SPIER TONEEL

Steffi dien ’n dubbelfout

Produksie: Gebou soos Steffi Graf
Deur: Naudé van der Merwe

Gebou soos Steffi Graf gaan oor belaglike studentepret, maar vra ongelukkig ook al die ooglopende vrae oor manlikheid. ’n Verspeelde kans.

In Gebou soos Steffi Graf word elke Afrikaanse vloekwoord onder die son gebruik, maar die woordjie “poes” kry nooit alleen lugtyd nie. Ek kan nie lekker onthou nie, dalk is dit as voorvoegsel saam met ’n ander woord iewers in die middel van die toneelstuk gebruik, maar alleen? Nee, net nie dít nie. Chris Vorster se karakter vra selfs vir die gehoor om verskoning, en noem dit dan “p-bomme”.

Hierdie soort aangeplakte preutsheid, terwyl ons so pas ’n verhaal aangehoor het van hoe een van die vyf oud-Wilgenhoffers in hierdie eenmanstuk só dronk was dat hy homself terselfdertyd bekak, bekots en bepis het, is teleurstellend, en sê baie oor die waarde wat ons aan dade heg teenoor woorde. Hê die ballas om al die pad te gaan.

Hoekom, as ons kan “fok” en “kak”, en van “liter-tiet” en “pishoring” praat, en ons ons ballas “Brolloks en Bittergal” doop, is “poes” van die tafel af? Hoekom is dít gereeld een stap te ver?

Deurgaans voel dit of die verteller hom hier ook verdedig teen een of ander ‘militante feminis’. Ons leef vandag in ’n era waarin baie mans enige kritiek as ’n aanval ervaar. Mans kan nie meer sê wat hulle wil nie? Bullshit.

Die toneelstuk, geskryf deur Vorster met regie deur Marion Holm, is opgestel as ’n pitch by Teksmark, waar Vorster die konsep aan ’n denkbeeldige paneel verduidelik in die hoop om befondsing te kry. Die basiese idee is ’n nostalgiese terugblik oor vyf vriende – Oupa, Asbak, Byl, Kakhuis en Wors – en ander randkaraters soos Baba-arm se tyd by Wilgenhof. Die goeie ou dae, toe hulle Duitse toeriste wat soos Steffi Graf lyk opchat, só dronk bestuur dat hulle karre afskryf, ’n spit-skaap by ’n troue steel en met die gaar vleis op ’n dakrak dorp toe jaag. Jy weet, studentepret.

Ek was ook in ’n manskoshuis, en een oggend toe ek wou gaan stort, was daar ’n krokodil in die stort wat my aangluur. Hierdie dinge gebeur. Manstudente is mal. Waarom? Volgens dié toneelstuk omdat “die meeste van ons pa’s alkoholiste was”. “Ons wou ’n nuwe generasie fokops wees.” Oor Wilgenhof: “Ons het so hier aangekom, die plek was in sy moer.”

En sure, baie van wat hier vertel word, ís net studentepret (van dit definitief nié), en dis nie noodwendig Wilgenhof-spesifiek nie, maar deurgaans voel dit of die verteller hom hier ook verdedig teen een of ander “militante feminis”. Ons leef vandag in ’n era waarin baie mans enige kritiek as ’n aanval ervaar. Mans kan nie meer sê wat hulle wil nie? Bullshit. Hier het ons dan ’n hele play wat nou by ’n tweede kunstefees opgevoer word (by die Vrystaatse Kunstefees het dit pryse gewen) waar een man presies sê wat hy wil! Gevolg deur luide applous en staande ovasies.

Telkemale word daar in die teks verwys na die soort mense vir wie hierdie soort materiaal aanstoot sal gee. Dit gaan gepaard met ’n swoosh in die heup en ’n pols wat wil-wil slap word. G’n aanstoot hier nie, net verveling.

Telkemale word daar in die teks verwys na die soort mense vir wie hierdie soort materiaal aanstoot sal gee. Dit gaan gepaard met ’n swoosh in die heup en ’n pols wat wil-wil slap word. G’n aanstoot hier nie, net verveling. 

Die gedagte dat enige kritiek oor mans se twyfelagtige gedrag ’n aanval op manlikheid – of Wilgenhof – is, is dus hier volop. “Hoekom gaan ’n sensitiewe ou Willows toe?” vra die een karakter. ’n Vraag wat al holrug gery is. Ek wil sê: Want sensitiewe ouens hou daarvan om na baba-arms in die storte te kyk.

Ek het met alles in my gehoop hierdie toneelstuk is nie ’n komiese gesanik oor mans wat nie meer kan sê wat hulle wil nie. But alas. Mense sal sê dis nie so diep nie; dis net ’n oppervlakkige play oor poetse. Lag ’n bietjie. Dis ook wat Oupa in die openingstoneel probeer benadruk.

Sure, oukei, kom ek benader dit van daardie hoek af. As hierdie net ’n verskoning is vir Vorster om vyf verskillende karakters te speel, doen hy dit goed. Hy is ’n baie bekwame akteur, soos ons nou al teen hierdie tyd weet. Hy doen oortuigende karakterwerk (in hierdie show is dit nie die eerste keer dat ek sy Steve Hofmeyr-nabootsing sien nie), en hy kan die gehoor lees. Hy weet waar om die pause-knoppie te druk, of waar om dinge ’n bietjie vinniger te laat vloei vir ekstra woema.

Hy vra ook vrae: Wanneer is ’n ouer man se waardering vir ’n vrou grillerig, wanneer is dit ’n misdaad en wanneer net hartseer? Dalk is dit ook net ’n stuk oor “ou mans wat naarstiglik vasklou aan die goeie ou dae”.

Dalk.

In die tennisspeler Andre Agassi se outobiografie, Open, vertel hy hoe sy eksvrou, Brooke Shields, ’n foto van Steffi Graf teen die yskas geplak het omdat sy graag bene soos Steffi s’n wou hê. Sy huidige vrou, Steffi, was onwetend vir sy eksvrou ’n inspirasie.

Arme Steffi, die dinge wat sy onwetend inspireer.

*

Gebou soos Steffi Graf
18 OKT 16:30 | 19 Okt 10:00
70 min | Spier-ouditorium
R200-R250 | R230-R280 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn