by tot die storie, so ook die uitsonderlike beligting deur Alfred Rietmann, wie se open whites die gehoor eers soos ’n deer in headlights konfronteer en dan weer met die ekonomiese gebruik van kleur en sagter verheldering van Kamfer se brutale teer oomblike.
Die regisseur, Lee-Ann van Rooi, oortref haarself met puik gechoreografeerde fight scenes wat in Kamfer se kenmerkende aweregse humor aangebied word. Dit tref dan juis soveel harder wanneer ons ná die gestoei sien hoe sy stilletjies in stukke breek as Xavie vir haar sê: ‘Hy haat jou oor jy soos jou ma lyk’.
Dit vat ’n helse lot guts om ’n meester soos Kamfer se bekroonde roman te verwerk, en Jolyn Phillips rise ten volle tot die occasion. Phillips het fyn te werk gegaan deur getrou te bly aan die oorspronklike verhaallyn terwyl sy terselfdertyd kernkeerpunte in elkeen van die sentrale karakters se lewens bymekaar gevleg het soos ’n rietmandjie – een wat fragmentaries en tog toeganklik is, maar ook dig en dramaties. Van Rooi het die mandjie nommerpas gevul met al haar beste tricks wat sigbaar is in die innoverende en simboliese stel, sowel as die eerlike aard van die aanbieding met ’n goeie balans tussen stilisme en naturalisme.
Wat niggie en nefie betref, is ek steeds bekaf. My woorde het ’n long-distance taxi gevat. En my hart lê so fyn versplinter dat ek nog lank ná die vertoning gaan moet sit met die impak van hierdie werk, grootliks te danke aan die spelers.
Bergh se karakters speel hy van sy tone tot sy stem met soveel oortuiging en impak dat elkeen mens word voor die gehoor se oë. Sy ouma Sylvia is smeulend dog wreed. As hy weer ’n verlangse nefie speel, is hy weer hemelhoog agter sonbrille met ’n egtheid wat ’n mens ongemaklik laat sit. Xavie is weer iets anders. So rof en grof soos die karakter wil wees, so kwesbaar en vol integriteit speel Bergh hom. Die kere wanneer hy sonder dialoog luister na Nadia, voel ’n mens die kompleksiteit en seerkry van omgee vir iemand wat hulleself vernietig.
De Vries se Nadia, nes Esme Marthinus in Kamfer se Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens, is onwrikbaar, bekkig en breekbaar. De Vries hou jou as gehoorlid in die palm van haar hand, en al word dit soms ’n gebalde vuis, laat los sy jou nooit nie. Haar Nadia neem die gehoor met soveel warmte na al die plekke wat bestaan in ons almal se verlede. Tot in haar stilste en amper filmiese oomblikke command sy nog altyd die verhoog. De Vries speel elke karakter met soveel deernis en detail, maar dis veral Nadia wat die aktrise met soveel lae bou wat ’n mens verstom. So genadig soos sy met die gehoor interact, so genadeloos is sy ook met jou gevoelens as gehoorlid wanneer sy die vale hel – van begin tot einde – uit hierdie stuk uit speel. De Vries het my opnuut hoopvol gemaak vir die toekoms van teater.
Mag elke gehoorlid wat hierdie testament van hoop en oorlewing kom kyk, geïnspireer word om ook soos Nadia en Xavie die bande wat ons bloeiend bind los te breek. Maar ook die skadu’s binne ons elkeen tot rus te bring. Ons is almal gefok, maar gelukkig is ons nie alleen nie. Seer sal ons altyd kry, maar lief sal ons ook altyd hê. Die lirieke van “Cast No Shadow” van die Engelse rockgroep Oasis verwoord my wrakhart die beste:
Chained to all the places that he never wished to stay
Bound with all the weight of all the words he tried to say
As he faced the sun he cast no shadow…
Kompoun
17 OKT 14:30 & 18:00 | 18 OKT 11:00 | 19 OKT 13:00
Adam Small-laboratorium