TOYOTA MUSIEKFEES

‘Skrootwerf’ smokkel met die kop (eerder as die voete)

Produksie: Skrootwerf-evangelie: Gebroke Hallelujas en verroesste belydenis
Deur: Diane de Beer

Met musiek en woorde wat onlosmaaklik verbind is in Skrootwerf-evangelie, het Frieda van den Heever en vyf ander musikante ’n ouer gehoor betower wat duidelik net lus was om sit-sit so te woel en wikkel.

So lekker het hierdie halfdosyn musikante gewoeker met die musikaliteit van die musiek én die woorde dat die openingsaandgehoor dadelik oorrompel en tjoepstil was. Hulle het aandagtig na elke woord geluister, want in Skrootwerf-evangelie is musiek en woorde onlosmaaklik verbind.

Frieda van den Heever (klavier en stem) is beide musikant en woordsmous en omring haar met talentvolle mense wat almal kan musiek maak én sing.

Dit was ’n interessante keuse van musiek – van Koos du Plessis tot Leonard Cohen, Tom Waits tot Joni Mitchell, en ook ’n paar deur Frieda en Deon Meiring (kitaar en stem). Baie mense trek hulle neus op vir cover songs, maar as jy so raak en wyd kies soos hier, is die repertoire ’n aanwins, of dit nou oorspronklik is of nie.

Die meeste gehoorlede is aan die verkeerde kant van veertig en verkies duidelik om aandagtig te luister na songs wat gekies is vir die magiese krag van die woorde en musiek tesame.

Die ses musikante – behalwe vir Frieda en Deon neem Francois van der Merwe (baskitaar en stem), Annemie Nel (tromme), Marina Louw (altviool) en Grethe van der Merwe (klawerbord, dwarsfluit en stem) ook deel – weet hoe om konsert te hou. Hulle gesels hier en daar, maar die klem is op die musiek en die keuse van kunstenaars wat hulle vereer.

Frieda het in ’n stadium verwys na Valiant Swart wat die vorige aand met ’n paar gehoorlede in ’n mosh pit kon spog, maar miskien het die ouderdom hier teen haar gehoor getel. (Ek is nie seker hulle het eintlik geweet waarvan sy praat nie.) Hulle was eerder betower deur die woorde en duidelik nie lus vir woel en wikkel nie. Al wissel die musiekgenres – sommige stil, ander met meer skop – moet Frieda maar vir lief neem dat sy musiek maak wat met die kop smokkel eerder as om die voete te laat werk.

Haar aanhangers kla glad nie. Die meeste is aan die verkeerde kant van veertig en verkies duidelik om aandagtig te luister na songs wat gekies is vir die magiese krag van die woorde en musiek tesame.

Selfs wanneer Frieda gesels, is dit meer poëties as prettig, maar dit is hoe haar volgelinge haar ken, en ek dink nie hulle wil dit anders hê nie. ’n Bietjie lyfswaai ál sit-sit so kan miskien geduld word, maar hulle het gekom om te luister na Skrootwerf se sielskos.

*

Skrootwerf
15 Okt 20.00
HMS Bloemhof-sentrum

Facebook
Twitter
LinkedIn