TOYOTA MUSIEKFEES
Die nie Nick Cave nie, maar moordballades is dit wel
Produksie: Moordballades en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
In ’n donker Daisy Jones Bar vir Moordballades vergeet Nadine Petrick vir ’n oomblik hoe baie sy van Chris Chameleon se Jonker-toonsettings gehou het. Want enter Chris du Plessis.
Moordballades is ’n subgenre van die tradisionele ballade en dit handel, soos die naam voorspel, oor ’n gruwelike dood. Die lirieke vorm ’n narratief wat die gebeure van ’n moord beskryf, dikwels insluitend die aanloop en/of die nadraai daarvan.
Nick Cave se negende studio album, Murder Ballads, is in 1996 uitgereik met ikoniese liedjies soos “Henry Lee”, “Where the wild roses grow” en “Death is not the end”. Ook in 1996, hier ter plaatse, gebeur ’n heel ander musikale interessantheid: Chris du Plessis, joernalis en TV-regisseur (en kunsredakteur van Vrye Weekblad), en ’n paar van sy vriende stig ’n obksure band genaamd Die Radiators as uitvloeisel van Chris se bemarking van die Voëlvry-toer. Hulle neem ’n klein, maar belangrike album met die titel Volume 0 op. Dit bevat die legendariese “Somerslied” met die refrein “Fokkit, maar dis warm in Johannesburg”.
Dit word amper ’n meesterklas in die eerste en tweede Afrikaanse taalbeweging, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Dis ’n aanslag wat jy waarskynlik nog nooit gehoor het nie.
Amper 30 jaar later, sonder Nick Cave of enige ander lede van die Die Radiators, bring Chris du Plessis sy eie Moordballades Woordfees toe. En moord is daar beslis.
Du Plessis gaan delf diep in ons literêre geskiedenis – die jongste gedig wat hy toonset is 70 jaar oud. I.D. du Plessis, W.E.G. en N.P. van Wyk Louw, Opperman, Leipoldt, Malherbe en self Pikkedel se “Hartebeesfontein” word op ’n onkonvensionele manier aan die gehoor voorgehou. Chris is snaaks, ironies en obskuur, en hy verduidelik met groot omsigtigheid hoe hy by elke gedig uitgekom het en wat elke lied tematies beteken.
Du Plessis weet omvattend baie van die digkuns. Dit word amper ’n meesterklas in die eerste en tweede Afrikaanse taalbeweging, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Dis ’n aanslag wat jy waarskynlik nog nooit gehoor het nie. Hier is niks van Chris Chameleon se Jonker-tipe toonsettings of Laurinda Hofmeyer-vibes te hoor nie. Ook nie Nick Cave nie. Van die gedigte wat hy kies om te interpreteer is al voorheen deur ander musikante getoonset, maar Du Plessis se unieke weergawe gaan jou laat vergeet dat jy “Die beiteltjie” al in ’n ander weergawe gehoor het.
Moordballades gaan waarskynlik nie in almal se smaak val nie, maar dit maak geheel en al nie saak nie, want dit hóéf nie.
*
Moordballades
15 Oktober | 16:00
The Daisy Jones Bar