SPIER TONEEL
Poppe wat die hart laat dans
Produksie: Die olifant
Deur: Dianne Du Toit Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Veral die poppe is ’n hoogtepunt in die US dramadepartement se produksie “Die olifant” – ’n sprokie vir oud en jonk wat ons herinner dat ons verantwoordbaar gehou moet word vir ons dade.
In Die olifant deur die US dramadepartement word ’n ryk verskeidenheid verhale deurvleg met lieflik absurde karakters en intriges. Hier is mense, poppe en diere ewe geldig, en elkeen se storie word met dieselfde donker pittigheid vertel deur ’n groep energieke spelers en poppemeesters in dungarees in verskillende herfskleure. Veral die poppe is ’n hoogtepunt en steel ’n mens se hart.
Ons begin met kinders wat ’n sneeuman wil bou, maar elke keer deur hulle pa (Antoni Schonken) geskel word omdat hy meen hulle probeer iemand naby hulle namaak. As dit nie die koerantman met die reuse-neus is nie, is dit die president wie se gulp alewig oop is. Die pa berispe sy kinders, maar hulle hou voet by stuk hulle het dit onwetend gedoen.
Dan ontmoet ons ’n eensame man (André Gerber) wat ’n swaan by ’n munispale park oppas. Hy is gewoond aan die uitmergelende ure en om op sy eie te wees, maar toe die koue eers deur sy vel begin sny, het hy geen ander keuse nie as om die swaan saam te neem na die naaste restaurant toe. Eet gebeur maar min – hy en die swaan maak eerder keel nat en ’n eienaardige kameraadskap ontaard.
Maar nes die leeu wat weier om die Christene te eet, die perd met sy vlerke en vogue dance moves en die plastiek-opblaasolifant, het elke storie van die Poolse skrywer Slawomir Mrożek ’n morele les wat bepaal word deur die keuses wat die karakters maak.
Die olifant is ’n sprokie vir oud en jonk wat die spot dryf met almal van ons, maar ons ook herinner dat ons verantwoordbaar gehou moet word vir ons dade. Moet dit nie misloop nie.
*
Die olifant
15 OKT 11:00 & 14:30
Adam Small-laboratorium