TOYOTA MUSIEKFEES

Kom besin saam oor ons bestaan

Produksie: Omwentelinge: ’n Papierspel 
Deur: Dianne Du Toit Albertze

Stap saam met Dianne Du Toit Albertze die voorkamer van twee legendes binne.

Om twee legends soos Jana Cilliers en Koos Kombuis op die Drostdy se verhoog te hê is soos om ’n masterclass by te woon. Tog is dit soveel meer: Hulle nooi ’n mens uit om skoene uit te skop en die voorkamer van hulle verbeelding binne te gaan.

Die teater is donker met sagte blou en groen ligte op elkeen waar hulle aan weerskante van die verhoog geposisioneer is – twee teenpole van stories, ryk geskakeer en vol wysheid. Kombuis vertel staaltjies oor die inspirasie van songs voor hy ons daarmee betower. Cilliers stap soms gemaklik oor en gesels met hom, alles seepglad en natuurlik. Die twee se chemistry is tasbaar en laat voel ’n mens gou op jou gemak.

Omwentelinge is pragtig saamgestel deur Cilliers, met ’n goeie kombinasie van nostalgie, herinnering, eensaamheid, eksistensialisme en humor. Met kortverhale deur Cilliers, Kombuis, Hennie Aucamp en Petra Müller wat die verbeelding aangryp grootliks danksy Cilliers se puik voordrag wat omtrent ’n meesterklas in stemwerk is. Tog probeer sy nie afshow nie; Cilliers laat lyk alles so effortless lyk en sy hou die gehoor strykdeur vasgenael.

Die twee se chemistry is tasbaar en laat voel ’n mens gou op jou gemak.

Kombuis is sjarmant soos altyd, dof belig met sy blou kopdoek en ’n kitaar in die hand. Sy gemaklikheid nooi ons uit om agteroor te sit en deel te word van die stories oor wat is en wat was – vele van sy songs is opgedra aan kunstenaars wat reeds al weg is. Hy bied ’n verskeidenheid aan die gehoor – van Afrikaanse tot Engelse songs en dan weer voordrag, alles met sy kenmerkende warmte, speelsheid en eerlikheid.

Die produksie kort wel meer afwisseling. Cilliers is die enigste performer wat gebruik maak van die verhoog – Kombuis kan miskien ook die kitaar neersit en wegtree van die mikrofoon wanneer hy sy voordrag doen. Hier is wonderlike dele met humor – veral Kombuis se verhaal wat deur Cilliers gelees word. Verder is die ligter oomblikke minder, al het albei wonderlike komiese aanvoeling. Dalk kan nog ’n kortverhaal bygevoeg word wat die somber toon in sekere dele weer kan lig.

Omwentelinge sal veral geniet word deur mense wat uit dieselfde era kom as die twee kunstenaars en die verwysings en milleu ken. Tog wil ek graag jonger gehoorlede ook aanmoedig om hierdie produksie te kom kyk en by ons legendes te leer.

*

Omwentelinge: ’n Papierspel
19 OKT 14:00
60 min | Drostdy-teater
R200-R279 | R230-R300 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn