SPIER TONEEL

Speelse ‘Tjebolang’ so bedwelmend soos soet wierook

Produksie: The Fugue of Tjebolang
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht 

Die guitige en speelse drama The Fugue of Tjebolang funksioneer tegelykertyd as ’n pelgrimstog en as toonvenster van ’n kultuur waar mitologiese beelde, volksvertellings en kontemporêre realiteite met mekaar in gesprek tree. In die Javaanse kultuur is die erotiese glad nie so ingekerker in ’n moralistiese dwangbaadjie nie, skryf Marina Griebenow.

The Fugue of Tjebolang is ’n uittreksel uit die Surat Centhini, ’n epiese werk uit die 18de eeu wat beskou word as ’n hoogtepunt van die Javaanse letterkunde en ’n ware kultuurskat van daardie land. Die oorspronklike werk beslaan 12 volumes (meer as 4 000 bladsye!) en bestaan uit verskeie elemente soos onder meer wyshede van die Sufi-geloof, erotiese verhale, resepte, liedere en volksverhale.

Genadiglik spits die bekroonde teatermaker Rehane Abrahams haar toe op ’n enkele verhaal: die reis van Tjebolang, ’n jong man wat op die laaste dag van Ramadaan ewe rebels sy pa, die sultan, inlig hy vat nou die pad saam met vier van sy vriende. Hulle gaan op ’n soektog na die wetenskap, oftewel die essensie van geluk, sê hy. Rehane gebruik vir haar verwerking ’n vertaling deur ene madame Elizabeth Inandiak, wat haar weergawe “Forty Nights and One of Rain” noem.

Die drama funksioneer tegelykertyd as ’n pelgrimstog en as toonvenster van ’n kultuur waar mitologiese beelde, volksvertellings en kontemporêre realiteite met mekaar in gesprek tree. Rehane beklemtoon ons moet in gedagte hou dat die erotiese in die Javaanse kultuur hoegenaamd nie so ingekerker word deur moralistiese dwangbaadjies nie. Die gevoel van die drama is dus oorwegend geestig, guitig en selfs speels. Dít word beklemtoon deur malse kleure en beelde wat die vyftal op hulle reis omring en vergesel.

Vir die jong mans is dit natuurlik aanvanklik bloot ’n verkenning van die seksuele. Daar is geen inhibisies nie en nog minder grense of perke van gender, getal of geografie. Hulle sien, doen en beproef alles en almal. Dié bedrywighede bereik egter uiteindelik ’n versadigingspunt en dan kom die reis by sy werklike doel uit: die omskakeling na ’n spirituele pelgrimstog met selfkennis as die einddoel. Amper soos die verlore seun keer Tjebolang terug na die huis van sy vader wanneer hy die staat van spirituele verligting bereik.

The Fugue of Tjebolang is presies die tipe toneelstuk wat ’n mens hoop om by ’n fees raak te loop. Dit is buitengewoon, eksoties en ryk aan tekstuur wat regie, spel en ontwerp betref. Juis daarom is dit jammer dat die gehoor met die opening hier by die Woordfees so skraal was. Tog was dit verrassend dat die oorgrote meerderheid wat daar was, gryskopvroue soos die uwe was – selfs ouer. Nie een van hulle het ongemaklik gelyk met die volwasse inhoud en aard van die drama nie. Trouens, hulle het heerlik gelag toe dinge humoristies was en stip gekonsentreer op die digte teks soos dit nodig was.

Cheshire V, oftewel C.C. Martinez, vertolk die rol van Tjebolang. Sy vriende is Sizwesandile Mnisi as Nurwitri, Lukhanyiso Skosana as Saloka, Muzaffar Hendricks as Kartipala en Tylo Ras as Palakarti. Saam is hulle ’n formidabele ensemble vormwisselaars (shapeshifters) aan wie ’n mens nie altyd ’n spesifieke gender kan toeskryf nie. Dit verhoog die erotiese aard van die teks en bly sodoende getrou aan die voorskrifte van die oorspronklike. Lukhanyiso se sangstem, nes met haar optrede in Rehane se bekroonde stuk Womb of Fire, bly ’n openbaring en ’n vreugde. Cheshire V en Sizwesandile se frenetiese pas de deux is ’n hoogtepunt.

As geheel is The Fugue of Tjebolang nie ’n drama wat mooi broodjies bak, paai of verduidelik nie, maar een wat uitdaag en meevoer. Dit vra bloot van die gehoor om deel te word van die fugale struktuur – om patrone te identifiseer, verbande raak te sien en betekenis te ontsluit. Jy hoef jou net oor te gee aan wat voor jou afspeel. Dit is amper bedwelmend, nes die soet reuk van wierook in die ouditorium as jy instap. Die produksie staan as ’n kragtige voorbeeld van plaaslike teater wat nie net stories vertel nie, maar ook vorm en taal vernuwe om die veelstemmigheid van die land aan te vul. Op dié wyse vind die kroon van die Javaanse letterkunde ook in ons samelewing ’n plek en kry Rehane haar sin: dat ons moet onthou dat die slawe wat uit Java na Suid-Afrika gekom het, ook filosowe, geestelikes en beoefenaars van die mistisisme ingesluit het. * The Fugue of Tjebolang 18 OKT 15:30 & 18:30 | 19 OKT 16:00 Adam Small-laboratorium
Facebook
Twitter
LinkedIn