TOYOTA MUSIEKFEES
Ons is veilig in Lize se hande
Produksie: Lize Beekman: Tussen hier en daar
Deur: Ilza Roggeband
Op haar kenmerkend innemende manier, en met elke woord en noot op sy plek, het Lize Beekman die gehoor op reis geneem van die een liedjie na die ander op haar splinternuwe album, Tussen hier en daar – waar die saadjie vir elkeen geplant is en die stories daaragter.
Watter kunstenaar waag dit om ’n konsert met omtrent net haar nuwe liedjies te hou? Watter kunstenaar kan ’n gehoor stil sing sodat jy ’n speld kan hoor val? Watter kunstenaar kry die bestes om die verhoog met haar te deel? Watter kunstenaar kan sing dat as jy jou oë toemaak, dit voel of jy die opname van haar musiek met die beste oorfone luister? Die antwoord op al hierdie vrae is Lize Beekman.
Lize se nuwe album, Tussen hier en daar, is vroeg in Oktober vrygestel en dit is ook met hierdie nuwe liedjies wat sy kom fees hou het. Saam met haar op die verhoog was Mauritz Lotz, Janine Neethling en Anjulie Nock, wat ook op die albumopnames gespeel het.
Sy sing van die ruimte tussen wonder en weet, van haar ma se hande en ’n hoed wat sy in ’n boks in die spaarkamer kry. Alledaagse dinge, dalk, maar met soveel diepte en met elke woord en noot op sy plek.
Op haar kenmerkend innemende manier het Lize die gehoor op reis geneem van die een liedjie na die ander – waar die saadjie vir elkeen geplant is en die stories daaragter. Sy vertel van haar diepgewortelde liefde vir Afrikaans, wat so duidelik is in haar wonderskone omgang met die taal. Sy sing van die ruimte tussen wonder en weet, van haar ma se hande en ’n hoed wat sy in ’n boks in die spaarkamer kry. Alledaagse dinge, dalk, maar met soveel diepte en met elke woord en noot op sy plek.
Hanno Smit, die klankingenieur by die Drostdy-teater, verdien groot lof vir sy uitstekende vermoë om elke klank op die verhoog op sy beste te laat klink.
Lize het afgesluit met die akoestiese weergawe van “Ewewig en stilte” en die sielsmooie woorde:
Ek wens vir jou dagbreek
en ewewig en stilte,
die son wat op jou stoep kom dans
as hy oorneem by die maan
Ek wens vir jou dagbreek
En ’n geliefde altyd naby
Ek wens vir jou geloof, hoop, liefde, rus en vrede
en ewewig en stilte.
Mag dit ook vir haar so wees en mag haar woorde en musiek ons nog lank salf.
*
Lize Beekman: Tussen hier en daar
18 OKT 11:30 | 19 OKT 19:30
Drostdy-teater