SPIER TONEEL
Die Magda Louw-fenomeen
Produksie: Magda en haar Erhard: How “Louw” can you go?
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Ten spyte van haar eie voortdurende voorbehoude gaan kyk Nadine Petrick na die nuutste Magda Louw-aanbieding…. En sy lag (weer) dat die trane spat!
“Hie’ komme ding, uh uh; ’n ding wat spring, uh uh…” En ja, mense, dis nie ’n leuen nie, dis bloot die intro. Magda en haar Erhard doen die Woordfees. En wat ’n ding is dit nie.
Niemand hoef meer te wonder oor die meriete van Magda Louw nie – die kykNET-reeks is supergewild. Die teaterstukke verkoop uit. Jaar ná jaar en reeks ná reeks word die karakter se lof besing. En hoekom dan nou nie? Magda Louw werk doodeenvoudig fantasties.
Twee jaar gelede moes ek vir Magda op die Woordfees beleef, en ten spyte van my eie voorbehoude het ek gelag dat die trane drup. Vandag was dit wéér die geval. En die tjok-en-blok Bloemhof-sentrum het saam geskater.
Desiré Gardner is nie sommer ’n hierjy aktrise wat besluit het om ’n karakter te skep en mogge troffe nie… Sy is ’n slim, berekende skrywer wat dit regkry om kommentaar te lewer wat die tydsgees weerspieël; stout te wees sonder om enigiemand te offend; en doodeenvoudig vreugde te verskaf in ’n landskap wat meestal erg afgewaterde komedie as ’n dik en vullende wintersop voorsit.
Hoewel alles met ’n ligte aanslag aangebied word, is die waarhede wat Magda en haar Erhard tussendeur die kwinkslae kwytraak, treffend en in die kol.
Hierdie jaar bring Magda haar Erhard (Hannes van Wyk) saam Woordfees toe. Hulle skryf ’n produksie in wat hulle hoop die Woordtrofeepaneel sal beïndruk, maar uiteraard verloop niks volgens plan nie (elke slag as sy van die paneel praat, gee sy ’n curtsy). Erhard maak sommer onmiddellik droog en verskyn by die verkeerde deur, ver weg van waar hy moet wees. Op pad verhoog toe maak hy geselsies met die gehoor; vra ’n niksvermoedende vrou van Hermanus of sy die Du Toits ken en uiteindelik vind hy sy weg na waar sewe prente op esels – en ’n ongeduldige Magda –op hom staan en wag.
Die vertoning handel oor kuns: die kuns van die lewe, die kuns van kindwees; kulkunsies en sommer ook ’n bietjie kunsmis. Magda verklaar dan onomwonde en met ’n oogknip: “Geniet die reis deur ons kwaste.”
Elkeen van die sewe prente (kunswerke kan ’n mens dit nie werklik noem nie) word in diepte bespreek, en die tema van elke prent word uitgelig, soos: “Al gaan dit hóé sleg, hou dinge vrolik!” En: “Solank jy ’n goeie ma het, is alles oukei!” Ook: “Stop julle nonsens en gaan lewe!”
Hoewel alles met ’n ligte aanslag aangebied word, is die waarhede wat Magda en haar Erhard tussendeur die kwinkslae kwytraak, treffend en in die kol. En die wonderlike ding is dit raak régtig nooit soetsappig nie. Hulle dans op “Hoeka-Toeka”, sing ’n lied, praat oor die dood en huwelike, en natuurlik ook oor die liefde: “Eers sleep hy vlerk en dan sleep hy die hele voël!” Gemaak verontwaardig, en omdat Erhard stik oor die stelling, sê sy dan ook: “Nie daai voël nie, my herder! Haal jou kop uit die gutter. En jou brein ook!” Knipoog.
Iewers noem Magda weer die paneel (curtsy) en noem terloops: “Daai Botha-vrou is seker ook hier.” Saartjie Botha (feesdirekteur) was inderdaad nié in die gehoor nie, maar Magda sal bly wees om te hoor dat “die Botha-vrou” 15 jaar gelede al die potensiaal in die fenomeen kon raaksien: “Desiré het op die verhoog gestap en net gesê: ‘Hallo, my naam is Magda Louw’. En dit was om een of ander rede baie snaaks. Sy het net intuitief geweet presies wat om te doen.”
Dis 15 jaar later en niks het verander nie, behalwe dat sy selfs beter en waarskynlik ook snaakser is. Die gehore kan nie genoeg kry daarvan nie, die feeste maak geld en die resensente het niks leliks om te sê nie (want hoekom wil mense altyd op vreugde pie, om Magda se woord te gebruik).
En daar is absoluut niks fout met dáái prentjie nie.